Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 26 August 2014 08:44
Untitled Document

Angie Kleijn

Dié is die verhaal van ‘n Boere ‘James Bond’ wat die Russe in die geheim vir hulp genader het om die Britse juk af te werp.

Ná die Engelse Oorlog was selfs ‘n Russiese protektoraat oor Suid-Afrika vir Frans Pienaar beter as Britse heerskappy. So sê Professor OJO Ferreira, voorheen verbonde aan die Universiteit van Pretoria se Geskiedenis-departement.


Kmdt NJ Grobler, genl FJ Pienaar en kmdt HP Mostert in Lourenco Marques voor
hulle vertrek na Portugal in 1901
Foto: Oorlogsmuseum Bloemfontein

Prof C de Jong, vroeër van die Universiteit van Suid-Afrika, sê dat die Skotse skrywer, John Buchan, se boek, ‘Greenmantle’, glo op Frans se ervarings gebaseer is. Frans is op 15 September 1900 as veggeneraal aangestel en is vanaf 1901 saam met sy vrou en kinders in ‘n klooster in Portugal geïnterneer.

Hy was die oom van JJ Pienaar (1877-1966), wat van 1938 tot 1948 administrateur van Transvaal was. FF Pienaar, wat van 1939 tot 1946 minister van die Unie van Suid-Afrika in Lissabon was, en die skrywer van ‘Op Kommando Met Steyn en De Wet’, was Frans se neef.


Genl FJ Pienaar, sittend, drie van sy seuns en sy neef in die Klooster van
die Orde van Christus in Portugal
Foto: Transvaalse Argiefbewaarplek, Pretoria.

Herkoms
Francois Jacobus Pienaar was die negende van Johannes Jacobus Michiel Pienaar en Adriana Margaritha Joubert se 16 kinders. Hy is op 21 August 1856 op Fauresmith in die Vrystaat gebore en is op 19 Oktober daar gedoop. Hy het sy van in 1903 amptelik na Joubert-Pienaar, ter ere van sy ma, verander.

Die name van die ander 15 kinders was: Johannes Jacobus, Aletta Sophia, nog ‘n Johannes Jacobus, Cornelia Catharina, Gideon Daniël, Petrus Jacobus, Petrus Arnoldus, nog ‘n Petrus Arnoldus, Cornelia Johanna Jacoba, Adriana Margritha, Jotham, Martha Louisa, Alice Maria Magdalena, Margaritha Louisa en Frank Williams.

Voor die gesin na Fauresmith getrek het, was Frans se pa ‘n perde- en skaapboer op die plaas De Poort in die Colesberg-distrik. Op Fauresmith was hy ‘n Volksraadslid van die Oranje-Vrystaat, en veldkommandant.

Die Pienaars is in 1860 Transvaal toe, maar het skaars twee jaar gebly en is in 1862 terug na De Poort.

Frans het rondom 1881 met Anna Maria Kleinhans, wat in 1859 in die Oranje-Vrystaat gebore is, getrou. Hulle eerste kind, Johannes Jacobus, is in 1882 gebore. Daarna volg Theodorus Ernest, Francois Joubert, Gideon Daniël, Frances Magdalena, Ida Anna, Johan Hendrik en die laaste seun, Carlos De Thomar, wat op 11 Mei 1901 in ballingskap in Thomar gebore is en na sy peetvader, koning Carlos I van Portugal, en sy geboorteplek Tomar (destyds Thomar), vernoem is.


Dié tekening van Frans, sy vrou, vyf van hulle kinders en sy neef het op 7 April 1901 in die Portugese koerant, ‘Diario de Noticias’, verskyn

ZAR
Toe Frans bykans 30 jaar oud was, in 1885, het hy en sy vrou en kinders saam met sy ouers na Johannesburg getrek. Frans het verskeie staatsbetrekkings in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) beklee en was later kaptein van die Johannesburgse Vrywilligerskorps.

Toe die oorlog in Oktober 1899 uitbreek, het Frans met 500 manskappe na die oorlogsfront vertrek. Hulle was die eerste Boere wat ’n Britse trein in Natal buitgemaak het. Twee van Frans se seuns, die 17-jarige Johannes en 15-jarige Ernst, het op 21 Oktober 1899 as penkoppe saam met hom aan die slag by Elandslaagte, onder genl Ben Viljoen, deelgeneem.

Johannes en Ernst is krygsgevange geneem, maar het na agt maande uit die kamp in Simonstad ontsnap. Ernst is egter weer gevang en na St Helena verban, terwyl Johannes die vyand ontduik het en na ongeveer twee maande by Frans se kommando op Bronkhorstspruit aangesluit het.

Frans se vrou, Anna, is ná die Britse besetting van Pretoria ’n maand lank in dié stad aangehou. Sy en haar jongste kinders het met ‘n perdekar ontsnap en het na agt dae by Frans op Bronkhorstspruit aangekom.


Frans en sy gevolg was in die Klooster van die Orde van Christus buite Thomar, Portugal, geïnterneer
Foto: Estelle Mare

Mosambiek
Soos die Britte ooswaarts beweeg het, het meer vlugtelinge, Kolonialers, uitlanders wat aan Boerekant geveg het en Boerevroue en -kinders, Mosambiek as ‘n veilige hawe begin sien. Hulle wou daar wegkruip tot hulle later na die ZAR kon terugkeer.

Op 14 September 1900 is die ZAR-regering se posmeester-generaal, IN van Alphen, en tesourier-generaal, NS Malherbe, gelas om na Lourenco Marques te gaan om daar reëlings oor die versorging van vlugtelinge en goewermentsamptenare wat ongeskik was om kommandodiens te verrig, te tref. ‘n ‘Commissie voor de Refugees uit de ZAR’ is gestig.


Lourenco Marques rondom die tyd van die Engelse Oorlog

Frans is op 15 September 1900, terwyl sy kommando langs die oosterspoorlyn was, as veggeneraal aangestel. Hy en sy gesin het, saam met honderde ander mense, die grens na Mosambiek oorgesteek toe genl Pole-Carew en sy Britse troepe die Komatipoort-grenspos genader het. Pole-Carew het die verlate grenspos op 24 September beset.

Teen middernag van 18 September het meer as 700 burgers hulle wapens in Portugese gebied afgelê. Teen 22 September het die totaal tot omtrent 1 400 gegroei.

Dié mense is deur die Portugese owerheid op ‘n trein gelaai en na Lourenco Marques vervoer, waar hulle geïnterneer is. Weens ’n dreigende koors-epidemie en onvoldoende huisvesting in Lourenco Marques, moes daar dringend ‘n plan gemaak word met dié geïnterneerdes.


Frans Pienaar en sy gevolg is met dieBenguella na Portugal
.
.


Die Alfonso de Albuquerque was een van drie skepe wat 1 100 Boere-geïnterneerdes na Portugal verskeep het. Die ander twee was die Zaire en Benguella

Verskeep
Die ‘Commissie voor de Refugees uit de ZAR’, wat intussen aangevul is deur ouditeur-generaal JS Marais, en WJ Geerling, assistent-hoof van die telegraafdepartement, het gesorg dat buitelandse vrywilligers met die Oostenrykse skip, Styria, na Triëst verskeep is. ’n Paar koloniale Afrikaners en oud-amptenare het die keuse gekry om na Europa of die VSA te vertrek.

Die oorblywendes, met uitsondering van ’n handjievol geïnterneerde burgers wat hulle aan die Engelse owerhede oorgegee het, het vanaf 26 Februarie 1901 aan boord van die transportskepe Benguella en Zaire en die oorlogskip, Alfonso de Albuquerque, na Portugal vertrek. Frans en sy gevolg was op die Benguella, wat op 27 Maart 1901 in Lissabon aangekom het.

‘n Week later het die Zaire daar aangekom en die volgende dag die Alfonso de Albuquerque. Die Boere-geïnterneerdes wat na Portugal gestuur is, het uit 1 260 volwassenes en 173 kinders bestaan. In Lissabon is hulle soos helde met uitroepe van “Lank lewe die Boere!” ontvang en na verblyfplekke in Abrantes, Alcobaca, Caldas da Rainha, Oeiras, Peniche en Thomar geneem. Oortreders is in die fort, S Juliao da Barra, opgesluit.

Die geïnterneerdes is goed behandel en is nie in kampe ingehok nie. Hulle moes net twee keer per dag aan die wagte rapporteer. Daar was mediese hulp, klere en kos van hulp-organisasies in Duitsland, Portugal en Nederland, skoolboeke uit Nederland en onderrig deur onderwysers.

Frans en sy geselskap is met volle militêre eerbewys in Lissabon verwelkom en deur genl Almeida Pinheiro na Thomar begelei. Frans en 13 ander Boere-geïnterneerdes, onder wie sy vrou en kinders, is in die Klooster van die Orde van Christus op ’n heuwel net buite Thomar gehuisves.


Tsaar Nicolaas II van Rusland
.

Carlos I van Portugal was Frans se jongste seun se peetvader .

Repatrieer
Die geïnterneerdes in Portugal is kort ná die vredesooreenkoms tussen die Boere en Britte op 31 Mei 1902 onderteken is, toegelaat om huis toe te gaan as hulle die Rooi Eed onderteken.

Hulle is met die Britse transportskip, Bavaria, terug geneem, en het op 4 Augustus 1902 in Tafelbaai aangekom, waar sommiges afgelaai is en die res verder na Port Elizabeth geneem is. Die Bavaria het op 7 Augustus in Port Elizabeth aangekom waar die mense by ‘n kamp vir bannelinge gehuisves is, voor hulle vrygelaat is. Selfs die vrouens van oud-Kaapse rebelle, wat ’n afsonderlike groep onder die gerepatrieerdes uit Portugal gevorm het, is ook ontslaan.

Die Pienaar-gesin is egter nie in 1902 saam met die ander na Suid-Afrika gerepatrieer nie, en het tot in 1904 in Thomar agtergebly. Daarna het hulle na Angola getrek waar Frans se seuns grootwildjagters en handelaars geword het en hy hom vir die verbetering van arbeiders se werkomstandighede beywer het.

Frans was in 1905 weer terug in Portugal onder die voorwendsel dat hy oor prospekteerregte in Angola wil onderhandel. Sy plan was eintlik om met die Russiese regering, wat toe vyandiggesind teenoor Brittanje was, kontak te maak.


‘n Portugese toneelstuk oor die oorlog tussen Boer en Brit

Russe
Hy het die Russiese gesant in Lissabon, A Koyander, in Februarie 1905 met ’n voorstel genader: Opstande deur ’n halfmiljoen swart mense in Suid-Afrika met Russiese wapens en fondse sal die Britse gesag in die land so verswak dat ’n blanke rebellie teen Brittanje kon slaag.

Frans het dinge mooi uitgedink en gesê dat dit kon werk onder die dekmantel van die stigting van ’n maatskappy vir geologiese ondersoek. Dié maatskappy se skip kan wapens na Suid-Afrika vervoer, terwyl Frans as veehandelaar deur die land kon reis om die nodige ondermyningswerk te doen.

In ‘n geheime verslag het Koyander Frans as ‘n roekelose fanatikus wat vir niks sou terugdeins om die Engelse te benadeel nie, beskryf. Koyander het bygevoeg dat Frans sy saak nie te min verstandig, beredeneerd, kalm en oortuigend gestel het.

Hy het Frans as lank, goedgemanierd, waardig, vriendelik en korrek in sy houding, beskryf. Volgens Koyander was Frans iemand wat sy ondervraer reguit in die oë kon kyk en met volslae selfvertroue gepraat het.


Die deel van die klooster waar Frans en sy gevolg gebly het
Foto: Estelle Mare

Frans het sy plan in die vorm van ’n memorandum aan tsaar Nicolaas II van Rusland voorgelê en het in die geheim met Russiese diplomate daaroor onderhandel. Sy plan is gunstig in St Petersburg ontvang en hy is gevra om vir verdere onderhandelinge na Parys te gaan.

En dit is net daar waar Frans se plan doodgeloop het. Die Russiese gesant in Parys, AI Nelidof, wou nie byt nie.

Tog is dit in Parys waar Frans sy tweede vrou ontmoet het en in die huwelik bevestig is. Sy eerste vrou, Anna, se sterfplek en -datum kon nie vasgestel word nie.

Sy tweede vrou, Stephans Francesca Maris Colette Antoinette Irene Louisa Giselle (De Catinat), het uit ‘n ou Frans-Russiese adellike familie gekom. Sy het ’n groot bewondering vir die Boere gehad, en het Afrikaans vlot leer praat.


Boere-gesinne wag in 1901 op Lourenco Marques se hawe om aan boord te gaan

Kongo
Ná Frans se mislukte onderhandelings met die Russe het hy na die Belgiese Kongo getrek en in die kakaobedryf gewerk. Hy is daarvandaan na Amerika, maar is kort voor die Eerste Wêreldoorlog Frankryk toe om saam met die Franse aan die oorlog deel te neem.

’n Groepie Franse edelmanne het Frans afgevaardig om die Pous in Rome te gaan sien om ‘n einde aan die oorlog te probeer maak. Met sy terugkeer in Frankryk is hy as voorsitter van die Internasionale Hulpkommissie vir Serwië gekies en het gesorg dat 28 000 Serwiese weeskinders ’n heenkome gevind het. Die Serwiese regent, prins Alexander, het Frans ’n pos aan die koninklike hof aangebied wat hy vir ’n kort rukkie beklee het.


John Buchan, Skotse skrywer se spioenasieroman, ‘Greenmantle’ (1917), is glo op Frans se ervarings gebaseer

FF Pienaar, skrywer van ‘Op Kommando Met Steyn en De Wet’ (1902), was Frans se neef
.

Daarná is Frans terug na die Belgiese Kongo en uiteindelik na Suid-Afrika, waar hy in Johannesburg ’n direkteur van maatskappye geword het, terwyl hy steeds die klapperhandel in die Goudkus beheer het.

Frans het glo ’n fortuin in goud gewen en weer verloor. Vanaf 1923 het hy op prospekteerwerk gefokus, veral in die omgewing van Alexanderbaai. Frans het siek geword toe hy prospekteerwerk naby Barkley-Wes gedoen het.

Hy is drie maande later op 9 Mei 1932 in die ouderdom van 75 jaar aan hartverlamming op die plaas Vredenhof, naby Bloemfontein, dood en is daar in die familiebegraafplaas begrawe. Sy tweede vrou, Giselle, is langs hom begrawe. Daar is geen kinders uit hulle huwelik gebore nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger