Die rookwedstryd PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 23 June 2014 21:21
Untitled Document

Hy wil nou nie lelik wees of laster nie, sê Gert Mossie, maar hy dink die groep beswaardes wat Duiwelspiek se naam wil laat verander, speel met vuur.

Hulle verander juis deesdae so graag aan goeie, volkseie name en voor jy jou oge uitvee sit daai buurkoppie van Tafelberg opgesaal met die naam van ‘n ander ongewenste in ons midde – Zumakop, of iets ewe aakligs. Soos die Ingelse sê; “better the devil jou know,” sê Gert.

Dit maak hom sommer de duiwel in, sê Groot Piet. Hoekom dan torring aan name wat eeue al, party selfs van Adam se tyd af, goed genoeg was?

Ook niks verkeerd met die woordjie ‘piek’ nie, sê Piet, solank jy net onthou om jou alfabet mooi in lyn te hou. En wat dan nou van Duiwelskloof en Hotazel? En van Nigel en Holland, laat hoor Allan Prentjies van agter sy koerant uit.

Julle weet mos waar Duiwelspiek sy naam gekry het? Dit kom uit die goeie ou dae toe die Kaap nog Hollands was, sê Gert Mossie. Hulle sê daar het ‘n ou Hollander aan die voet (seker eintlik die tafelpoot) van die berg gebly, en dié ou kon verskriklik pyprook. Sy naam was Jan van Hunks en hy het ‘n verskriklike omgekrapte ou vrou gehad.

Nou het die beduiwelde ou mevrou Van Hunks net mooi niks van ‘n gerokery in haar hartbeeshuisie gehou nie. Só het sy ou Van Hunks en sy pyp elke keer by die huis uitgeboender as hy die ding wou brandmaak. Dan het ou Van Hunks maar telkens met sy klompe teen die hang van die piek opgeduiwel en op ‘n plat klip loop sit en rook. Vir sy vrou was ou Jan banger as die duiwel vir ‘n slypsteen, kan jy maar sê.

Op ‘n mooi dag, sê Gert Mossie, terwyl Jan nog so lekker aan sy pyp sit en stook, kom sit die ou satang homself hier vlak langs hom op daai plat klip: “Jy is mos ‘n Stormer,” sê die duiwel.” “Wat sê jy van ‘n rookwedstryd tussen jou en my.”

Jan van Hunks laat hom ook nie twee keer nooi nie, sê Gert Mossie. Behalwe vir sy vrou, skrik hy vir geen duiwel nie. “En jy speel seker haker vir die Rooi Duiwels,” sê Jan. Onthou, dit was lank gelede, sê Gert.

En kort voor lank, sê Gert, skop die wedstryd af. Van Hunks en die duiwel meet kragte in ‘n vurige rookstryd om te bepaal wie die beste kan rookmaak. Daar is ook nie ‘n skeidsregter wat die wedstryd kan beduiwel nie, sê Gert Mossie. Die spanning is ondraaglik. Wie sal die pyp rook en as oorwinnaar uit die stryd tree? Ja, sê Groot Piet, en Nuweland se skare het seker vir die duiwel geskree.

Hoe ookal, sê Gert, die fluitjie blaas en die stryd begin . . . Maar ek dog jy sê daar was nie ‘n skeidsregter nie, sê Piet. Nee man, dit was die skeepsfluitjie van die Drommedaris daar onder in die hawe, sê Allan Prentjies.

Jan van Hunks het sy meerschaumpyp styf gestop met sy Springbok-twak, sê Gert Mossie. Die duiwel gebruik Boxer in sy hardekoolpyp en die rook trek dat die duiwel daarop staan, sê Gert.
Teen halftyd lê die rookwolk al halfpad teen Tafelberg op. Van Hunks en die duiwel eet hulle halwe lemoene, smeer ‘n bietjie Wintergreen aan die seer spiere en sit die stryd voort.

Toe die eindfluitjie blaas, sê Gert, hang daar ‘n dik wolk oor die tafel van Tafelberg en oor die piek van Duiwelspiek. Só erg was dit, sê Gert Mossie, dat jy tot vandag toe nog daai wolk oor die berg kan sien hang. Vir sy bydrae, het hulle die piek toe Duiwelspiek gedoop. Die oumense kon nie Van Hunks spel nie.

Ja, maar wie het toe gewen, vra Groot Piet. Wie het toe die rookwedstryd aan die ou einde van die dag gewen?

Nee, dit, sê Gert Mossie, sal net die duiwel alleen weet . . .

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online