‘Doodspad’ se tol bly groei PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 26 August 2014 08:16
Untitled Document

Die ‘pad-van-die-dood’, Garstfonteinweg-verlenging, het op 4 Augustus weer sy tol geëis. ‘n Bakkie het op ‘n deel van dié pad gerol waar ‘n man op 10 Junie in ‘n soortgelyke ongeluk, sy lewe verloor het.

In verlede maand se berig, ‘Ingryping bepleit vir ‘pad-van-die-dood’, eis padgebruikers dat veiligheidsmaatreëls dringend op dié pad ingestel moet word. Loraine Daly, wat dié pad daagliks gebruik, het voorgestel dat spoedbeperkings, wat deur spoedkameras of beamptes afgedwing word, ingestel moet word en dat vroegtydige waarskuwingstekens, versperrings langs die pad en geraas-stroke aangebring moet word.

Mark Burns, ‘n Grootfontein-inwoner, sê dat hy die ongeluk op 4 Augustus met drie sekondes gemis het. Dit het reg voor hom gebeur en hy het die ambulans gebel. Volgens Mark is niemand op die toneel dood nie.


Die houtkruis vir Reghardt Appel wat oorkant B-House opgerig is

Mark sê dat hy twee kruise langs die pad gesien het en hulle die volgende dag gaan afneem het. Altwee kruise is vir Reghardt Appel, die 18-jarige onderhoofseun van die Hoërskool Waterkloof, wat 23 Junie 2006 daar in ‘n ongeluk dood is.

Reghardt is dood nadat die motor waarin hy en twee skoolmaats, Waldo Malan en Henkus Badenhorst, gery het, reg van voor teen ’n Toyota Hilux-bakkie gebots het. Die ongeluk was oos van Blesbokstraat se aansluiting met Garstfonteinweg, langs B-House se perseel. Mark sê dit is vir hom vreemd dat so baie ongelukke juis daar gebeur.

Die gerugte loop al jare lank onder padgebruikers dat daar iets ‘verkeerd’ is met daardie stukkie pad en Mark sê hy het hoendervleis gekry toe hy ‘n getikte briefie lees wat in Reghardt Appel se gedenkkruis gedruk is: “Can the dead really live again?”

Die Bronberger het in Junie 2003 reeds berig dat gedenkkruise met kranse toenemend langs die ‘pad-van-die-dood’ opgerig word. Ons het berig dat daar in een week in Mei 2003 vier noodlottige ongelukke was waarin elf mense dood is. Toe ons besig was om gedenktekens vir dié berig af te neem, het ’n man stilgehou met die navraag of ons weet wie daar gesterf het. Hy het gesê dat ‘n baie goeie vriend van hom die vorige week daar in ’n padongeluk dood is, en hy wou net kom kyk waar en hoekom.


Die ander gedenkteken vir Reghardt Appel, wat in 2006 hier dood is
Foto’s: Mark Burns

Meer onlangse gru ongelukke op dié ‘pad-van-die-dood’ is die een op 3 Mei 2010 op die hoek van Garstfonteinweg en Blesbokstraat, waar twee mense op die toneel dood is en twee hospitaal toe geneem is.

In April 2010 is ‘n man ‘n entjie verder aan dood toe sy Opel Cadet teen ‘n Toyota Hilux gebots het. ‘n Helikopter het gekom om ‘n drie-jaar oue kind hospitaal toe te neem.

In September 2011 het ‘n kop-teen-kop botsing een persoon dood, twee krities en ‘n sewe-maande-oue baba met beserings gelaat. Die ongeluk was in die vroeë oggendure.

Inwoners skryf die rede vir die hoeveelheid ongelukke op die pad toe aan die geweldige spoed waarteen mense op die pad ry, die kwaai toename in verkeer en veral van swaar vragmotors, en die golwende landskap wat vir baie bedrieglike blinde hoogtes sorg. Veral snags kan ongeduldige motoriste die dodelike fout maak om verby te steek as hulle ligte ver sien maar nie dié wat nader en net agter die hoogtes verskuil is nie.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger