Boschkop-misdaad kry hoë aandag PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 23 June 2014 22:55
Untitled Document

‘n Dringende vergadering tussen gemeenskapsleiers en die SAPD se provinsiale verteenwoordigers is einde Mei gehou om die onlangse toename in geweldsmisdaad in die gebied aan te spreek. Dié vergadering is op 10 Junie met ‘n strategie-vergadering opgevolg.

Verlede maand het ons berig dat Charles Groenewald van Boschkop se moord een van minstens ses voorvalle binne vyf dae van gewapende plundering op hoewes in die onmiddellike omgewing was.

Die gemeenskap van Boschkop het die aand van 20 Mei drie gewapende verdagtes vasgetrek. Hulle was besig om die gebied te patrolleer en het ʼn verdagte ligblou enkelkajuit Nissan-bakkie met vyf insittendes gesien. Die bakkie het probeer wegjaag en inwoners wat in ‘n vergadering oor die vlaag misdaad was, het die pad afgesper.

Twee verdagtes wat agter op die bakkie was, het gevlug en die drie wat voor in die bakkie gesit het, is in hegtenis geneem. Die polisie het beslag gelê op twee onwettige vuurwapens, ʼn selfoon, huisbraaktoerusting, handskoene, blou oorpakke en wors wat vermoedelik met gif besmet is om honde mee te vergiftig.

Die vergadering wat in Mei oor dié vlaag misdaad gehou is, is bygewoon deur gen Gela, Gauteng Provinsiale SAPD adjunk-kommissaris, Andy Mashaile, Gauteng Provinsiale Gemeenskapspolisiëringsraad-voorsitter, verskeie SAPD provinsiale leiers, brig Kweyama, die oorkoepelende SAPD Bronkhorstspruit polisiëringsgroep-kommandant, kapt van der Merwe, Boschkop-Polisiestasie se waarnemende stasiebevelvoerder en verskeie Boschkop-departementshoofde, en verteenwoordigers van plaaslike gemeenskapsgroepe, insluitende Lethabong nedersetting.

By die strategie-vergadering op 10 Junie het gemeenskapsleiers van die landelike dele van die Boschkop SAPD-gebied met lede van die SAPD van provinsiale vlak, die oorkoepelende Bronkhorstspruit-polisiëringsgroep en Boschkop-Polisiestasie gekoukus oor maniere om die gemeenskap in misdaadbekamping te betrek.

‘n Strategie-vergadering is in middel-Junie gehou waar ‘n kleiner groep gemeenskapsleiers SAPD operasionele rolspelers geraadpleeg het om ‘n omvattende misdaadbekamping en -voorkomingstrategie te beplan.

Fokuspunte wat die gemeenskap uitgewys het, is die volgende: onwettige drankverkope en die sjebiens waar misdadigers byeenkom om inligting uit te ruil; skrootmetaalhandelaars wat nie seker maak dat goedere wat aangekoop word (soos koperkabels en omheinings) nie gesteel is nie; en indiensneming van onwettige immigrante.

Mike Strange van die Boschkopse Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sê dat die gemeenskap die provinsiale SAPD se positiewe terugvoer, pogings en beloftes om kwelpunte in ons gebied aan te spreek, waardeer.

Vir meer inligting oor vergaderings, besoek die Boschkopse GPF webtuiste: www.boschkop.co.za.

 

© 2019 Die/The Bronberger