Moordverdagtes aangekeer: Raad met beveiliging PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 29 July 2014 09:02
Untitled Document

Speurders van SAPD Boschkop en sektorbevelvoerders het twee verdagtes vir die moord op oom Charlie Groenewald in hegtenis geneem. Hulle word vir ondervraging aangehou.

Charles Groenewald van Charlie’s Algemene Handelaar op Boschkop is op Maandagoggend 12 Mei in sy bed doodgeskiet. Sy vrou, Ralie, is kort voor die moord op Charlie erg aangerand.

Adjudant offisier Wynand van der Merwe van die Boschkopse Polisiestasie sê dat dié landelike gebied maar ’n klein gemeenskap is en in die laaste tyd was daar ’n aantal voorvalle wat mense geskok het.

Hy sê plotte en plase word geteiken en veral bejaardes. “Die polisie neem die wrede en lafhartige dade baie ernstig op en probeer alles in hulle vermoë om dit hok te slaan, maar ons het ook die hulp van ons gemeenskap nodig. Wees waaksaam en werk saam met die SAPD.”

Wynand wil graag raad gee om die gemeenskap bewus maak van wat gedoen kan word om nie ’n maklike teiken vir misdaad te wees nie. Landelike beveiliging is een van sy prioriteite by SAPD Boschkop.


Adjudant offisier Wynand van der Merwe, SAPD Boschkop

“Ek sal graag met die enorme taak wil begin om al die plotte en plase te besoek en met die inwoners te gesels om insae te kry oor hulle probleme en voorstelle. Dit gaan egter baie lank vat om by almal uit te kom. Per slot van sake is daar amper 4 000 plotte en sewe plase,” sê hy.

“Ek wil ook graag sekere inligting by die plot- en plaasbewoners verkry. Ek kan julle verseker dit is vertroulik en vir ’n databasis, wat kan help met opvolg en bekamping van plaasaanvalle.”

Wynand sê goeie heinings maak jou en jou gesin veiliger. Gaan die heinings gereeld na vir tekens van beskadiging. Elektriese heinings moet skoon wees van gras en takke. Nie almal kan elektriese heinings bekostig nie, maar daar is maniere om jou gewone heining meer doeltreffend te maak. Maak klokkies of blikke met klippies in, vas aan die heining.

“Ek weet dit klink dom maar dit werk veral saam met ’n paar wakker honde wat verder kan alarm maak.

Dit is raadsaam om ’n hond of twee in die huis te hou en ander buite. Dis soos ’n alarm met tande en die honde binne is meer veilig teen vergifting,” sê Wynand.

“Onthou net, as die honde blaf, kyk hoekom. Dis waarvoor hulle daar is. As daar enige onraad vermoed word, moet nie uitgaan nie. Kry jou gesin veilig in die huis, skakel die polisie en jou bure of sekuriteitsmaatskappy. Wag vir hulp. Misdadigers wil jou uitlok, waar hulle die voordeel het en jy weerloos is.”

Soos almal, sukkel die polisiestasie by Boschkop ook maar met kabeldiefstal en dan gaan die Telkom-fone af. Daar is ’n 24 uur selfoon in die stasie wat gebel kan word: 082-557-6996.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger