Plakkers lê Pienaarspoort-plotte in puin PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 23 June 2014 23:30
Untitled Document

Pienaarspoort is besig om te ontvolk. So sê bekommerde inwoners wat sien dat dit al hoe moeiliker raak om eiendom hier te verkoop. Huise en winkels wat leeg staan, word binne ‘n oogwink gestroop tot net puin oorbly.

Die 84-jarige Fanie Gericke van plot 30, Pienaarspoort se huis is binne net meer as twee weke vandat hy uitgetrek het, in puin gelê. Sy buurvrou, Petro Lemmer, vertel dat Fanie sedert sy dogter, Mollie, se dood twee jaar gelede deur stropers geteister is.

Volgens Petro, wat op ‘n weeklikse basis opheffingswerk in die plaaslike plakkerskampe doen, kom dié stropers nie van die plakkerskamp op plot 45, Pienaarspoort of die naburige Lethabong nedersetting op plotte drie en vier, Donkerhoek nie. Petro sê dat stropers se spore telkens deur die sandgate in die rigting van Mandela Village-plakkerskamp in Mamelodi verdwyn.


Die enigste stuk plafon wat nog oor is van
Fanie se huis


Knap twee weke voor dié foto geneem is, het hier nog ‘n huis gestaan

Teister
Fanie het vroeër jare in Monumentpark gebly en plot 30 meer as ‘n dekade gelede gekoop sodat Mollie haar liefde vir perde daar kon uitleef. Met haar dood ná ‘n breingewas, het Fanie alleen op die plot agtergebly en was vir twee jaar aan teistering blootgestel.

In sy jong dae was Fanie ‘n SA kampioen langafstandatleet. Sy sitkamer se hele muur was vol medaljes wat vir skrootmetaal gesteel is. Petro vertel dat Fanie ‘n wel belese, berese en hooggeleerde man met twee grade is, maar so deur die teistering afgetakel is, dat hy nie meer kon voortgaan nie.


Oorblyfsels van Fanie Gericke se huis op plot 30, Pienaarspoort

Hulle het begin deur sy kragkabels en selfs Eskom transformator te steel, daarna sy elektriese hek en alle pale in sy elektriese omheining. Later het hulle in die huis begin ingaan terwyl Fanie slaap en al sy linne, kombuisimplemente, breekgoed en wasmasjien gesteel. Hulle het selfs sy oorlede vrou, Lenie, wat opera gesing het, se klavier stukkend gekap om by die metaaldele binne-in uit te kom.

Petro sê dat hulle Fanie se selfoon gereeld gesteel het as hy slaap en gewag het tot hy ‘n nuwe foon kry, net om dit weer te steel. So is sy vuurwapen ook uit sy bedkassie gesteel. Ná die wasmasjien gesteel is, het Petro Fanie se lakens gewas, maar elke keer as sy skoon linne terug geneem het, is die hele bondel weer gesteel.

Op die einde moes bure daagliks vir Fanie water aanry omdat sy boorgatpype en boorgatpomp so gereeld gesteel en vervang, en weer gesteel is en selfs die krane uit die mure van sy kombuis en badkamer geruk is.

Fanie het vyf honde gehad en in die teisteringsproses is die honde geskop, hulle bene gebreek en so getraumatiseer dat een van hulle, ‘n Doberman wat aan Mollie behoort het, permanent uit vrees in die kamer gebly het.


Wat oor is van die Towsens se woonhuis op plot 31, Pienaarspoort

Gemeenskap
Petro sê dat die gemeenskap probeer doen het wat hulle kon om Fanie te help. Sy sê dat hulle dankbaar is vir die Kleinfonteinse Conserv-gemeenskap, spesifiek Jan Beyers en Ross Welsh, wat so gereeld uitgekom het as iets met Fanie gebeur het.

Die laaste insident was op 17 Mei toe die stropers Fanie aangeval en lelik beseer het. Noodhulp is ontbied, die Conserv-gemeenskap het uitgekom en aanbeveel dat Fanie onmiddellik daar moet weggaan. Die probleem was dat Fanie nêrens gehad het om heen te gaan nie.

Petro kon daardie dag vir hom plek kry by Shammah-huis, net buite Cullinan, maar hulle het nie vir hom ‘n bed gehad nie. Sy sê dat daar darem nog een bed in Fanie se huis oor was en sy het hom daardie selfde dag soontoe geneem en sy testament en foto-albums vir hom saamgeneem. Wet Nose Dierereddingsentrum het Fanie se vyf honde onder hulle vlerk geneem.


‘n Ou saal van Fanie se oorlede dogter, Mollie, lê tussen die bourommel

Fondse
Die gemeenskap het die houtpaalheining, wat hulle ná die diefstal van die elektriese omheining vir Fanie opgerig het, daardie naweek verwyder. Hulle gaan die hout verkoop en die opbrengs vir Fanie gee.

Petro sê dat die huis binne die eerste drie dae nadat Fanie uitgetrek het, van alle bedrading, handvatsels en kaste gestroop is. Die dak was toe nog op. Buurman Anton van Tonder het die dakplate afgehaal, wat ook verkoop gaan word vir fondse. Toe Anton daar weg is, het die stropers met hulle eie kragopwekker opgedaag om die staalrame van die vensters op te sny om makliker weg te dra.

Ná net ‘n bietjie meer as twee weke was daar bykans niks van Fanie se huis oor nie. Selfs die winkeltjie op sy plot is van alle metaal gestroop. Die stoep was met tralies ingehok, wat saam met die dakplate gestroop is.

Inwoners blameer skrootmetaal handelaars, wat nie seker maak dat goedere wat by hulle aangebring word nie gesteel is nie, vir die vernietigingsproses.


Dié winkeltjie op plot 30, Pienaarspoort is gestroop sedert Fanie weg is. Voor die stoep was daar ystertralies wat die winkel ingehok het.

Bure
Fanie se plot is nie die enigste een in die omgewing wat onder stropers deurloop nie. Plot 31, wat eers aan die Towsens behoort het, lê ook in puin. Dit is die plot waarop Annemarie Towsen ‘n perdryskool gehad het, poniekampe gehou het en Angels with Hooves, ’n nie-winsgewende maatskappy wat perd-geassisteerde sielkunde en perdeterapie vir kinderhuis-kinders doen, bedryf het. Hulle het reddingsgeval-perde wat gerehabiliteer is van verhongering of mishandeling vir die projek gebruik.

Van die stalle, wat nog so ‘n jaar en ‘n half gelede daar gestaan het, is niks oor nie. Al wat van die klubhuis oor is, is ‘n paar halwe bakstene en stukke pleister, en die huis is gestroop.

Petro sê die plot behoort aan Standardbank, wat die plek al drie keer probeer opveil het. Standardbank het blykbaar wagte daar gehad om die plot op te pas, maar dié is weg na hulle deurlopend aangeval is.


Die slote rondom die huis wys waar die kragkabels oopgegrou en gesteel is
.
.

Daar woon drie gesinne in die ou Van Heerden woning se buitegeboue, wat beteken dat sekere dele van die huis darem bly staan het

Al wat oor is van Angels with Hooves se klubhuis
.
.
.

Afgebrand
Plot 33, Pienaarspoort het aan Dawie en Zelda van Heerden behoort. Petro sê dat die huis so drie jaar gelede afgebrand het, maar dat die mure nog min of meer staande bly omdat daar drie gesinne in die buitegeboue woon.

Dawie is intussen oorlede en plot 33 vorm nou deel van die grond waarop Gerard Braak Ontwikkeling ‘n aansoek om dorpsontwikkeling gedoen het. Die ander plotte wat in dié moontlike dorpsontwikkeling ingesluit gaan word is plot 34, Pienaarspoort van Dirk Geldenhuys en gedeelte 27 en 28 van Donkerhoek 365 JR.

Volgens Petro woon die eienaars van Pienaarspoortplotte 40 en 41 ook nie op hulle plotte nie, maar dit word uitverhuur of het toesighouers. Sy sê dat eienaars nou probeer om hulle plotte as ‘n blok te verkoop, maar niemand wil daar koop as hulle eers gesien het hoe naby die plakkerskampe is nie.


Die ou Van Heerden woning op plot 33, Pienaarspoort het ongeveer drie jaar gelede afgebrand

 

© 2019 Die/The Bronberger