Op Boeries se stoep vir ontbyt PDF Print E-mail
News - Vreethans
Thursday, 25 September 2014 16:55
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Op Cullinan kon jy nog altyd ‘n kulinêre reis om die wêreld aandurf, kan jy maar sê. Jy kon ‘n tongtog deur Griekeland, Italië, Portugal, Duitsland en plek-plek oor elders heen vat, maar sou jy na tradisionele, of Boerekos dan, verlang, moes jy dit maar meestal self by die huis aanmekaarsit. Maar nie meer nie . . .

In ‘n historiese ou hoekhuis op Oaklaan en Hotelstraat se hoek het ‘n kuierplek oopgemaak wat hulle Boeries Deck noem. Nie Boerestoep nie, want volksvreemdes moet seker ook verstaan . . .

Hier kan jy nou aansit agter ‘n potjie skaapafval (net pens-en-pootjies en gekerrie), of ‘n beessterpot teen R120. Jy kan weglê aan ‘n lamstamatiebredie met boontjies of ‘n wildspotjie teen R95, of aan ‘n skenkelpot teen R130. Jy kan kies of jy pap, stampmielies of rys daarmee saam wil eet. En jy kan egte souskluitjies met kaneelsuiker of malvapoeding vir nagereg teen ‘n skamele R25 bestel.

Die spyskaart bied nog ‘n aantal keuses onder ‘hoofgereg’, maar dié neig weg van boerekos, soos ek dit verstaan. Die biltong-en-pasta-pot kan seker deurgaan as ‘n F1-kruising. Dit kos R115.


Die Boeries-ontbyt wat hulle Baas noem. Alles in ‘n potjie

Daar is ‘n hele aantal voorgeregte om uit te kies by Boeries se dek, maar ek is effe teleurgestel om nie erfkos soos skilpadjies of pap-en-kaiing onder die keuse van agt voorgeregte te sien nie. Dis die standaard slakke en gevulde sampioene en ‘n Avo Ritz en só. Jy kan wel die kaiings-en-pap vir ontbyt bestel.

Onder die nege slaaikeuses tel ‘n soetsuur beetslaai, ‘n broodslaai, aartappelslaai en ‘n gekerriede perskeslaai. Die slaaie en voorgeregte se pryse blyk meer as billik te wees. Die spyskaart is in Afrikaans en as jy nie verstaan nie, sal hulle vir jou ‘n ‘menu’ bring. Só hoort dit mos by ‘n Boerekosplek.

Jy kan by Boeries op die stoepdek plaasneem, of in die netjiese binnewerke van die plek, of in die ‘kortjaart’ waar ‘n kinderhemel vir die kleinspan ingerig is.

Ons sit onder ‘n sonsambreel op die ‘dek’. Van binne af bedel Anton Goosen ‘n klein bietjie wyn.

Dis ‘n Sondag en dis jammer dat ‘n paar van die motorfietsjafels wat die dorp oor naweke besoek, nie oor basiese goeie maniere beskik nie. Iemand moet dié ‘baaikers’ tog inlig dat die hele wêreld en sy grootmoer nie dink dis oulik as jy hier in Oaklaan wys presies net hoeveel van ‘n onaardse rumoer jou ‘baaik’ kan maak nie. Nie almal maak só nie, maar genoeg om steurend te wees.


Quentin Prinsloo het gaste by die inwydingsfunksie van Boerie’s Deck in Cullinan vermaak.
Dié funksie was op Sondag 31 Augustus
Foto: Elsabé Maré

Dis vroeg en as ons nie bepaald Boeries toe is om ontbyt te loop eet nie, sou ek beslis die afval met souskluitjies vir nagereg beproef het. Of dalk die tamatiebredie met bone. En ek sou waarskynlik gebruik gemaak het van die feit dat hulle ‘n ‘vol’ dranklisensie het.

Ek waag, na ‘n heerlike blikbeker vol boeretroos, die ‘Boeries Baasontbyt’ van pap, gebraaide uie, paddastoele, spek, eiers en kaas. Ek sê ‘waag’ want dié kom alles saam in ‘n driepootpotjie en ek val manmoedig weg daaraan, maar steek ná ‘n rukkie die witvlag op en vra vir ‘n blikbord. Die ontbyt is vullend en heerlik en die spek is van die dikgesnyde soort en rojaal. Dit kos R57.

Metgesel bestel ‘n gevulde pannekoek onder ‘n dik kaassous. Dit is met hoender-mayo gevul, maar jy kan ook maalvleis kies. Sy eet lekker en lank aan haar pannekoekontbyt. Lekker, oor sy sê die vulsel is onverbeterlik en lank oor dit ‘n baie vol gevulde pannekoek is. Dit kos R35.

Ons kelnerin, Agnes, bewys haar as ‘n voorslag en verdien ‘n pluimpie vir haar vriendelike, vinnige diens en haar keurige Afrikaans.

Jy kan die mense van Boeries Deck bel by 076-848-4018.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online