Aanvallers teister bejaardes PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 26 August 2014 06:16
Untitled Document

Twee bejaarde egpare van Cullinan is in afsonderlike voorvalle binne ‘n week deur drie gewapende rowers aangeval, gemartel en beroof. Die aanvalle was helder oordag in die dorp se nuwer uitbreiding naby die gholfbaan.

Op Maandag 11 Augustus het die drie boewe net voor 10 vm by oom Willie Muller, 82, en sy vrou Sylvia se huis in Gholfsingel toegeslaan. Die aanvallers het tannie Sylvia met trekstroppe (kabelbinders) vasgebind en aangerand. Hulle het oom Willie met sy eie knipmes gesteek en hom om die huis gesleep. Die egpaar se tuinwerker is ook aangeval en die boewe het gedreig dat hulle almal sal doodmaak.

Die egpaar se kleindogter, Lily Oberholzer, was in die huis toe haar susterskind, ‘n dogtertjie van drie jaar oud, ingehardloop kom en sê “hulle baklei met oupa”. Lily is na buite waar sy ook deur een van die boewe gegryp is. Sy het so hard geskree as wat sy kon en ‘n buurman het kom help.

Die drie boewe het te voet met oom Willie se ring, horlosie, motorsleutels en knipmes op vlug geslaan.

Op Woensdag 13 Augustus is ‘n ander bejaarde egpaar, vermoedelik deur dieselfde drie misdadigers, in hulle huis in Koppierylaan aangerand en beroof. Die voorval was ook in die oggend tussen 10 vm en 11 vm. Die boewe het vier vuurwapens uit ‘n kluis, goedere uit die huis en die egpaar se voertuig geroof.

‘n Plaasaanval in Vaalbank is op Vrydag 15 Augustus aangemeld. Geen verdere besonderhede hieroor was teen saktyd beskikbaar nie.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger