Seekossjef ken haar storie PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 23 June 2014 21:27
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Ons mik op ‘n mooi Sondag vir die nuwe kuierplek wat by die ou Egons op Kaalfontein oopgemaak het, maar ons kom aldaar voor dooimansdeur aan en ons druk deur Rayton toe.

Op Rayton het Spero’s onlangs by die dorp se grootste koopsentrum oopgemaak. Ons het gehoor hulle is groot op seekos.

Die Sondagkuier by Spero’s het toe goeie en smaaklike seekos, ‘n gesellige kuier in ‘n netjiese eetplekkie, suidpoolkoue rooiwyn en ‘n baie geesdriftige, dog erg onkundige kelner opgelewer. Die kelner het wel plek-plek my kalmblyspiere byna tot barstens toe beproef, maar daarby ook vir kosbare vermaak gesorg en die lagspiere lekker geprikkel.

Jy kan by Spero’s buite op die sentrum se geplaveide loopvlak, agter ‘n vierkantige afskorting, onderdak sit, of jy kan binne neffens die netjiese kroeg by ‘n tafeltjie loop plaasneem.


Die netjiese binnewerke van Spero’s

Ons besluit op binne en dis met die inloopslag wat ek die eerste keer met ons kelner kennis maak. So byna loop sy my plat in haar poging om voor ons by die deur in te kom, sodat sy kan regstaan om haar kelnerding te doen. Die kelner kort ook ernstige opleiding in ‘table side manners’. Maar genoeg vir nou oor die kelner.

Spero’s het ‘n uitgebreide, dubbeldoelige spyskaart. Dubbeldoelig oor dit ook as ‘n plekmatjie diens doen. As jy nie geseënd is met baie goeie visie nie, hou maar die leesbril byderhand. Mense aan ‘n tafeltjie neffens ons geniet duidelik die driegang-maaltyd van die dag, maar ons wend ons tot die spyskaart.

Jy kan kies uit drie Engelse ontbyte waarvan die grootste (met boerewors en ‘steak’) R65 kos. Die kleinste kos R35. Omelette met vyf bykomstighede kos R34,95 en muesli met jogurt R29,95.

Ses weergawes van roosterbroodjies saam met skyfies weeg in tussen R32.90 vir die kaas-en-tamatie en R36,95 vir die eier-spek-en-kaas.

Spero’s spog met tuisgemaakte hamburger-frikkadelle. Die hamburgers se prys wissel tussen R54,90 en R65,90. Dit kom saam met tjips en uieringe.

Soos genoem bied die spyskaart ‘n wye en uiteenlopende keuse wat verskillende interessante snitte van bees, vark en hoender insluit, maar die klem val duidelik op seekosgeregte en vir my is dit ‘n welkome aanwins vir die omgewing.


‘n Goeie koningklipvis met gegeurde rys.

Die soppe is een van mossel, teen R45, en een van kreef, teen R48, en dan moet jy jou kelner vra oor die ‘sop van die dag’. Een van die voorgeregte klink heerlik met gevlokte rooksnoek, room, roomkaas en kruie.

Jy kan kies uit drie potjies: ‘n Gemengde seekospotjie, ‘n mosselpotjie en ‘n kerriepotjie met garnaalsterte. Metgesel besluit op die kerriegarnaalpot, teen die koue, sê sy. Dit kos R65. Later probeer sy die sjef se arm draai om die geheim van die kerrieresep te verklap. Sy dink nie sy het al lekkerder ervaar nie, sê sy.

Ek vra die kelner (soos die spyskaart sê ek moet) wat die lynvis van die dag is en kry ‘n ‘ek-verstaan-nie-kyk’ as antwoord. Ek probeer die Ingels: “Line fish,” sê ek. “Oh, lion fish,” sê kelner. “Nee, laainfish,” probeer ek weer. “Oh, laaijon fish,” sê sy. Nee, sy weet nie. Sy sal die sjef loop vra.

Kelner bly redelik lank weg. “Sorry,” sê sy met die terugkom slag, “we only have the butter fish.”

Ek bestel maar die koningklipvis (kingklip), en ek is bly ek het. Dit is reg gedoen met ‘n lekker suur bottersousie. Dit vlok reg en die porsie is billik teen R94.90. Die koningklipvis en kerriestertjies kom saam met ‘n lekker gedokterde rys of saam met skyfies.

Die ruimte laat my nie toe om verder uit te brei oor die spyskaart nie. Genoeg om te sê dat Spero’s dié plek blyk te wees om jou seekoslus te loop bevredig. Die keuse is wyd en dis opwindend. As die twee geregte wat ons beproef het ‘n maatstaf moet wees, dan ken die sjef haar seekossaak.

Jy kan hulle bel by 072-507-8314.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online