Langkuifarend hou rotte in toom PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 29 July 2014 09:16
Untitled Document

Die langkuifarend kry sy naam van die halfdosyn vere wat penorent op sy kop staan. Dié medium-grootte roofvoël is een van die min arende wat nie omgee om naby mense in bewerkte gebiede te bly nie en jy sien hom waar daar groot bome langs ‘n oop veld of landerye is.

Hy gee ook nie om of dit nou ‘n bloekom-, denne- of ander uitheemse boom is nie, solank die boom hoog genoeg is en naby aan vleie, moerasse of stroompies is.

Anders as ander arende, sweef die langkuifarend nie so gereeld op soek na prooi nie. Dié ou sit die grootste deel van die dag. Jy sal hom ook dag na dag op dieselfde telefoonpaal of hoë boom sien sit en wag vir prooi om op die grond te voorskyn te kom. 

Die mannetjie en wyfie is gewoonlik nie ver uitmekaar nie en bly in hulle gebied, wat in die broeiseisoen so 1,6 km aan weerskante van die nes is. Hulle is nie migrerende voëls nie, maar kan ietwat nomadies wees in streke waar daar ‘n groot verskil in die reënval tussen seisoene is.

Langkuifarende broei gewoonlik in die nat seisoen, maar kan hulle broeigewoontes aanpas by wisselings in die knaagdier-populasie. Hulle vreet amper uitsluitlik knaagdiere, soos rotte en muise, maar sal soms akkedisse, klein voëltjies, vis en vrugte vreet.


Die langkuifarend
Foto: Wikipedia

Voorkoms
Die langkuifarend is omtrent so groot soos 'n aasvoël, maar het 'n langer stert en lang bene en is aansienlik swaarder. Die liggaamslengte is 50 tot 58 cm en wyfies is groter as mannetjies. Mannetjies weeg 0,9-1,4 kg en wyfies 1,4-1,5 kg.

Die kopvere is oorwegend swart. Die binneste primêre basisse is wit met donker ringe. Die stert is in hoë kontras lig tot donker geband. Die onderkant van die lyf en die laer vlerkdekvere is swart, terwyl die draai van die vlerk wit is. Die vlugvere is wit aan die onderkant tot ligte grys en donker geband, wat in vlug sterk konstrasteer.

Die pote is tot by die kloue geveer. Die bek is donkergrys en die kloue is geel. Die iris van die oog is 'n goue-geel tot oranje-bruin of rooibruin. Jong voëls verskil effens van volwassenes. Hulle vere is ‘n bietjie ligter, die onder-vlerkskuilhoeke en die bene is meestal wit met bruin strepe, die stert is baie smaller met minder kontrasband, en soos die wyfie, is die kuif ‘n bietjie korter.


‘n Langkuifarend in vlug
Foto: Ken Havard

Broei
Langkuifarende broei elke jaar. Die nes word uit stokke in die vurk van ‘n hoë boom gebou. Die nes begin kleinerig, so 0,6 m wyd, met ‘n sentrale koppievormige holte wat met groen blare uitgelê word. Hy word meestal in die middel van ‘n boom gebou sodat hy in skadu is.

Die mannetjie en wyfie bou albei aan die nes en hou aan om vervangingswerk te doen sodat die nes naderhand tot drie keer sy oorspronklike grootte kan wees. Hulle kan dieselfde nes vir ‘n aantal jare gebruik, maar nie vir naastenby sulke lang tydperke soos ander arende nie.

Een tot twee dowwe wit eiers met bruin, grys en ligte pers vlekke word gelê, maar langkuifarende maak gewoonlik net een kuiken groot. Die tweede eier broei nie altyd uit nie, of die ouer kuiken maak die jonger een dood.

Die wyfie broei en word deur die mannetjie gevoer, alhoewel sy die nes soms verlaat om self prooi te vang. Die eiers broei ná 42 dae uit en in die begin bly die wyfie in of naby die nes, terwyl die mannetjie prooi vang. Ná ongeveer drie weke begin die wyfie meer prooi aanbring as die mannetjie, en die kuikens is teen omtrent 28 dae ten volle geveer.

Kuikens begin van 45 tot 50 dae oud in die takke van die nesboom rondklim en vlieg vir die eerste keer na omtrent 55 dae. Daarná beweeg die kuikens vinnig weg van die nes-omgewing, terwyl die ouers hulle nog vir so twee weke voer. 

 

© 2019 Die/The Bronberger