As Cullinan se sinkhuise kon praat . . . Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 23 June 2014 23:31
Untitled Document

Angie Kleijn

Watter stories sou ‘n 1905 sinkhuis in Cullinan vertel as hy kon praat? Sou hy vertel het hoe hy in Skotland gemaak is en toe uit ‘n katalogus gekies is om na ‘n klein myndorpie in Afrika verskeep te word? Of sou hy dalk eerder die name van dié wat eens tussen sy mure gelukkig was, wou opnoem?


Die huis in Coronationstraat soos hy in Lize Richardt se 1990 tesis, ‘Die sinkhuise van Cullinan’, verskyn

Bykans 78 jaar ná Cullinan se destydse vroedvrou, ‘nurse Malone’, vir Aletta Vivier in ‘n Coronationstraat-sinkhuis ‘gevang’ het, het Aletta die huis weer opgesoek. Vandag is dié huis een van net ‘n handjievol op die dorp wat nie oor die afgelope eeu gesloop is nie, en is dit die Bronnie se tuiste.
Aletta is op 28 Julie 1936 gebore as die jongste sussie van Basie Vivier, Springbok rugby-kaptein in die vyftigerjare. Toe Basie op 18 Oktober 2009 in die ouderdom van 82 jaar oorlede is, was hy Suid-Afrika se oudste lewende Springbok-rugbykaptein.


Aletta by die voorhekkie

Basie
Basie het in 1951 vir die Vrystaat gespeel en hy is later die jaar gekies vir die Springbok-rugbyspan wat in Brittanje en Frankryk gaan toer het. Sy spanmaats het vertel dat hy een van die groot karakters in daardie span was. Sy kitaar was altyd byderhand en hy was een van die voorsangers.

Basie het sy Springbokloopbaan afgeskop toe hy in die tweede toerwedstryd teen die Noordwestelike Graafskappe in Devonport gespeel het. Die Bokke het met 17-8 gewen. Hy is eintlik as senter gekies, maar het ook as heelagter diens gedoen en het in altesame 14 van die Bokke se wedstryde gespeel. Hy kon nie die toetsspan haal nie.


Aletta as baba met die huis in die agtergrond
.

Agter is Jaap, links, en Basie Vivier. Links voor is David Cronje, ‘n neef, en Aletta Vivier

In 1956 is hy aangewys as kaptein van die Springbok-span wat in Australië en Nieu-Seeland gaan toer het nadat die gunstelinge om dié leierskap, Jan Pickard en Salty du Rand, mekaar met die vuis bygedam het.

Basie (Stefanus Sebastian) is op 1 Maart 1927 in Pietersburg gebore. Hy was een van vyf kinders en sy jongste sussie, Aletta Francina wat in Cullinan gebore is, was nog ‘n baba toe haar oudste suster, Maria Magdalena (Marie), al bykans 19 jaar oud was. Daar was twee ander broers, Jakobus Andries Jakob (Jaap) en Hendrik Jacobus Burger Vivier. Hulle was die kinders van Stefanus Sebastian Vivier en Maria Magdalena, ‘n nooi Burger.


Aletta en haar pa in die voortuin

Aletta sê sy was so drie jaar oud toe haar pa, ‘n vee-inspekteur, uit Cullinan na Groblersdal verplaas is. Hy was ‘n kranige jukskeispeler en dit is dié spel wat hom en sy hele gesin in ‘n interneringskamp in Kenhardt laat beland het. Volgens Aletta het dié spel hom glo as Ossewabrandwaglid, wat uit die samelewing verwyder moes word, gemerk.


Agter Aletta kan ‘n mens sien hoe hoog die huis se klipfondasies gebou is
.

‘n Foto van Aletta, links, haar ma, Maria Magdalena, ‘n nooi Burger, en twee van haar broers agter, Jaap en Basie

Sinkhuis
Die sinkhuis waarin die Vivier-gesin in Cullinan gewoon het, is ‘n paar jaar ná die Premier Diamantmyn se ontstaan in 1902 uit ‘n katalogus van Skotland bestel.

‘n Drie-slaapkamer, voorafvervaardigde hout-en-sinkhuis, kompleet met gedrukte staalplafonne, ‘Oregon pine’ vloere, -deure en -skuifraamvensters, en ‘n vuurherd, kon in ‘n vraghouer gepak word wat slegs twee ton geweeg het.

Die houers is per skip na Delagoabaai (Maputo) vervoer, vanwaar dit met die Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Spoor Maatschappijen (NZASM)-spoorlyn na Cullinan vervoer is. Die Rayton/Cullinan taklyn van dié spoorlyn is amptelik op 27 Maart 1905 oopgemaak.


Op dié kiekie van Aletta is die oorspronklike sink reënwatertenk

Suid-Afrika se myn-sinkhuise was baie soos die hout-en-sinkhuise wat van 1861 tot 1920 in Noord-Queensland, Australië se myngebiede opgerig is. Daar was drie soorte: ‘n houtraamwerk met sinkplate aan die buitekant; ‘n houtraamwerk met sinkplate buite en plankiesmuur binne; en ‘n houtraamwerk met sinkplate buite en rousteen invulmure binne, soos dié wat in Cullinan opgerig is.

Goeie gehalte Baltiese hout is vir die raamwerk gebruik met ‘n fondasie van gekapte klip uit die omgewing. Die invulmure is van handgemaakte, songedroogde stene gebou en gepleister.


Aletta word deur haar suster Marie in die tuinpaadjie voor die huis vasgehou. Daar is ‘n ongeveer 19 jaar ouderdomsverskil tussen hulle

Aletta en haar pa, Stephanus Sebastian Vivier, in die agtergrond. Die huis se voorstoep was met gaas toegespan

In die vroeë 1900’s is die huise se houtvloere hoog bo die klipfondasies opgerig om teen klammigheid te beskerm. Houtskuifraamvensters en glas-en-houtdeure was gewild en daar was oorspronklik ‘n skoorsteen van baksteen tussen die kombuis en die vuurherd in die sitkamer gebou.

Die meeste katalogus-huise se voordeur is deur ‘n stoep afgeskerm om die huis koel te hou. Die Britte was baie bang vir Afrika se hitte en die meeste noordelike vensters het ‘n klein sinkdakkie gehad om die son uit te hou. Die huise het ook almal hoë spitsdakke met solders gehad om die Afrika-hitte draaglik te maak.


‘n Voorbeeld van ‘n William Cooper katalogus vir ‘n kerk, klubhuis,
konsertsaal en ‘n ‘bungalow’-styl huis

Ontstaan
Die bloeitydperk van voorafvervaardigde hout-en-sinkkonstruksies in Suid-Afrika was van 1890 tot 1920, maar sinkplate was sedert 1846 in die land, 16 jaar nadat dit vir die eerste keer in Brittanje vervaardig is.

Aanvanklik was die sinkkonstruksies wat met die ontdekking van goud en diamante opgerig is, maar primitief. Los sinkplate het die myners se tente vervang omdat dit waterdig is, beskerm teen vuur, weerstand teen termiete bied, maklik hanteerbaar en vervoerbaar is, en duursaam en bekostigbaar is.

In die laat 1840’s het dit vir die eerste keer relatief goedkoop geword om ysterprodukte te maak en massavervaardiging het moontlik geword. Yster kon net in industriële lande, soos Brittanje, vervaardig word. Die eerste voorafvervaardigde huise wat in Britse kolonies opgerig is, was letterlik ysterhuise, uit dieselfde gietyster waarvan vuurtorings gemaak is. Sekere van dié huise staan vandag nog in Australië en Jamaika.


Humphreys het sink-ontwerpe adverteer vir kerke, sendingstasies, hospitale, klubhuise, koloniale huise, ‘bungalows’ en jaghuise

‘n Sinkhuis-ontwerp deur ET Bellhouse & Co, gepubliseer in 1850
.

Die ysterhuise was te onprakties om massa-produksie van voorafvervaardigde huise bekostigbaar te maak en die lang, dun ysterplate het te maklik gebuig en beskadig. Gegolfde sinkplaat of riffelsink, en gegalvaniseerde yster was toe nog deur oorspronklike patentregte beheer.

Golwing het ‘n dun ysterplaat baie stewiger gemaak en die ingenieur HR Palmer kon in 1849 liggewig gebuigde dakke van riffelsink vir die Londense hawe begin bou. In dié stadium was riffelsink in klein stukkies vervaardig, amper soos teëls. Palmer het versink-klinknaels gebruik om die stukke aanmekaar te sit en sy stelsel gepatenteer.

Hy het die regte aan Richard Walker, wat die materiaal begin vervaardig het, verkoop. Ongelukkig was Richard se prys so hoog dat hy min klante kon vind. Een uitsondering was JH Porter van Birmingham wat in 1848 riffelsink-en-houthuise begin maak het vir uitvoer na Trinidad, Jamaika. Sy firma, wat later Porter Brothers & Stuart geword het, het baie sulke huise na Australië se myngebiede begin uitvoer.


Aletta en Basie, wat op die Springbokke se 1956 toer na Nieu Seeland vertrek

Stormloop
Die regte massaproduksie van dié huise het eers met die goudstormloop van 1848-50 in Kalifornië, Amerika begin. Die eerste huis wat na Kalifornië gestuur is, was ontwerp deur vlootingenieur, John Grantham, en gebou deur skeepsbouers, Thomas Vernon & Co. Dit was een van die eerste geboue wat die galvaniseringsproses (sink-oortrekte of blik-oortrekte yster) gebruik het.

Die Victoriaanse-tydperk se goudstormlope in die 1850’s het gelei na die wêreldwye verskeping van meer voorafvervaardigde huise as ooit sedertdien. Een van die mees prominente vervaardigers wat die mark toe betree het was Samuel Hemming van Bristol. Sy eenvoudige huise was nie juis aanskoulik nie, maar die hoeveelhede wat hy verskeep het was merkwaardig. Daar is gesê dat hy elke week ‘n volledige sink-dorpie verskeep het.

Die mooier, tipies Victoriaanse sinkhuise is deur Bell & Miller argitekte en ingenieurs van Glasgow in Skotland begin ontwerp en in Edinburgh deur Charles D Young & Co vervaardig. Bell & Miller is in 1850 deur Robert Bell en Daniel Miller gestig.


Aletta op die voorstoep van haar geboortehuis in April vanjaar. Wat is die geheimsinnige ligbal (orb)?

Skotland
Die argitektoniese ysterbedryf in Skotland was wêreldleiers teen die einde van die 19de eeu. Skotse firmas soos Robertson & Lister, AJ Main, W & P McLellan, en William Bain & Co het in die vervaardiging van sinkgeboue, van kerke tot stadsale en hospitale, begin spesialiseer. Charles D Young & Co het later Robertson & Lister se bedryf oorgeneem.

Ander vervaardigers van dié soort huise was Edward Taylor Bellhouse van Manchester, Morewood & Rogers, James Middlemass van Edinburgh, Kirkwood & Sons van Edinburgh, McKean & Parkes van Birkenhead, Boydell & Glasier van Birmingham, en in Londen was daar die maatskappye van William Cooper, Humphreys en die Camden Works.


Basie Vivier se begrafnisbrief

Wie van hulle se huise in Cullinan beland het is nie altyd duidelik nie, omdat min vervaardigers boumateriaal met hulle name gemerk het. Daar was drie uitsonderings. John Walker, seun van die oorspronklike vervaardiger van riffelsink, het naamplaatjies aan sy sinkplate gesit.

JH Porter van Birmingham, wat sy geboue ‘onderteken’ het deur sy naam in die sink te giet, was vanaf 1853 in vennootskap met Porter Brothers & Stuart. Die enigste ander vervaardiger wat sy geboue gemerk het was Walmsley van Londen, wat in die Morewood & Rogers katalogus te siene was.

Die gedrukte plafonne, kaggels en ‘Oregon pine’ vloere van die huise was deel van die pakket wat van Skotland ingevoer is

 

© 2020 Die/The Bronberger