Ons vier hierdie maand ons sesde bestaansjaar. En ons doen
dit met die grootste uitgawe van Die Bronberger wat tot nog
toe die lig gesien het. Ons doen dit met oorgawe en ons doen
dit veral met dankbaarheid.
Ses jaar klink dalk nie baie lank nie, maar as ses dan 42 in
hondjare is, kan dit sommer maklik so 84 in onafhanklikepublikasie-
jare wees. Tradisioneel hou publikasies, sonder die
rugsteuning van groot organisasies en groot geld, nie baie lank
in ons land nie. Daar is wel enkele uitsonderings. En ons is trots
daarop en dankbaar daarvoor om een van hulle te kan wees.
In September 2002 het die eerste uitgawe van Die Bronberger
met agt advertensies en sestien bladsye verskyn. In September
2008 is daar 110 advertensies en 56 bladsye.
Iemand het iewers gesê: “Verjaarsdae is goed vir jou. Statistiek
bewys dat die mense wat die meeste daarvan het, die langste
lewe.” En dit wil lyk of dit hier ’n geval is van: Hoe langer ons
lewe, hoe beter gaan dit.
Dit was van daardie eerste beskeie uitgawe af, ses jaar gelede,
gou duidelik dat die mense van die Bronberg-gebied honger
was vir hulle eie gemeenskapspublikasie; hulle eie mondstuk
En dit was net deur die meelewing van ons mense en met die
hulp van bo, dat ons dié soort publikasie die lig kon laat sien,
wat aanklank by die eiesoortige mense van die gebied gevind
het.
Ons staan nou nog soms verstom oor hoe gewild Die Bronberger
in sy reikgebied geraak het. Iets doen ons blykbaar reg,
al is ons self nog nie aldag seker wat dit is nie.
Ons is opgeneem in wat ’n mens maar “’n blye kringloop” kan
noem. Omdat ons lesers werklik hulle Bronberger wil lees en
dit met deeglikheid doen, kry ons adverteerders baie goeie
reaksie en wil hulle graag weer adverteer. Op dié manier kon
ons oor die afgelope jare as ’n gesinsonderneming, nie net
voortbestaan nie, maar ook groei. Wees verseker dat ons verskriklik
dankbaar is teenoor almal wat dit moontlik gemaak het.
Ons klink saam met julle ’n glasie op ses van die bestes wat
verby is en sien met vertroue daarna uit dat die beste verjaardae
nog voorlê. |