Zwavelpoortse ontwikkeling kry nog ‘n kans PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 29 July 2014 07:00
Untitled Document

Die Zwavelpoortse Kommersiële Park het weer ‘n keer grasie gekry om in plek te kom. Die ontwikkeling is, ondanks sterk teenstand teen so ’n projek in ’n landelike gebied, sedert 2010 op die boeke.

In April 2010 het Die Bronberger berig dat ’n kommersiële park beplan word op plot 332, Zwavelpoort, die oop stuk grond aan die oostekant van die ‘Action Cricket’ kompleks, teen Lynnwoodweg-verlenging.
Elardo Motors bk beplan om die Zwavelpoortse Kommersiële Park Uitbreiding Een op die 1,2 ha stuk grond, wat ’n gedeelte van plot 15, Zwavelpoort is, te vestig.

Verleng
‘n Aangepaste omgewingsmagtiging van die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling is op 2 Julie vanjaar uitgereik. Die geldigheidstydperk van dié magtiging aan Elardo Motors is weer verleng omdat konstruksie nie binne die vorige geldigheidstydperk kon begin nie.

Die oorspronklike omgewingsmagtiging is op 30 Desember 2010 uitgereik en die eerste wysiging met ‘n twee jaar grasie tydperk op 14 Augustus 2012.

Die rede vir die uitstel is dat ‘n nuwe padmeesterplan nog nie gefinaliseer is nie. Die heraanpassing van Lynnwoodweg (K34) oorkant die eiendom raak die huidige padmeesterplan. Die aansoeker kan bouplanne eers finaliseer wanneer daar vasgestel kan word hoe Lynnwoodweg se herontwerp sulke planne sal beïnvloed.


Die ligging van die voorgestelde Zwavelpoortse Kommersiële Park

Beswaar
Die Shere and Zwavelpoortse inwonersverenigings het in 2010 reeds beswaar teen die kommersiële park gemaak. Hulle het gesê dat die ontwikkeling ’n reuse impak op die landelike gebied se karakter sal hê met ‘n magdom infrastruktuurprobleme.

In Oktober 2010 het ons berig dat die beoogde Zwavelpoortse Kommersiële Park afgeskaal is weens ’n gebrek aan munisipale dienste. Aansoek is toe slegs vir stoorgeriewe gedoen, wat goedgekeur is. Sou die ontwikkelaars in die toekoms die grondgebruik wil verander na residensieel, sou die voorgeskrewe prosesse gevolg moet word en aansoek by die provinsiale owerheid, die Gautengse Departement van Landbou en Landelike ontwikkeling, gedoen moet word.

Interdesign Landskapargitekte (ILA) is deur Elardo Motors aangestel om die omvangstudies en openbare deelnameproses te hanteer. ILA het te kenne gegee dat munisipale infrastruktuur in terme van water en elektrisiteit voldoende vir stoorgeriewe bevind is.

Kontak
Inwoners wat teen dié magtiging wil appelleer kan hulle besware rig aan Die Lid van die Uitvoerende Raad, Posbus 8769, Johannesburg, 2000 of ingee op die vierde vloer, Diamantgebou, Diagonaalstraat 11, Johannesburg. Die verwysingsnommer is Gaut 006/13-14/E0121.

Vir meer inligting oor die gewysigde magtiging, kontak ILA se Thuledu Ntshingila by tel: 012-348-1922, faks: 012-348-7154 of e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

 

© 2019 Die/The Bronberger