Kastrolletjiekos by ‘n tapasplek PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 29 July 2014 07:23
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

By die ingang van Casa Bourguesa word ons vriendelik ontvang deur ‘n aanvallige jong dame. Dié kuierplek het redelik onlangs gestoelte gekry by Faerie Glen se Faeriedale sentrum, in die winkelplek waar Uncle Louis eens sy slaghuis gehad het.

Aanvallige jong dame verduidelik dat ons by ‘n buitetafeltjie op die sentrum se loopstoep kan plaasneem of binne in die ruim en stylvolle restaurant. Ons besluit op binne en wel by ‘n hoektafel met twee langbanksitplekke: ‘n ‘Booth’, noem vriendelik dame dit en sy sê dit is haar gunsteling aansitplek.
Die ander plekke is ‘n verskeidenheid van meng-en-pas-stoele en tafels uit verskillende tydvakke: Alles baie keurig bymekaargesit. Die agtergrondmusiek is Mediterreens: Rustig en waar dit hoort – in die agtergrond.


Die lekker langbankhoektafel, links, waar ons plaasgeneem het

Casa Bourguesa se spyskaart is, soos sy dekor, ‘n interessante meng-en-pas-gedoente. Hulle gaan groot met die Spaanse tapaskultuur. Die tapas (‘n verskeidenheid kleiner porsies) is hier ‘n mengelmoes met grootliks ‘n Griekse-, Portugese- en Boerekos-inslag. Die hoofgeregte volg die tapas se voorbeeld.

Ek tel ‘n volronde 25 tapas-keuses, met pryse wat tussen R35 en R85 inweeg. Dit wissel van Griekse Saganaki-geregte en pasteitjies, Portugese aartappelsop en peri-peri garnale (vier), tot wildspasteitjies, skilpadjies, skaapstertjies en soutribbetjie met pap aan die Boerekoskant.

Eendag, as ons meer tyd het, wil ek langsaam deur ‘n goeie handvol van dié tapaskeuses kuier.
Met ‘n lekker glasie van rooi in die hand, bestudeer ek en Metgesel die hoofgereg-spyskaart. Die voorsmaak-broodjies wat die kelner aangebring het, is voortreflik. Jy kan brood en ‘n verskeidenheid tuisgemaakte smere ook as voorgereg bestel, en dit sou ‘n goeie keuse wees.


‘n Lamsvleiskastrolletjie met perfekte kluitjies

Die braaigeregte van bees is beeshaas (fillet), T-been, of lendestuk (sirloin). Snitgewig wissel tussen 200 g (dames fillet) en 500 g vir die T-been. Almal kos ‘n entjie anderkant die R100 met ‘n sous van jou keuse teen R20, sou jy wou. Die drie keuses van hoender is voorberei op die Griekse-, Portugese- en Durbanse manier. Dit kos ‘n rapsie duskant die R100.

Jy kan by dié Casa ‘n Griekse hamburger in pittabrood, ‘n Portugese Prego-broodjie, of ‘n ‘classic burger’ bestel. Garnale, koningklipvis, tjokka (kalamari) of stokvis is die seekoskeuses.

Ek oorweeg lank en aandagtig die oondgebakte wildspastei of bobotie teen R92 en R90 onderskeidelik, maar besluit manhaftig om my aandag op die potjiekeuses te vestig. Metgesel bestel die seekospotjie. Dit is koningklipvis, kalamari, mossels en garnale in ‘n romerige kerriesousie. Dit geval haar. Soos al die potjiekosgeregte, behalwe vir die Portugese Trinchado, wat R100 kos, weeg die seekospotjie ook in teen R145.


Die lekker langbankhoektafel, links, waar ons plaasgeneem het

Die potjiekosse word in netjiese enamel-kastrolletjies, ook nie almal eenvormig nie, opgedis. Ek sou op enige ander dag sonder om te twyfel die kastrolletjie afval gekies het, maar ek het net die vorige dag die laaste van my eie oordadige kooksel kerrie-afval klaargemaak. Ander keuses potkos, of ‘ragoût’, soos hulle dit roep, is: Beesstert in rooiwyn gedoen, lamskerrie soos hulle dit op die ou Portugese kolonie, Goa, maak, lams-hutspot, of waterblommetjiebredie.

Ek kies die Karoolamskastrolletjie met kluitjies. Die kluitjies was perfek en die lam so naby daaraan as dêmmit aan ‘n knoopwoord. Jy kan jou potjie saam met pap, kapokaartappels, stampmielies, aartappelwiggies of Basmatiese rys bestel.

Casa Bourguesa se eienaars, Claude Graham en sy wederhelfte Louise, is deurtrapte restauranteurs met die legendariese Greek Easy en Billy’s Baked Potato op hulle CV. Hulle het nou in Faerie Glen ‘n besonderse kuierplek kom neersit wat ons maklik weer sal sien.

Jy kan die plek bel by 012-991-0781.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online