Moordbende se plundertog eis Charlie se lewe PDF Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 23 May 2014 00:06
Untitled Document

Charles Groenewald van Charlie’s Algemene Handelaar op Boschkop is Maandagoggend 12 Mei in sy bed doodgeskiet. Sy vrou, Ralie, is kort voor die moord op Charlie erg aangerand.

Dit was een van minstens ses voorvalle binne vyf dae van gewapende plundering op hoewes in die onmiddellike omgewing.

Charles en sy vrou Ralie, ‘n egpaar in hulle sewentigerjare, het ‘n algemene handelaarsonderneming vanuit hulle huis op plot 49, op die grondpad van Oukraalmuur na die Boschkop Primary School (die groen pad), bedryf. Die Groenewalds bly al 35 jaar daar en het die winkeltjie meer as 20 jaar bedryf.


Die ingang na Charlie’s Algemene Handelaar
Foto: Maroelamedia

Charles was die oggend 9.30 in die bed en Ralie in die winkel, toe twee mans ‘n groot sak mieliemeel, wat nie deur die toonbanktralies kon gaan nie, wou koop. Ralie moes die hek oopsluit en hulle het haar in die gesig geslaan en gewurg.

Die een aanvaller het Ralie aangehou terwyl die ander een die huis in is. Ralie het skote gehoor en die aanvallers het laat spaander. Charles is in die bors geskiet en hy het die aanvaller in die maag geskiet. Niks is gesteel nie.

Die Groenewalds se bure, Johan en Joanne Greeff, was gou daar en het ‘n bebloede Charles op die vloer gevind en kon geen polsslag kry nie. Johan Koekemoer, voorsitter van die Boschkopse Conserv-buurtwag en die Boschkop-sektor se verteenwoordiger by die Gemeenskapspolisiërings-forum, was binne vyf minute op die toneel.

Johan het dadelik vir adjudant-offisier Kobus Ras van die Boschkopse Polisiestasie gebel en hy was binne tien minute daar. Johan het intussen die aanvallers na die Pienaarsrivier probeer volg, waar hy een ongeveer 300 meter van die huis af gekry het.


Polisie by plot 49, Boschkop, waar Charles Groenewald doodgeskiet is
Foto: BKA

“Hy het op sy rug gelê en nog asem gehaal toe ek by hom kom. Die ander aanvaller het hom geabba en hom langs die voetpaadjie gelos, wat beteken ons was kort op sy hakke,” sê Johan.

Die gewonde aanvaller is glo kort daarná dood en buurtwagte van Boschkop, Kleinfontein en die Mooiplaats-Zwavelpoort-Tierpoort (MZT) Gemeenskap het patrollies gevorm om die voortvlugtende te soek.

“Hierdie ouens beplan vooruit,” sê Johan. “Die ou het ‘n oranje baadjie aangehad wat hy uitgetrek het. ‘n Paar honderd meter verder het ons ‘n blou baadjie gekry. Hulle hou aan om van klere en kleure te verwissel.”

Johan bevestig dat Oom Charlie se moord die vyfde ernstige voorval in vyf dae in daardie gebied was. Die Donderdagaand/Vrydagoggend van 8/9 Mei was daar drie voorvalle. Honde is op een plot vergiftig, ‘n skootrekenaar is deur ‘n oop venster op ‘n ander plot gesteel en twee uur die Vrydagoggend is ‘n jong egpaar en hulle klein kindertjies aangeval.


Die Gautengse forensiese patologiese dienste daag op
Foto: Maroelamedia

Volgens Johan is die man die inwonende bestuurder van ‘n boorgat-onderneming. Ses gewapende rowers het by die huis ingebreek en die gesin aangehou. Hulle het die man vasgebind en die vrou deur die huis geneem om hulle te wys waar kosbare besittings gehou word. Hulle is met die gesteelde goedere en twee bakkies weg.

Dieselfde Vrydagmiddag is die 89-jarige Ted Burgoyne aangeval. Hy is met ‘n vuurwapen oor die kop geslaan en gevra vir sy kluis se sleutels en geld, wat hy nie gehad het nie.

Ted het vir hulle sy bakkiesleutels gegee en toe hulle uitstap, het hy die deur gesluit, sy haelgeweer gaan haal en op hulle losgebrand. Hulle is met die bakkie daar weg.

“Almal in die groter gemeenskap is woedend en voel desperaat,” sê Mike Strange van die MZT Gemeenskap. “Dit lyk asof ons nou weer van voor af aangeval word.”

Johan sê dat dié Boschkop-sektor vir tien jaar ‘n skoon rekord gehad het en nou was daar skielik vyf voorvalle in ‘n ry. Vier van die vyf voorvalle was by gesinne wat nie deel van die Boschkop-buurtwag is nie. Johan vra dat mense by die buurtwag aansluit om dié omgewing ‘n moeiliker teiken te maak.
Vir meer inligting, bel Johan Koekemoer by 082-926-3838.

~*~

ʼn Gesin van Jakkalsdans, buite Cullinan is op 12 Mei in ’n gewapende rooftog aangehou.

~*~

Kitty Hawk se klubhuis op die Boschkop-teerpad is twee keer in een maand, op 19 April en 13 Mei, beroof. Die wagte is vasgebind, en hulle het televisies, drank, biltong en kontant uit die kasregister gesteel en ook die ‘pool’ tafel en speelgoedmasjien oopgebreek. Die boewe het glo in ‘n wynrooi Nissan Sentra weggejaag. Die registrasienommer van die verdagte voertuig is FRN701GP.

~*~

Op 14 Mei om 4 nm was daar ‘n poging tot ‘n gewapende aanval op Klipkop. Gelukkig het niemand iets oorgekom nie, maar die buurtwag vermoed dit is dieselfde aanvallers as in Boschkop en vrees dat daar ‘n nuwe bende in die gebied bedrywig is.

~*~

Gert van Dyk (30) is 3 vm op 16 Mei in sy huis op ‘n plot in Elandshoek deur ‘n toe skuifdeur geskiet.

Gert het ‘n geraas by die deur gehoor en gaan ondersoek instel toe hy in die linkersy getref is. Die gewonde Gert het na die slaapkamer gehardloop om sy vrou, Andrea, en sy vierjarige dogtertjie, Clarissa te beskerm. Drie aanvallers het deur die stukkende deur ingekom en Gert se selfoon en die televisie gebuit voor hulle gevlug het. ‘n Operasie is gedoen om skade aan Gert se dun- en dikderm te behandel. Die koeël, wat teenaan ‘n nier lê, sou in ‘n opvolgoperasie verwyder word. Hy is buite gevaar.


Gert en Andrea van Dyk

 

© 2019 Die/The Bronberger