Broekskeur op ‘n begrafnis PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 26 August 2014 06:40
Untitled Document

Die geheim van ‘n vredevolle en gelukkige huwelik, sê Gert Mossie, is eenvoudig: As jy verkeerd was, dan moet jy dit erken en sê dat jy jammer is. En as jy nou weet jy was reg, dan hou jy jou bek, sê Gert.

In sy huwelik, sê Groot Piet uit sy hoek, is daar niks meer struweling en twis nie. En dit omdat hy na al die jare uiteindelik die huweliksraad begin volg het, wat hy op sy eie troue by ‘n oom van hom gekry het, sê Groot Piet: “Kry jou skoonma aan jou kant en jy verloor nooit weer ‘n ‘faait’ nie.”

Ja, sê Gert Mossie, dis nogal snaaks dat jy altyd so baie wyse mense op ‘n troue kry wat regstaan om die stomme bruid en haar gom van goue waarhede en waardevolle raad vir ‘n goeie huwelik te bedien.

Nee, dis g’n snaaks nie, laat hoor Allen Prentjies van agter sy koerant uit oor sy suiwer koladrankie heen. Dis oor die drank verniet is op ‘n troue dat so baie mense so skynheilig slim raak, sê Allen.
Die stukkie raad wat hy en sy liewe bruid seker ‘n goeie tien keer op hulle troupaartie moes hoor, sê Allen, is dat ‘n egpaartjie nooit kwaad moet gaan slaap nie. Gmf, sê Allen, hulle wil seker hê ons moet liewer heel nag wakker bly en baklei.

En dan kry jy die ‘manne’, sê ‘n omgekrapte Allen Prentjies. Hulle, wat jou wil wysmaak dat trou onnodig is. Hulle, wat jou vertel dat dit nie nodig is om ‘n koei aan te skaf as jy melk in ‘n bottel kan kry nie. Vir dié ‘manne’ wil hy sê dat dit ook nie nodig is vir ‘n dame om ‘n uitgevrete vark te koop net om ‘n ou klein worsie te kry nie.

Hy kan onthou dat sy neef Proppie vir hom nogal waardevolle raad op sy eerste troue gegee het, sê Gert Mossie. Neef Proppie, wat toe al ‘n aantal jare in die eg verbind was, was die laaste ou in die gelukwenstou op sy troue, sê Gert Mossie. “Jy moet jou nie te veel steur aan almal se raad nie,” het neef Proppie gesê. “Onthou net die melk, brood en eiers. En as jy baie laat by die huis aankom, gooi ‘n blom of twee by.”

Wat hom nou laat dink aan einste neef Proppie se storie oor ‘n geleentheid van ‘n heel ander aard en waaruit daar sekerlik ook ‘n goeie les geleer kan word, sê Gert Mossie. Die geleentheid was ‘n begrafnis.

Neef Proppie vertel dat ‘n goeie vriend van hulle, ou Shangai Aspeling, destyds op ‘n Wes-Transvaalse myndorp tragies in ‘n motorfietsongeluk omgekom het. Nou was oorle ou Shangai, volgens neef Proppie, nogal ‘n haan-onder-die henne van aansien. Ten tye van sy ongeluk was Shangai al deur ‘n handvol huwelike en het hy daarbenewens ‘n goeie gros meisies, vriendinne en niggies op sy lewensspoor nagelaat.

Die gevolg was dat by verre die groter hoeveelheid begrafnisgangers van dié soort was wat aan die skoner geslag behoort. Die weduwees, vriendinne, meisies en niggies het by die diens drie rye kerkbanke vol gesit, het neef Proppie vertel. En met die ter aarde bestelling, het hulle bankvas om die oop graf gestaan. Baie hartseer, baie trane – soos dit agtergeblewenes betaam, sê neef Proppie.

Nou was Proppie se swaer, Naas, ook ‘n goeie vriend van oorlede Shangai en swaer Naas was daarby ook nogal ‘n ou wat homself as ‘n ‘haan’ kon opgee. Baie partydig vir die skoner geslag, was swaer Naas. En geneig om, waar moontlik, ‘n goeie indruk op hulle te probeer maak, vertel neef Proppie.

Só het dit gebeur dat die diens by die graf gedoen is en die kis met oorle Shangai se oorskot ter aarde bestel is. Swaer Naas het sy baadjie uitgetrek en dit met oordadige gebaar, oor ‘n aangrensende grafsteen gedrapeer. Hy het ‘n graaf opgeneem, ‘n hartseer, dog dapper blik oor die vroulike omstanders gewerp en, soos die gebruik was vir familie en naby vriende, rooigrond uit die grafhoop begin opskep en ritmies en doelgerig begin met sy graf-toegooitaak.

Dit was met die derde bukslag om grafgrond te skep, vertel neef Proppie, dat die agternaat van swaer Naas se blinkgebruikte kerkbroek finaal die gees gee: Van heel bo na heel onder – wyd oop soos ‘n waenhuisdeur. Die oopgesperde wyskant vierkantig gemik na die hartseer, vroulike toeskouers en manhaftige swaer Naas, onbewus van enige onraad, voltooi sy taak sonder slag of stoot.

Die les hieruit te leer en die raad wat hy kan gee, sê neef Proppie, is dat jy altyd ‘n onderbroek moet dra as jy begrafnis toe gaan. . .

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online