Mense maak gebied merkwaardig PDF Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 25 September 2014 16:27
Untitled Document

Oor die afgelope 12 jaar het Die Bronberger sy lesers aan menige merkwaardige mense van ons kontrei voorgestel. Jy besef eers hoeveel dinge oor die tyd verander het, as jy sien hoeveel van dié mense nie meer met ons is nie. In ‘n terugblik onthou ons ‘n dosyn van dié ontmoetings uit ons 12 bestaansjare.

Lila se sebra

Lila Oechler het Nyamazan, die Zulu-woord vir ‘klein diertjie’, as ‘n sewe-maande oue Burchell sebra-vul op ‘n wildplaas net buite Pretoria aangekoop, vertel ons in Mei 2003. Ons het van die lang proses om Nyamazan se vertroue te wen, vertel. Die uiteinde was dat Lila hom kon ry met ‘n stanglose toom, en dat hy so mak geword het dat selfs haar honde op sy rug kon sit.

Lila sê dat ‘n sebra omtrent vyftig keer slimmer is as ‘n perd en dat Nyamazan binne tien minute geleer het wat van hom verwag word in die ring; dat hy ongelooflik vinnig leer spring het; en ook sonder probleme in ‘n perdewaentjie leer klim het.

Hans se kuns

In Junie 2003 vertel ons dat die bekende koerantman en skrywer, Hans Strydom, in Zwavelpoort afgetree het. Hans het vertel dat teken nog altyd sy stokperdjie was, maar dat kontrei-kuns ná sy aftrede sy redding geword het.

Hans was die skrywer van ‘The Super Afrikaners’, ‘Afrikaner Cameos’ wat as ‘Volkstaat Blues’ deur Des en Dawn Lindberg opgevoer is, en ‘For Volk & Führer’ wat as ‘The Fourth Reich’ verfilm is.
Hy het 30 jaar as joernalis by verskeie publikasies gewerk en die laaste 12 jaar daarvan as nuus- en assistant-redakteur van die ‘Sunday Times’. Hans is in Maart 2004 oorlede.

Boy’s own cheetah

In January 2004 we reported that 13-year old Alexander Michaletos, son of Pedro and Rose Michaletos of the Farm Inn, and his pet cheetah, Anthony, played the leading roles in a movie. The movie was based on a true story about a young boy Xan who ran away from home with his pet cheetah Duma.

The film took three and a half months to shoot at 75 different locations across southern Africa, from the Cape to Krugersdorp, Johannesburg, Mpumalanga’s gorges, Upington’s Kalahari, the Vaal River’s rapids and the Okavango.

Victor se humor

In Mei 2005 het ons by Victor Strapp in die Paul Jungnickelhuis vir gestremdes gaan kuier. Ons het vertel dat, alhoewel hy aan spier-distrofie ly wat hom aan ‘n rolstoel vaskluister en maandeliks meer afhanklik van sorg maak, Victor nie mooi inpas in die prentjie wat mense gewoonlik het van hoe ‘n gestremde behoort te wees nie.

Ons het vertel dat die 28-jarige Victor ‘n sterk sin vir humor het en nie skroom om met homself die spot te dryf nie. Hy was vol plannetjies vir dinge wat hy nog wil doen en kon ure lank praat oor die ondernemings waaraan hy al sy hand gewaag het.

Sam se oorlog

In Junie 2006 het ons die storie van eks-vegvlieënier, Sam McMurray, se eskapades in Afrika se oerwoude en woestyne in die Tweede Wêreldoorlog vertel. Sy verhale het gestrek van geheime sendings, gedwonge landings en die onheilspellende geluid van Afrika tromme tot ‘n oorlog-brief van ‘n gesneuwelde kameraad wat 44 jaar laat afgelewer is.

Sam is op 8 September 2008 na ‘n kort siekbed oorlede. Sy Mooiplaatsbure onthou hom as persoon wat eerste daar was om te help vuurslaan, plaaspaadjies reg te maak of sommer, net so terloops, jou boorgatpomp te maak werk.

Bashewa se Breytenbachs

Die eerste Breytenbachs het in die vyftigerjare op Bashewa aangekom en ’n lewe rondom die oorspronklike 1908 opstal van die Erasmusplaas, Rietfontein, begin bou. Oor die jare het die oudste seun van dié gesin, Francois Breytenbach, kunskenners se belangstelling geprikkel met sy koper skeppings, kaalvoete, wilde boskasie en boheemse bestaan in dit wat hy sy kaias noem. Ons het in Oktober 2007 gaan kyk wat Francois doen en hom voor die geskiedkundige opstal saam met sy dogter, Giuliette, en vrou, Annette, afgeneem.

Adele se leeus

“As daar nie ’n leeu iewers brul of ’n luiperd rondsluip nie, moet jy maar wonder of ek die boek geskryf het,” spot Adele Reynders in ons April-uitgawe van 2008. Adele is ’n kunstenaar wat liefdesverhale begin skryf het.

Ons het ’n middag saam met haar op die Mooiplaats-plot waar sy gewoon en werk het, deurgebring.

Adele het bekend geword as kunstenaar met ’n groot liefde vir die bos en al sy inwoners. Toe die skryfgogga haar egter byt het sy, soos sy dit stel, met ’n “bang” weggespring en nege liefdesverhale in ongeveer twee jaar geskryf.
 
Oom Hoffie se sketse

In Januarie 2009 het lesers Shere se Oom Hoffie ontmoet, ’n 95- jarige wat toe steeds daagliks geskilder het en een van die eerste huise in Shere met sy eie hande gebou het. Hy het vertel van sy sewe jaar in ’n interneringskamp in die Tweede Wêreldoorlog waar hy ’n viool met ’n knipmes uit ’n stuk tafel gemaak het. Dié en ander avonture is vervat in sy outobiografie, “Skizze eines lange Lebens” (sketse uit ’n lang lewe) deur Georg Hofmann.

Cullinan se ‘dog whisperer’

Stewart Douglas-Rose is nie jou alledaagse bedelaar nie, berig ons in Desember 2010. Die geld wat in sy kollekteblikkie gegooi word, gebruik hy grootliks om vir sy ses optelhonde, wat hom op sy kollektetogte vergesel, te sorg. Die honde is goed versorg, baie goed gemanierd en gehoorsaam.

Nie een van hulle is meer jonk nie. Almal is reggemaak, word gereeld gebad en kry hulle inspuitings wanneer dit moet. Hoe kry hy dit reg dat die honde so gehoorsaam is? Hy verstaan hulle en hulle verstaan hom, sê Stewart. “Dit gaan alles oor wedersydse respek en oor liefde.”

Faan se nalatenskap

‘n Bronberger wat diep spore in dié gebied getrap het en ‘n groot vriendekring gehad het, Faan Smuts, is op 26 Augustus 2011 oorlede, vertel ons in September 2011.

Faan het as boer en rugbyspeler uitgeblink en vir Rhodesië op flank gespeel. Die vriendskap wat hy met mede-rugbyspelers gevorm het, het deur die jare sterk bly staan. Faan was ‘n mede-eienaar van die destydse Rhodesia Motors in Pretoria, het ‘n vliegtuig aangeskaf waarmee hy en sy vriende die land vol gevlieg het om te gaan rugby kyk, was in die boubedryf en die restaurantwêreld.

Sy eerste restaurant was Legends in die Moot. Daarna het hy Kringe in die Bos bedryf voor hy en sy vrou Issie die Bronberg Lodge op hulle Zwavelpoort-plot oopgemaak het. Faan was een van die stigterslede die Suid-Afrikaanse Skaapkop- en Afvalgilde.

Sprokie se einde

In Oktober 2011 het ons in ‘Trekklavier kry Vic se Kay in sprokiesromanse’ berig dat Kay Williams vir Vic du Preez die jawoord gegee het voor sy hom ooit ontmoet het; slegs twee dae nadat hulle per e-pos vir mekaar begin skryf het.

Vic het sy trekklavier op die Internet te koop aangebied en 28 navrae binne een dag gekry. Een daarvan was van ‘n Mooiplaatser genaamd Kay. E-posse het heen en weer gevlieg en binne twee dae het Vic vir Kay gebel en haar gevra om met hom te trou. Kay het dadelik ja gesê.

Dié trekklavier-troupaartjie het op 31 Maart 2012 by Kitty Hawk se klubhuis in Boschkop die knoop deurgehaak. Teen die einde van April het hulle na die Natalse suidkus verhuis.

Vic du Preez het op 10 November 2013 aan ‘n hartaanval beswyk.

Dirk se konserte

In Junie 2013 het ons die ongewone lewensloop van ‘n kleurryke, musikale NG dominee met lesers gedeel. Dit is nie aldag wat ‘n mens die konsertverhoog met ‘n dominee vereenselwig nie, veral nie as dié dominee soos ‘n nar vir sy grappige konsert aangetrek is en sy boodskap in helder gestreepte kouse lewer nie.

Afgetrede predikant, Dirk Myburgh van Brummeria het ‘n operette, kantate en die woorde en musiek van 113 amptelike skoolliedere gekomponeer en geskryf. Hy hou ook patentregte vir sy ontwerpe van 'n nuwe klavieraksie, die huisvrou se vleissagmasjien en die motor se hoof- en domplig verstellings.

Sedert sy aftrede het hy verskeie boeke geskryf en ‘n digbundel uitgegee.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online