Kleurvolle Cowboy-kolonel lei Iere teen Engelse in oorlog Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 23 May 2014 00:11
Untitled Document

Angie Kleijn

“Enige vyand van Engeland is ‘n vriend van ons.” Dit was die leuse van die Ierse Brigade wat deur kolonel John Young Fillmore Blake, ‘n Amerikaner wat aan die Apache-oorloë deelgeneem het, aangevoer is. Sy kodenaam onder die Boere-owerhede was ‘Mielies’.

Toe die oorlogswolke in September 1899 swaar oor die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) begin saampak, het die Iere aan die Witwatersrand ‘n manifes opgestel. Daarin is hulle eeue-oue lydensgeskiedenis onder Engeland uiteengesit, en ook uitgewys hoe Cecil John Rhodes sedert 1895 saamgesweer het om die ZAR oor te neem en van sy goud te beroof.


Beau Blake
Foto: Leo Weinthal

Die manifes het ook gelui: “Gaan ons toelaat dat dieselfde lot wat Ierland in puin gelê het, die Transvaal ook tref? Wreek julle, Iere! Ons roep julle op om te veg teen die nasie wat ons mense meer as 700 jaar lank onderdruk. Die Iere moet wrekers en nie mede-samesweerders van sulke misdade wees nie.”


Die Vierkleur voor Trinity College, Dublin wys dat pro-Boer-koors hoog geloop het in Ierland
Foto: ‘Le Petit Journal’, 31 Desember 1899

Vrywillig
Vyfhonderd-en-sewentig Witwatersrandse Iere het aansoek om ZAR burgerskap gedoen om vir die behoud van dié Republiek te veg. ‘n Aantal vrywilligers het ook uit Ierland, via die Portugees-beheerde Delagoabaai, aangekom.

Majoor John McBride, ‘n Ierse apteker wat in 1896 aan die Rand kom woon het, was die dryfveer agter die Ierse vrywilligers, wat in drie groepe opgedeel was: ‘n Kommando van 300 mans wat in Natal onder kolonel John YF Blake geveg het; ‘n kommando van 20 mans onder kolonel Arthur Alfred Lynch; en ‘n derde kommando van 50 mans, ‘n Iers-Amerikaanse noodhulpvereniging, onder kaptein Patrick O’Connor.

Majoor McBride is aanvanklik as bevelvoerder vir die Ierse Transvaalse Brigade gekies, maar het glo gesê dat hy nie vir die pos geskik was nie weens ‘n gebrek aan militêre ervaring.

Kolonel Blake, wat in die Amerikaanse Militêre Akademie opgelei is en in die Amerikaanse ruitery teen die Navaho- en Apache-stamme geveg het, was op daardie stadium ‘n goud-prospekteerder in Johannesburg. Hy het die pos aanvaar op voorwaarde dat geen lid van die brigade enige vergoeding sou ontvang nie.


Die Ierse Brigade met bevelvoerder, kolonel John Young Fillmore Blake, in die voorste ry, twee plekke links van die konsertina-speler
Foto: New History

Beau
John Young Fillmore Blake, bekend as Beau, is op 6 Oktober 1856 in Bolivar, Polk-distrik, Missouri gebore.

Sy pa, Thomas Kinkade Blake, het met Sinclair T (Clara) Chitty getrou toe sy maar 15 jaar oud was. ‘n Aantal van hulle kinders is jonk dood, maar dié wat oorleef het was: Jesse Columbus, bekend as Gabe; Missouri Elizabeth; William, bekend as Pone; Larkin Lafayette, bekend as Doc; Paulina Jennie; Thomas Taylor; Clara F; en John YF, bekend as Beau.

Teen Beau se geboorte was die konflik, wat in 1861 op Amerika se Burgeroorlog sou uitloop, klaar aan die gang. Twee jaar voor dié oorlog het Beau se pa die gesin in ‘n wa gelaai en na die Denton-distrik in Texas getrek waar hulle met beeste geboer het en Beau leer perdry het om ‘cowboy’ op sy pa se plaas te wees.

Ná die oorlog, in 1865, was Texas egter net so ‘n gevaarlike plek om te woon as enige ander suidelike staat. Daar was voortdurende aanvalle van Indiaanse stamme en die boere, wat ná die oorlog ontwapen is, kon hulle self nie teen dié aanvalle beskerm nie.

Die Blake-gesin het hulle plaas verloor en slegs die jongste seun, Beau, het saam met sy ouers na Bentonville, Arkansas getrek. Beau het in 1871 aan die Industriële Universiteit van Arkansas in Fayetteville begin studeer.


Geronimo

Ruitery
In 1876 is hy by die VSA Militêre Akademie in West Point aanvaar vir opleiding in die VSA Weermag. Ná sy opleiding het hy in Junie 1880 as tweede luitenant in Arizona by die Amerikaanse ruitery teen die Navaho- en Apache-stamme aangesluit. As bevelvoerder van dié ruitery het hy onder generaals Wilcox, Crook en Miles gedien.

In die lente van 1882 was hy op die spoor van die Chiricahuas, aangevoer deur Lodo. In die Enmedio-slag was dit Beau se afdeling wat die Indiane se perde weggejaag het.

Beau het in dié tyd verloof geraak en het in 1883 op trou gestaan toe sy verloofde hom op die laaste oomblik gelos het.

In 1885 is hy na Fort Bayard in Nieu Mexiko verplaas en het dieselfde jaar met Katherine Euphrasia Aldrich in Grand Rapids, Michigan getrou. Beau is in 1887 na Fort Leavenworth in Kansas verplaas, waar hulle eerste seun, Aldrich, op 6 November 1885 gebore is.


Die Ierse Brigade met die vlag wat van Ierland gestuur is deur Maud Gonne en die
Ierse-Transvaalse komitee
Foto: Priem, ‘De Oorlog in Zuid-Afrika’, 1900

In 1889 is hy na Fort Wingate in Nieu Mexiko verplaas. Hy het Apache-leier, Geronimo, van Fort Bowie in Arizona na Fort Pickens in Pensacola, Florida geneem. Sommige bronne sê dat dit Beau se gesprekke met Geronimo was wat hom laat bedank het uit die ruitery. Ander bronne sê egter dat sy vrou hom gedwing het.

In 1889, toe Katherine met hulle tweede seun swanger was, het Beau saam met sy gesin na Grand Rapids getrek waar hy die sakewêreld betree het. Sy tweede seun, Ledyard, is op 19 September 1889 daar gebore.

Sy vrou het van hom geskei en na ongeveer vyf jaar as sakeman het Beau die handdoek ingegooi en as goud-prospekteerder na Rhodesië getrek.


Majoor John McBride in die Engelse Oorlog

Rhodesië
Daar is aan Beau gesê dat Rhodesië ‘n Britse kolonie is wat deur mynmagnaat, Cecil John Rhodes, gestig is om goud te produseer. Die probleem was dat daar nie genoeg goud in Rhodesië was nie en dat Rhodes dit geweet het. Die plan wat hy gemaak het om beleggers te vergoed was om Boere-beheer oor die Witwatersrandse goud weg te neem met die Jameson-inval.

Beau het dit uitgevind en Rhodes se bedrog in ‘n reeks koerantberigte ontbloot, wat veroorsaak het dat die Jameson-inval nie gewerk het nie. Hy het menige vyande gemaak, maar een van die nuwe vriende wat hy bygekry het was president Paul Kruger.

President Kruger het vir Beau gevra om na London te gaan om die Boere se kant van die saak aan die owerhede, wat die Jameson-inval ondersoek het, te stel. As neutrale Amerikaner met ‘n goeie reputasie was Beau die ideale kandidaat, volgens Paul Kruger. Beau was vir 15 maande in Europa en Engeland.


Cecil John Rhodes

Terug
Met sy terugkeer na Johannesburg was daar ‘n oorlog aan die broei. Die Britse owerhede het beplan om tog Rhodes se plan uit te voer.

In die tyd toe die Witwatersrandse Iere besig was om kommando’s te vorm is hulle deur Clan-na-Gael, ‘n geheime Ierse organisasie, ondersteun. Volgens sekere bronne was Clan-na-Gael ‘n formidabele terroriste-organisasie en het verbintenisse met enige land, gemeenskap of individu, wat teen Engeland was, gevorm. Hulle was glo soos die Vrymesselaars in losies dwarsoor die wêreld georganiseer.

Volgens Heather Vallance, skrywer van ‘n onlangse boek oor Beau, genaamd ‘An unconventional soldier’, was Clan-na-Gael se top bestuurslede Ierse Amerikaners met hoë-profiel poste in die VSA se regering en weermag en het hulle vir 30 jaar, van die 1870’s tot die draai van die 20ste eeu, voorgeskryf wat in internasionale politiek gebeur.

Heather sê dat Clan-na-Gael egter vyande in eie geledere gehad het. Engelse intelligensie offisiere kon dit altyd regkry om ‘n senior lid van dié geheime Ierse organisasie om te koop.


“The Saga of John Fillmore Blake – The last Missouri Rouge” – Toby Giese

Verraad
Toe Beau in 1898 in Johannesburg van die trein afgeklim het, was John Devoy, ‘n invloedryke lid van Clan-na-Gael, glo reeds in die Engelse se sak sonder dat enige iemand dit geweet het.

John het in die Eerste Vryheidsoorlog seker gemaak dat geld aan die Boere voorgeskiet word omdat Clan-na-Gael belange in Witwatersrandse goud gehad het en seker wou maak dat die Boere in beheer daarvan bly. Dié keer het John egter vir die Engelse gewerk.

Beau het nie van John se ommeswaai geweet het nie. John het besef dat Paul Kruger vir Beau vertrou, dat hy uitstekende kontakte in die buitewêreld het, en ‘n opgeleide militaris was. Hy was die ideale kandidaat vir bevelvoerder en in Oktober 1899 het Beau die Ierse Brigade teen die Engelse gelei.

Beau se brigade het goeie diens aan die Boere gelewer. Hulle is aanvanklik na die Natalse grens gestuur en het aan ‘n aantal Natalse veldslae, soos Dundee, Colenso en Spioenkop, asook die beleg van Ladysmith, waar Beau gewond is, deelgeneem.

Hulle was ook deel van die Boere se terugtog deur die Vrystaat en Transvaal en ongeveer 30 mans het gesneuwel terwyl nog meer deur die Engelse gevange geneem is. In dié stadium het Beau besef dat sy brigade deur Clan-na-Gael verraai is.


Beau se boek, “A West Pointer with the Boers”

Ontbind
Die brigade is in September 1900 ontbind en die meeste oorblywende Iere het die grens na Mosambiek oorgesteek. Beau het in die ZAR agtergebly en tot in 1902 saam met die bittereinders geveg.

Daarna is hy terug na Amerika en het lesings vir Sinn Fein, ‘n Ierse nasionalistiese beweging, gelewer. Beau se boek, ‘A West Pointer with the Boers’, oor sy wedervaringe is as ‘n kritiese ontbloting van Engeland en Rhodes se motiewe en optrede beskou.

Volgens Heather Vallance is Beau ná die oorlog terug na Amerika om wraak te neem teenoor Clan-na-Gael, ‘n vyand wat hy nie kon oorwin nie, en wat dalk vir sy dood verantwoordelik was.

Beau is op 24 Januarie 1907 in die ouderdom van 51 jaar onder geheimsinnige omstandighede dood, net ná hy vir drie dae na ‘n siek vriend omgesien het. Hy is in sy huis in Harlem, New York vergas. Sy sterfte is glo as ‘n ongeluk opgeteken, maar die tyding is versprei dat dit selfmoord was.

Beau is in die VSA se Militêre Akademie begraafplaas by West Point in New York se Orange-distrik begrawe. Sy grafsteen is deur sy 1880 West Point klasmaats opgerig.


Beau se grafsteen is deur sy 1880 West Point klasmaats opgerig
Foto: findagrave

Monument
In 1952 het die Witwatersrandse Ierse gemeenskap ’n fonds gestig om hulde aan die Ierse vrywilligers in die Engelse Oorlog te bring. ’n Monument van gehamerde beton is in 1975 op die Brixton-heuwel in Johannesburg, naby die TV-toring, deur Stocks Construction (Rand) opgerig. Jan van Wijk, wat ook die Taalmonument ontwerp het, was die argitek.

Die monument is op 1 November 1975 deur Betsie Verwoerd, weduwee van dr HF Verwoerd, onthul.

Die Johannesburgse stadsraad het die grond waarop die monument staan in 1998 aan ’n ontwikkelaar, wat van die monument ontslae wou raak, verkoop.

Die monument is van sloping gered en is na Orania vervoer en heropgerig. ’n Kleindogter van dr Verwoerd, Elizabeth van den Berg, het die herinwyding op 2 Desember 2002 waargeneem.


Die Ierse Vrywilligers-monument wat op Brixton-heuwel in Johannesburg naby die Hertzog TV uitsaai-toring gestaan het
Foto: Henk Oosthuyzen, Afrikanerbakens, FAK

 

© 2020 Die/The Bronberger