Kwinkslae uit twaalf jaar se kuiers saam met Vreethans PDF Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 25 September 2014 16:54
Untitled Document

Met sy heel eerste bydra in September 2002, het Vreethans van Heerden reeds gewys dat hy nie juis jou deursneë restaurant-resensent is nie. Sedertdien het Vreethans en Metgesel honderde kuierplekke in die Bronberg-gebied besoek en daaroor verslag gedoen. Ons het uit elk van die Bronnie se 12 bestaansjare, kort uittreksels uit twee van ou Vreethans se resensies geneem, wat sprekend is van sy eiesoortige manier van ‘n ding sien en dit dan sê. Daarmee saam wys ons enkele van die geregte wat langs die pad verorber is.

Nikos, September 2002: “Dis asof ek vir die naweek plaas toe gaan. Die huismense is regtig bly om my te sien en ‘Ma’ het spesiaal my gunsteling gereg voorberei.”

Leribisi, November 2002:“Metgesel meen hare is ‘n baie dapper keuse, omdat dit nie sommer almal is wat ‘n seekosroerbraai verstaan nie. Ons wag net twee drankies lank vir ons kos.”

Shovels, Desember 2003: “Ek en die drie bosvelders besluit op die allegaartjie, maar Metgesel het mos nie juis ‘n voorliefde vir soogdiere nie. Nie dat sy iets teen soogdiere het nie, trouens dis juis deels oor haar groot liefde vir die goed, dat sy verkies om hulle nie te eet nie. Sy bestel die hoender-en ribbes-kombinasie - sonder die ribbes.”

Friends, Feb 2004: “Ons drankies word uit die oulike kroegie aangebring en in die verbygaan, steek ‘n kortbroek-kêrel (blykbaar die standaard uniform op Rayton) by ons vas met die mededeling dat die dam wat ek by my dop gebruik, uit sy persoonlike boorgat kom. Met dié kardinale stukkie kennis in pag, sleep ons die spyskaart nader en is verbaas oor die verskeidenheid.”

Formosa, September 2004: “Tussen die verskeidenheid burgers op die spyskaart, sien ek ‘n Nolsburger (Dagwood) en besluit summier daarop. Ek het baie lanklaas iets dergeliks aangedurf. Destyds op Mosselbaai het ‘n plaaslike kafee-eienaar ‘n oordadige Nolsburger ontwerp wat hy toe opsluit ‘n ‘Gedoente’ gedoop het.”

Cullinan Stasie, Oktober 2004: “Jy kan in die ou wagkamer en stasiekantore of buite op die perron langs die spoorlyne sit. Ons verkies buite waar ‘n paar gesinne uitgelate kuier en weglê aan smulkos en/of drankies, terwyl die kinders, met toestemming, op die treinspoor speel.”

Cool Cats, Desember 2005: “Nou is ek nie een wat sommer ‘n goed voorbereide varkensskenkel aan die bek of poot kyk nie, maar vir my moet ‘n eisbein wat sy sout werd is, goed gepekel wees.”

Farm Inn, Februarie 2005: “Die lamskerrie vat lekker aan die tong, maar laat los gelukkig net voor dit té erg vat. Dis sag, sonder om pap te wees en sousig, sonder om sopperig te wees.”

Cape Town Fish Market, Oktober 2006: “Sommige mense sou dink dis half vermetel vir ‘n kuierplek met die naam ‘Cape Town Fish Market’ om sy deure in die hart van Bloubulwêreld te kom staan oopmaak. Maar ek dag toe so op my eentjie – dis seker maar reg só, want al weet hulle nie eintlik veel van rakbie nie, weet die visvoete tog sekerlik iets van seekos af.”

Amazons, Februarie 2007: “Die verkeersrumoer hier op Lynnwoodweg se skouer, is nie juis bevorderlik vir ‘n ou wat na ‘n rustige uitspanning verlang nie. Jy sou dan eerder by een van die baie tafels binne wou sit, waar die klank oorheers word deur die vallende en kabbelende waters in die fonteintjies en die watervalletjies. Op sy beurt nou weer nie aan te bevele vir ‘n ou met ‘n reaktiewe blaas nie.”

Coco Bistro, Oktober 2007:“Jy kan verstaan dat die kuierplek vlak langs Mooikloof sit en dat Mooikloof sy kwota perde en perdestalle het. En dat dit op sy beurt noodwendig vir ‘n goeie kwota vlieë sorg. Nee, ek wil nie sê dat die plek tjokkenblok vol vlieë was nie – allermins. Maar die rooikopkêrel wat op ‘n kol met sy rooi vlieëplak jag op die enkele pestilensies tussen die tafels gemaak het, sou dalk die meer sensitiewe restaurantklant tot ‘n nare ongemaklikheid kon stem.”

Adega, November 2007: “Ons bevind ons dus op dié warm Vrydag op die stoep van ‘n Portugese restaurant waar ‘n flinke kelner ‘n wynlys voor my neerplak nog voor my sitvlak met die stoel kon kennis maak. En dis met die oopmaak van dié wynlys dat ek so byna my eet- en veral my drinklus skoon wegskrik.”

Kitty Hawk, Mei 2008:“Die vriendelike kroegman is eintlik ‘n bakker van beroep, hoor ons later. Dit sou seker in bepaalde Bybelse omstandighede verwarrend kon wees om die skinker en die bakker in een mens te hê, maar vir die restaurant kan dit baie voordelig wees, dink ek.”

Ed’s Diner, Julie 2008:“Jy kry my mos nie maklik in ’n ‘môl’ nie. Maar gelukkig sit Ed’s Diner heel aan die buitekant van die een wat hulle Woodlands roep – glad nie nodig om sielevrede en goeie maniere op die spel te plaas, deur dit die winkelsentrum binne te waag nie.”

Sambok Bar, September 2008: “Al het Matewis my gewaarsku dat die pasteie nie “tuisgemaak” is soos wat die spyskaart sê nie, het ek tog besluit om een aan te durf. ‘n Hoenderpastei. Dit is immers tuisgemaak daar waar dit gemaak is, voordat Sambok dit aangekoop het, redeneer ek.”

Koffietijd, November 2008: “Dit was aankopiedag vir ons by Farm City se koöperasiewinkel. Met die perdekos, suip-krip, dipstof en allerlei op die bakkie gelaai, laat weet my maag vir my kop hy moet my bene in ’n rigting stuur na ’n plek waar die innerlike versterk kan word en sommer gou ook.”

O’ Galito, September 2009: “Wysgere en filosowe het dit deur die eeue heen uitgewerk dat ’n ou se lewensgeluk en sy suksesse of mislukkings afhang van die keuses wat hy maak, of nie maak nie. Die waarheid van dié wysheid het my weer soos ’n visklap getref toe ons op ’n onlangse Sondag afsit Woodlands toe om Portugees te loop eet by O’ Galito.”

Nuvo Cuisine, Augustus 2010: “Gewoonlik is ek half versigtig vir ‘elegante’ restaurante wat hulle toespits op ‘mooi kos’. Want al te dikwels moet jy deur jou nek betaal vir piepklein, pragtige-mooi dissies wat jou heelwat armer en nog net so honger, los. Nuvo Cuisine in Old Farm Road is ’n elegante plek wat ‘mooi kos’ voorsit, maar dit wat ons daar beproef en ervaar het, is meer as die moeite en die effense stywe pryse werd.”

Pascali’s, Oktober 2010: “Die naam ‘Trattoria’ het niks met Pascali’s se ligging in Tshwanetoria te make nie. ’n ‘Trattoria’ is ’n eetplek wat volgens die (regte) Italianers nie heeltemal so grênd soos ’n ‘ristorante’ is nie, maar ook nou nie so ‘kommin’ soos ’n ‘osteria’ is nie.”

Rhapsody’s, Februarie 2011: “Toe die bord voor my beland, het ek eers gedink hulle het die bestelling verkeerd gekry. Dié van julle wat gedroogde mopaniewurms ken, sal ’n goeie idee kan vorm van hoe die agt gemartelde, piepklein stukkies lewer op die bord gelyk het. Siestog. man!”

Broodblik en Koffiepit, Augustus 2011: “Suster vertel dat al die diere op die plaaswerf se name verwant hou met hulle produkte. Die vet hondjie is byvoorbeeld Muffin en die perd is Chelsea Bun. En die hoenderhaan wat gereeld die stoep so bemors se naam is Beskuit . . .”

Sandwani, Desember 2011: “Want hier kry jy ‘n onpretensieuse kuierplek waar die welkom warm en die drank amper verniet is. Ons val in by die Wawiel op ‘n lekker hetige, dors November-Sondag. Vriend Robert Denton het my van die plek vertel. Hoe meer jy daar drink, het Robert gesê, hoe meer spaar jy.”

Cedar Junction, Januarie 2012: “Want hier kan die kleingoed en die groter goed – weg van die aai-podde en die aai-padde en sonder die lêptoppe, die mieks-ietse en die vleisboeke en ver van die twitte en die twatte en die tievie en die groot dorp se malle en sy môlle – speel en ervaar soos wat kinders bedoel is om dit te doen: Buite, onder die blou hemel, in die natuur.”

Tsunami, Januarie 2013:“Hier, dink ek toe in my binneste, is ‘n voorbeeld van oorgrens-samewerking en détente wat vir die ou wêreld as voorbeeld kan dien: Want neffens mekaar ingeryg op dié saai stoep, sit restaurante wat hulleself uitgee as Noord-Indies, Italiaans, Oosters (Oriental) en op die punt oos van hulle, ‘n seekos ‘emporium’ met ‘n Mosambiekse, Japanse en Suid-Afrikaanse ‘invloed’. Merkwaardiger nog, as jy in ag neem dat al dié eetplekke aan ‘n enkele Sjinees behoort.”

Gallery Connection, Mei 2013: “Vandag verklap ek een van daai “bes bewaarde geheime” waarmee ‘regte’ resensente so graag te koop loop. Teen die hang van die Bronberg, in die hart van die woelige Faerie Glen is ‘n uitspanplek waar die stilte jou omvou; ‘n verskuilde kuierplek waar jy sielerus vir die gemoed en heilsame spyse vir die binneste kan geniet.”

Lakelands, Oktober 2013: “Ons gesels soos vriende wat mekaar lank ken. Dan steek Frank, die groot kok wat ook ‘n ‘regte werk’ het, ‘n wysvinger lugwaarts. “Hoor julle dit,” vra hy. Ons hoor die mini-koptertjie wat van Kitty Hawk af opgestyg het, verbybewe. “Nou wel nie ‘n Boeing nie, maar dit doen dieselfde jop,” sê Frank. “Wat wil julle drink?” Ons bestel van daai soort wat jy gebruik as die Boeing verby is.”

Brillante la Mia, November 2013: “Hier het hulle, met die weglê snorre en knypbrilletjies, ná ‘n vyfgangmaal in hulle onderbaadjiepakke aan dik sigare en kromsteel pype getrek en klein slukkies uit bolwang konjakglase geniet. Dae wat verby is, maar met ‘n klein bietjie verdere moeite, weer herleef sal kan word.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online