Die helende heining PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 29 July 2014 09:16
Untitled Document

Die kei-appel is dié millennium se wonder-boompie. Die Departement van Landbou motiveer mense in droë streke deesdae om kei-appels vir vrugte-verbouing aan te plant en om gronderosie te verhoed. Hulle het onlangs uitgevind dat kei-appels hoë voedingswaarde bevat, maar die boompie word al eeue lank as tradisionele geneesmiddels gebruik.

Die kei-appel se vrugte het ‘n baie hoë vitamien C inhoud, ‘n hoë konsentrasie aminosure en tree op as beduidende anti-oksidant. Sy vrugte is perfek om in te lê, te pekel of konfyt van te maak en deesdae maak mense ook ‘n stroop en koeldrank van dié suur vruggies.


Die kei-appel
Foto: davesgarden

Die kei-appel, ook bekend as appelkoosdoring, is glad nie ‘n appel nie en ook nie ‘n appelkoos nie. Sy geel tot lig oranje vruggies is omtrent 60 mm in deursnee, en word meer met sitrusvrugte vergelyk, oor hulle hoë vitamien C-inhoud.

In die laeveld is die boompie se wortels en dorings tradisioneel gebruik om borspyn, rumatiek en maandstondafwesigheid te behandel. Die vrugte word geëet om naarheid en diarree te behandel en ‘n afkooksel van die blare word gemaak om diarree te stop.

Verpoeierde, gedroogde blare word gebruik om brongitis en hoes te behandel. Die blare en bas word op bloeiende tandvleis gesit en help ook met tandpyn. ‘n Aftreksel van die bas word gebruik om mee te gorrel en heesheid te behandel. Fyngekapte wortels word as ‘n pap aan sere en velprobleme gesmeer en in die mond gehou om tandpyn te verlig.


Vrugte aan die boom
Foto: davesgarden

Naam
Die kei-appel,Dovyalis caffra, kry die ‘Dovyalis’ deel van sy naam van die Griekse woord vir ‘spies’, wat na sy dorings verwys. Die ‘caffra’ deel wys dat hy inheems is aan die Oos-Kaap. Jy kry dié boompie van die Keirivier (wat sy naam aan hom verleen het) in die suide, en hy versprei noordwaarts dwarsdeur die oostelike deel van die kontinent.

Dié is ‘n klein, geharde immergroen boompie of struik wat as natuurlike heining aangeplant word. Sy dorings maak dat so ‘n heining ondeurdringbaar is, selfs vir bosvarke. Sy blomme bevat baie nektar, waarby byeboere baat, en lok vrugtevreters soos kwêvoëls en tiptolle. Boere kan die boompie se blare gebruik om beeste, bokke en varke te voer.

Hy is gewoonlik drie tot vyf meter hoog, maar kan tot agt meter hoog groei, en moet gereeld gesnoei word as jy ‘n heining van hom wil maak. Die boom dra klein romerige groen blommetjies van November tot Desember. Manlike en vroulike blomme word aan verskillende bome gedra, so jy het altwee nodig as jy wil hê jou boom moet vrugte dra. Die vrugte is 90 dae nadat die boom geblom het, ryp.


Vrugte van die kei-appel wat op ‘n Mosambiekse mark in Tete verkoop word
Foto: SnappingAfrica

Groei
‘n Kei-appel kan maklik van saad gegroei word. Die vrugte moet ryp wees voor jy die saad versamel en die saad moet skoongemaak word en in skadu droog word voor dit gesaai word.

Saai in saailingbakke gevul met ‘n riviersand en saailing-mengsel. Druk die sade in die sand tot hulle gelyk is met die oppervlakte en bedek dan met ‘n laag fyn sand.

Kei-appels doen goed in vol son of ligte skadu en kan in ‘n verskeidenheid grondsoorte aanpas, alhoewel hulle goed gedreineerde grond verkies. Hulle is droogte- en rypbestand en groei teen
600 mm per jaar. Die plant sal ná vier jaar begin vrugte dra.


Kei-appel konfyt en koeldrank
Foto: encyclopaedia of earth

 

© 2019 Die/The Bronberger