Loop lig vir bakkie-kontrakteurs PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 29 July 2014 07:02
Untitled Document

Elektriese omheinings word, soos wat misdaad toeneem, al hoe algemener in die hoewegebied van ons kontrei. Min mense is egter bewus van die wet wat dié oprigting beheer en oortree die wet onwetend, veral as hulle ‘bakkie kontrakteurs’ gebruik wat nie van al die vereistes bewus is nie.

Deesdae moet alle heinings van ‘n sertifikaat van voldoening (certificate of compliance) voorsien word en slegs geregistreerde installeerders of tydelik geregistreerde installeerders by die Departement van Arbeid is geregtig om so ‘n sertifikaat uit te reik. 

Die Wet op Elektriese Heinings het in Junie 2011 in werking getree, maar die uitreik van ‘n sertifikaat van voldoening is eers vanaf 1 Desember 2012 verpligtend. Dit beteken dat alle heinings wat vanaf daardie datum opgerig is, aan sekere standaarde moet voldoen. 

Installeerders moet ook hulle registrasiesertifikate waarop die persoon se naam, ID-nommer en registrasienommer verskyn, kan toon. Die registrasienommer word deur die letters EFSI voorafgegaan. ‘n Mens kan by www.saefia.net gaan kontroleer of ‘n kontrakteur geregistreer is.

Enige installeerder kan egter ‘n heining oprig, mits dit binne die wet is en aan die standaarde voldoen. As hy nie ‘n sertifikaat van voldoening kan uitreik nie, kan ‘n geregistreerde installeerder dit namens hom doen. So ‘n sertifikaat is nie ‘n waarborg nie, maar bevestiging dat die heining ten tye van inspeksie aan die wetlike vereistes voldoen.

Geldig
‘n Sertifikaat van voldoening is slegs vir twee jaar vanaf uitreiking geldig vir oordrag na ‘n nuwe eienaar. ‘n Nuwe sertifikaat moet uitgereik word sodra daar veranderings of groot herstelwerk aan die heining gedoen word. ‘n Nuwe sertifikaat moet ook uitgereik word as die ‘energizer’ vervang word.

Die wet is van toepassing op die vervaardigers, installeerders en gebruikers van die stelsel. Die eienaar moet sorg dat die heining in ‘n goeie toestand gehou word. As die regte materiaal en installasie-metode gebruik word, moet die heining vir ten minste vyf jaar hou.

Indien ‘n nuwe elektriese heining of herstelwerk aan ‘n bestaande heining oorweeg word, moet ‘n mens seker maak dat die installeerder van die nuwe wetgewing weet en dat die persoon in ‘n posisie is om ‘n sertifikaat te kan uitreik.

Prys
Volgens die Suid-Afrikaanse Elektriese Heining-installeerders Vereniging kla baie mense ná die tyd by hulle oor swak heinings. As die saak ondersoek word, is dit duidelik dat die besluit om die kontrakteur aan te stel slegs op prys gebaseer was.

Die vereniging sê ‘n mens moet nie net na die prys kyk nie, maar ook na die materiaal wat gebruik gaan word en indien dit nie gespesifiseer word nie, daarop aandring dat dit in die kwotasie gespesifiseer word.

Elke installeerder beheer sy eie sertifikaat van voldoening-stelsel, maar die vereniging is besig om ‘n nuwe beheerstelsel te ondersoek wat ook die kwaliteit van installasies sal verseker. 

Muur
Wanneer elektriese omheinings bo-op ‘n muur gemonteer word, moet die muur 1,5 m of hoër wees. Die paaltjies moet 3 m uitmekaar geplaas word, tensy daar ‘n obstruksie is. Kennisgewingborde moet elke 10 m geplaas word en binne 2 m vanaf elke hoek opgesit word.

‘n Elektriese omheining wat aan ‘n openbare gebied, soos ‘n pad, grens moet van ‘n afskortingsheining voorsien word. Dié heining moet ten minste 1,5 m hoog wees met een opening in enige rigting, nie groter as 150 mm nie. Die vereiste vir kennisgewingborde is dieselfde as vir heinings op mure.

‘n Afskortingsheining is om te verhoed dat mense en diere in die heining vasgevang word. Wanneer iemand aan ‘n elektriese draad raak is daar net ‘n onaangename skok, maar as jy vassit kan die gevolge noodlottig wees.

Plaas
Daar is ‘n wetlike verskil tussen algemene plaasheinings en sekuriteitsheinings, maar sodra ‘n algemene plaasheining gemoniteer word (alarm maak), is hy nie meer ‘n plaasheining nie, maar ‘n sekuriteitsheining. 

Die maksimum sterkte (energievlak) wat die wet op privaatgrond toelaat is 10 kv, 8 Joule, gemeet met ‘n 500 Ohms weerstand. 

In beboude gebiede moet ‘n heining skoongehou word van alle struike; 1 m hoër as die heining,
200 mm onder die heining en 200 mm weerskante. In plaasgebiede moet dit 1 m aan alle kante skoongehou word.

Indien ‘n buurman nie ‘n elektriese heining teen sy grens wil hê nie, moet die aangrensende buurman ‘n afskortingsheining oprig.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger