So byna was die blesbok bokveld toe PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 29 July 2014 09:22
Untitled Document

Deesdae spog bykans elke tweede kleinhoewe in ons kontrei met ‘n paar blesbokke. Wie sou nou kon raai dat dié bok van uitsterwing gered moes word?

Blesbokke het reeds in Natal uitgesterf en daar was in 1893 na raming minder as 2 000 van dié bokke in die land oor. Hulle vleis en velle het in die 17e eeu gewild geword toe hulle in troppe, wat van horison tot horison gestrek het, geloop het.

Danksy doelbewuste teling en verspreiding na streke waar hulle nie natuurlik voorgekom het nie, is dié bokke vandag volop. Tog word daar gesê dat hulle verspreiding kunsmatig is omdat hulle net in wildparke, wildtuine en afgekampte wildplase voorkom.


Die wit saalrug blesbok het ‘n duidelike rooibruin saal op die rug en nek

Fossiel
Blesbokke is endemies aan Suid-Afrika en fossiele van ‘n prehistoriese familielid, Damaliscus niro, is in Sterkfontein gevind. Dié bok het aan die einde van die Pleistoseen, ’n tydperk in die geologiese tydskaal tussen 2,588 miljoen tot 11,56 duisend jaar gelede, uitgesterf. Hy het ongeveer 120 kg geweeg, en sy horings het ‘n bietjie anders as dié van vandag se blesbokke gelyk.
Blesbokramme weeg gewoonlik 70 kg, alhoewel hulle tot 85 kg kan weeg, en die ooie rondom 60 kg.

Dié rooibruin bok se skouers is hoër as sy kruis. Sy naam verwys na die wit bles op sy voorgesig. Sy pens, kruise en bene is baie ligter as die res van die liggaam. Altwee geslagte het geringde, swart horings van omtrent 38 cm lank, en preorbitale kliere, wat beter ontwikkel is in die rammetjie. Hulle skei ‘n taai vloeistof af wat traanmerke teen die dier se gesig maak. Dié vloeistof word aan grashalms afgesmeer.


‘n Wit blesbok is nie ‘n albino nie, maar ‘n kleurmutasie

Bontebles
Die blesbok, Damaliscus pygargus phillipsi, is verwant aan die bontebok, Damaliscus pygargus dorcas, alhoewel hulle nie van nature dieselfde habitat deel nie. Kruisteling kan voorkom en die nasate, bekend as die bontebles of baster blesbok, is vrugbaar.

Daar is ‘n aantal kleurvariasies in blesbokke. ‘n Wit blesbok is ‘n kleurmutasie en nié ‘n albino nie. Die bok is heeltemal wit en sy horings is strooikleurig. Die geel blesbok se sye is geel en hy word onderskei van die wit saalrug blesbok wat ‘n duidelike rooibruin saal op die rug en nek het, ‘n duidelike rooibruin streep langs sy pens en ‘n rooibruin kol om sy stert.

Daar word ’n DNA-register van wit saalrug blesbokke gehou en die Wit Saalrug Blesboktelersgenootskap is lid van die Wildbedryf van Suid-Afrika (WRSA).


‘n Blesbok en haar lammetjie

Trop
Voor hulle kunsmatige verspreiding het blesbokke in die grasland bioom in suidelike Afrika voorgekom, waar hulle grootliks korter gras gevreet het. Die sosiale struktuur bestaan uit territoriale ramme, troppe van ongeveer agt ooie en hulle lammetjies, en troppe oujongkêrels met ramme van alle ouderdomme. In die winter bly almal in groot gemengde troppe saam.

Ooie is vir ongeveer 240 dae lank dragtig en die lammetjies word van November tot Januarie gebore.

Die ooi kry gewoonlik ‘n enkele lammetjie, alhoewel tweelinge soms gebore word. Die lammetjies is roomkleurig en kan binne ‘n halfuur ná geboorte saam met die ooi hardloop. Jong rammetjies verlaat hulle ma na ongeveer ‘n jaar, wanneer die nuwe lammetjie gebore word, maar jong ooitjies bly in die trop tot hulle omtrent twee jaar oud is.

‘n Blesbok kan 21 jaar oud word in aanhouding. In die natuur hang hulle oorlewing van hulle spoed af.

Dié bokke kan nie juis goed spring nie, maar kan ‘n spoed van 70 km/h bereik wanneer hulle gejaag word.

 

© 2019 Die/The Bronberger