‘n Bok vir sports by die Stout Goat PDF Print E-mail
News - Vreethans
Thursday, 22 May 2014 21:54
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Sedert die ‘Stout Goat” se advertensie destyds in die Bronnie was, probeer Metgesel my arm in daai rigting draai. Op een mooi Sondag in Mei verklaar ek my toe maar ‘n bok vir sports en ons sit af Donkerhoek toe.

Die Stout Goat is ‘n kinderhemel op ‘n plotplek, kompleet met ‘n boktoring en allerlei om ‘n kinderpartytjie besonders te kan maak. Dit is ook ‘n bokmelkboerdery wat kaas en dergelike bokmelkprodukte verkoop, ‘n kwekery en ‘n teetuin. Ons is hier vir die teetuin.


‘n Spinasie quiche met bokmelkkaas en ‘n billike slaai

Metgesel is effe teleurgesteld dat die toring op dié dag bokloos is, maar ons sit aan in die netjiese teetuinplek en die baie lekker koffie dien dadelik ter trooste. Die koffie kos R12.50.

Dis ‘n sonnige voorwintersmore en as dit nie vir die verkeer op die ou Bronkiepad was nie, sou jy kon dink jy is op die plaas iewers. Die spyskaart is soortgelyk aan dié wat jy by enige teetuin sou verwag, maar met ‘n verskil: Jy kan ‘n deelbord met bokmelkkaas en piekels saam met beskuitjies bestel teen R130, jou ‘quiche’, teen R37,50 sal bokmelkkaas bevat en die kaaskoek, teen R30, sal ook.

Die teetuin by Stout Goat bedien ‘n groot ontbyt wat hulle ‘Billy’s’ noem en ‘n kleiner een met die naam van ‘Betty’s’. Billy kos R50 en Betty kos R30.

Die kolwyntjies weeg in teen R15 en die geroosterde broodjies tussen R15 en R22,50. Die boerewors-broodjie (roll) kos R25 en een met ontbytspek ook.


Die gerieflike aansitplek in die Stout Goat se teetuin

Ek oorweeg die peri-peri-hoendermagies, wat R30 kos. Dié het ek in Mosambiek leer geniet, waar hulle dit ‘Moelas’ noem, maar ek besluit om een van Stout Goat se hamburgers te beproef.

Die hamburgers se pryse wissel tussen R32,50 en R47,50. My keuse val op die kaasburger. Stout Goat se burgers is nie baie groot nie, maar dis baie lekker. Die frikkadel is vlesig en smaaklik onder die smeltkaas. Die skyfies is van meet af deur iemand uit ‘n selfgeskilde aartappel gebou en nie deur ‘n masjien in ‘n fabriek nie – net soos ek daarvan hou.

Ek wou ‘n glas bokmelk saam met my burger probeer, maar die kelner sê die bokmelk is gevries. Metgesel wys my daarop dat ek nie ‘n allergiese baba is nie. Die bokmelk is vir babas wat allergies is vir koeimelk, sê sy.


Die kaasburger is nie baie groot nie, maar dis baie lekker

Sy bestel die ‘quiche’ met spinasie en bokmelkkaas en ek kry ‘n lesing oor die verskil tussen ‘n souttert en ‘n quiche. Glo iets met die hoeveelheid eiers te doen, of iets. Die quiche kom in ‘n billike porsie met ‘n goeie slaai daarby. Metgesel is gaande daaroor dat die spinasie nie ‘hard en dood’ is soos wat sy glo dikwels ervaar nie.

Ek trek my stoute skoene aan en koop ‘n jogurt van bokmelk en ‘n jong ‘chevré’ met biltong vir huisgebruik. Ek sal weer-en-weer die gebokmelkde jogurt kan eet en die chevré vind ek erg aangenaam op roosterbrood. Chevré is ‘n romerige bokmelkkaas wat deur die Franse uitgedink is.

Jy kan Carol by 082-777-9325 bel, as jy meer wil weet.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online