Voorblaaie beeld gebied uit PDF Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 25 September 2014 16:29
Untitled Document

Van meet af aan, met daardie heel eerste uitgawe in September 2002, is gepoog om die Bronnie se voorblaaie gepas plaaslik te hou. Tonele, mense, diere en gebeure eie aan die omgewing, het sedertdien op ons 144 voorblaaie gepryk. Ons het een voorblad uit elke bestaansjaar gekies wat die landelike leefwyse in Die Bronberger se verspreidingsgebied uitbeeld.


In Augustus 2003 was die wêreld in Olympus en Zwavelpoort nog oop en wyd. Esperance Grobler ontspan hier by ‘n ou windpomp in die veld wat deesdae ‘n landgoedontwikkeling huisves


Die bobbejaansterte het in November 2003, ná bergbrande en goeie reëns, vol in die blom gestaan op die kruin van die Bronberg. Angelika de Beer, wat toe knap as dié jaar se Mej Oktoberfest gekroon is, het na dié pers verskynsel gaan kyk


Dit was kosmostyd in Maart 2005 en die plan was om Alexa Swart by dié veldblomme in Bashewa/Rietfontein af te neem en ons het dit ook gedoen. Maar die foto wat die voorblad gehaal het was dié een van Alexa, dogter van Braam Swart, op ‘n grasbaal met ‘n enkele kosmosblommetjie in die hand


Stortreëns in Februarie 2006 het die strate van die Mooikloof Landgoed in waterstrome omskep en Son-Isha Coetzee het die kans aangegryp om ‘n bietjie waterpret te hê


Vroeë reënwolke oor die suidelike deel van die Bronberg-gebied het in Maart 2007 ‘n merkwaardige loergat vir die son oopgemaak


Die son het ‘n manier om met ‘n oormaat van vertoon in ons gebied onder te gaan. Die foto is in Januarie 2008 geneem, met die bouval by ‘n gewilde Tierpoortse restaurant in die voorgrond


Genoeg winterweiding, in Junie 2009, vir die Simmentalers op ‘n bekende stoetplaas in Klipkop se wêreld


Die mense wat gemoeid is met misdaadbekamping in die Mooiplaats/Zwavelpoort/Tierpoort omgewing (MZT) het in Mei 2010 in hulle honderde opgeruk met ‘n vertoon van beveiliging in die gebied. Die konvooi beweeg hier in papnat weer verby Tweedracht en Rhenosterfontein


Gesoute inwoners meen Cullinan se Jakarandas was in Oktober 2010 so mooi as wat hulle maar kan kom. Tanika Grobler het voor een van die grootste en oudste pers reuse van die dorpie gaan sit vir die foto. Dié ou Jakaranda is intussen deur die nuwe eienaar van die erf waarop dit gestaan het, gesloop


Dié kalmerende toneeltjie is in November 2011 op ‘n plaas met die gepaste naam van Rustfontein, naby Bronkhorstspruit geneem. Elke jaar in November word Moerbeifees op dié plaas gehou


In April 2013 het At van Doorndraai op ons voorblad gepronk. At is van die bekroonde Doorndraai Friesperd Stoet op Zwavelpoort. Die fotograwe is Hennie en Heather van den Berg van H2 Photography.


Dié baie ongewone Kersfeesboom kon in Desember 2013 by die Grootfontein Landgoed se ingang gesien word. Die kleurvolle sterre is deur Rudi Aschenborn uit herwinde plastiese koeldrankbottels gemaak. Rudi het ook die foto geneem

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online