"Hy't my van die pad af probeer druk" PDF Print E-mail
News - Briewe
Wednesday, 17 September 2008 18:20
Untitled Document

Annelle Murray skryf:

Net ’n dringende waarskuwing aan padgebruikers wat verby die Silver Lakes Action Sports in Lynnwoodweg ry, veral na sononder. Ek het Dinsdagaand 2 September laat daar verby gery toe ’n blanke man met ’n rooi Golf my van die pad af probeer ry het.

Toe ek naby die sport klub se in gang kom, het ’n voertuig voor my ingery. Toe ek sien dat die tweede voertuig ook ’n kans wou waag deur ook voor my in te ry terwyl ek op spoed was, het ek my ligte vir hom geflikker om seker te maak dat hy my sien aankom.

Hy het vir my gewag om verby te ry en toe vol spoed so na as moontlik herhaaldelik op my voertuig afgejaag. Daarna het hy my verby gesteek, maar aan die regterkant van die pad gery en my voertuig van die pad af probeer druk.

Ek het versnel om te probeer wegkom, maar hy het toe voor my ingery en herhaaldelik voor my gerem. Ek het hom verbygesteek en gejaag tot by die kruising van Silver Lakes-weg en Grahamstraat.

Hy het op my gegil, gedreig en gevloek. Kon nie duidelik hoor wat hy woedend geskreeu het nie, my venster was toe gewees. Ek het hom geïgnoreer, my selfoon geneem en ’n oproep om hulp gemaak. Toe hy sien dat ek om hulp bel het hy so vinnig as moontlik weggejaag sonder dat ek sy registrasienommer kon neerskryf.

Ek is vas oortuig dat as ek nie ’n oproep gemaak het nie, hy my uit my voertuig sou ruk en aanrand. Hy was heeltemal buite beheer, heel moontlik erg onder die invloed van drank.

Ek ry al 10 jaar lank in Lynnwoodweg, dikwels laataand, en was nog nooit eers deur ’n anderskleurige man so behandel nie, maar deur ’n wit barbaarse Afrikaans-sprekende man!

Wat word van ons mans? Ek was erg geskok, ontnugter en teleurgestel toe ek by die huis kom. Ek kyk nou met nuwe oë na wit mans wat duidelik nie meer vertrou kan word nie. Ek is deeglik voorbereid vir volgende keer. Hy het duidelik geen opvoeding ontvang nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger