Nege honde op Swaeltjie vergiftig as voorspel tot inbraak PDF Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 17 September 2008 18:57
Untitled Document

Nege honde is op Donderdag 21 Augustus op Swaeltjie vergiftig met ‘Two Step’ landbougif om ’n inbraak te vergemaklik.

Dié Alsatians is op Francois Myburg se plot vergiftig voor sy Kawasaki 650 gesteel is. Die inbrekers het ook probeer om ’n 125 cc motorfiets weg te dra. Francois het’n paar skote afgeskiet en die inbrekers het die motorfiets in sy oprit neergegooi en laat spaander. Lede van die Zwavelpoortse inwonersvereniging (ZRA) was binne minute op die toneel. Petro Anderson van die ZRA sê dat hulle die gebied gepatrolleer het, maar niks kon vind nie. Sy sê dat die inbrekers oor die muur geklim het en die hekmotor gemanipuleer het om in te kom.

Veearts
Vyf van Francois se nege honde het die vergiftiging oorleef danksy Dr Ockert Botha van Swavelpoort Dierekliniek, wat spesiaal half vyf die oggend sy praktyk oopgesluit het om die honde te behandel. Dokter Botha het bevestig dat die honde met ‘Two Step’ vergiftig is. Dié landbougif is blykbaar vir R5 beskikbaar op die naaste straathoek.

Volgens Health 24.com is een teelepel ‘Two Step’ genoeg om ’n renoster te vergiftig en 1 mg kan ’n knaagdier wat minder as ’n kilogram weeg, doodmaak. ‘Two Step’ is giftiger as arseen.

Tekens van ‘Two Step’ vergiftiging sluit die volgende in: kwyl, spiere wat bewe, naarheid, oë wat traan, asemnood, braking, verkleinde oog pupille, oormatige sweet, diarree, maagkrampe, swakheid, hoofpyn en in erge gevalle stuiptrekkings, bewusteloosheid en versmoring.

...
’n Paar van Francois Myburgh se honde wat die vergiftiging oorleef het en aansterk by die veearts

Gruwelik
“Wie hierdie ‘mense’ is wat in staat is tot so ’n gruwelike daad weet ek nie, maar wat ek wel kan sê is dat hulle maar weer kan kom.”“Volgende keer, as ek wakker word van die laaste stuiptrekkinggeluide van my gunsteling hond by die slaapkamervenster, sal ek voorbereid wees,” sê Francois.

“Ek hoop die een motorfiets wat gesteel is verskaf hulle plesier in die warm hiernamaals ook.” Petro sê dat kriminele gewoonlik as volg te werk gaan by huise waar daar honde is: Hulle doen iets om die honde te laat blaf, en kyk watter reaksie die huisbewoners toon. Hul beplan dan hul inbraak volgens dié reaksie of gebrek daaraan.

Dit is hoekom dit belangrik is om jou hond se gewone geblaf van ’n waarskuwingsblaf te kan onderskei, sê Petro. “Probeer uitvind wanneer die blaf maar net vir die maan is en wanneer dit beteken dat daar gevaar is. En bel dadelik jou bure of patrollie-leier as jy onraad vermoed,” sê sy.

“Selfs al was dit op die ou einde niks nie, is dit baie belangrik om te reageer op waarskuwings van jou honde af. As kriminele sien dat ons elke keer as daar ’n versteuring is reageer en patrolleer, is die kanse minder dat hulle sal probeer inbreek.”

Patrollie
Francois wil ’n beroep doen op die inwoners van ons omgewing om by die Zwavelpoort patrollie-groep aan te sluit en deur deelname die omgewing ’n veiliger plek te maak.“Wie weet, dalk is jy volgende op ’n georganiseerde bende se lys,” sê hy.

Francois wil die groep Zwavelpoorters, Petro, Nick, Karel en Isak, wat binne enkele minute daar was om die Myburgh-gesin te beveilig en ondersteun, bedank. Hy bedank ook vir Belinda en Kerstin van die Mooiplaats Conserve groep wat hom en sy gesin bygestaan het en veral vir Dr Botha wat sy honde gered het.

 

© 2019 Die/The Bronberger