Omring deur ougoed en aardighede . . . PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 26 August 2014 06:41
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Vriende vra dat ons op ‘n mooi Sondagmiddag in Augustus vir ‘n kuier en ‘n ietsie vir die innerlike by Cullinan se spooraansluiting (Junction) by hulle aansluit. Die aansluiting by die ‘Junction’ se Heart of Coffee geval ons en ons sit blymoedig af soontoe.


Stoeptafeltjies by die spooraansluiting

Dinge by die ‘Junction’ het nogal baie verander, sedert ons vorige besoek aan Kat Behrens se koffieplek aldaar. Ten goede verander.

Ons loop sit aan by ‘n nuwe buitedekkie wat Kat se wederhelfte, Terry, op die grasperk onder ‘n ou koraalboom maak staan het. Jy kan ook by ‘n tafeltjie op die ou sink-stasiegebou se stoep plaasneem, of jou op die groter onderdak-dek tuismaak. Oral is jy omring deur die ougoed, die hougoed en die aardighede wat by die Junction verkoop word.


Jy kan huis toe skryf oor dié pannekoek-ete

Dit is een van daardie uitsonderlike dae wat jy soms in Augustus teëkom: Die windjie stu net effens – hy waai nie om om te waai, of om weg te waai, soos wat hy dikwels in dié maand neig om te wil doen nie. Dit is nie te koud nie en dit is nie te warm nie. Dis net reg.

Metgesel bestel ‘n koffie as aanloop vir die kuier wat aankom. Die plek heet uiteraard ‘Heart of Coffee’ en koffie is ‘n ding wat Metgesel na aan die hart lê. Sy vind die Barista filtreerkoffie voortreflik. Jy kan ook ander warm drankies, soos Earl Grey tee en warm sjokolade en dies meer bestel, of koue drankies van die nie-alkoholiese variasie. As jy iets met meer substansie onder ‘n kurk of ‘n prop verkies, is jy welkom om jou eie saam te neem.


Kunstige, handgedoende spyskaart

Ons maak ‘n langperd-rooie oop. Ons kuier, ons gesels en ons maak ons skuldig aan die ongebreidelde bekyk en bespreek van die toeriste wat heen en weer drentel. Die drentelende toeriste bekyk en bespreek die mooigoed wat te koop aangebied word en hulle bekyk en bespreek ons wat op die buitedek sit en geniet.

Kat bring ‘n baie kunstige, handgedoende spyskaart-van die-dag nader. Soos dit ‘n koffieplek betaam, is daar ‘n goeie keuse vir ‘n ordentlike koek-en-tee-gedoente. Jy kan sjokoladekoek of kaaskoek of ‘n tert van appel en amandel bestel, of botterbroodjies met biltong of kaas of met iets soets, of ‘n keuse van quiches probeer.


Terry help met die skinkwerk op die buitedek

Die spyskaart sê jy moet die kelner vra wat die ‘ligte’ ete van die dag is, maar ons vra nie, want ons het klaar besluit op die gevulde pannekoeke. Metgesel bestel die ‘chicken ala king’ en die uwe besluit op die een met gegeurde maalvleis. Die pannekoek kom saam met ‘n ampers oordadige Griekse slaai en onder ‘n kaassous.

Die pannekoekkeuse was ‘n goeie een. Dit is ‘n behoorlike, vullende maaltyd en ons stem saam dat ‘n ou maar kan huis toe skryf oor ons onderskeie vulsels.


Die onderdakdek by Heart of Coffee

Ons laat ons gewillige arms draai om die ‘ tjoklitkoek’ vir nagereg te probeer en oor dié dekadente heerlikheid kan ‘n ou maar gerus huis toe skree.

Die pannekoeke met hulle binnewerke en slaai, en die filtreerkoffie kos net R130.

Heart of Coffee is net op Saterdae en Sondae oop. Jy kan vir Kat bel by 084-579-1803.  

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online