Piepklein, maar parmantig PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 22 May 2014 23:49
Untitled Document

Aan sy naam kan ‘n mens klaar sien hoe ‘n kleinjantjie sal optree. Piepklein, maar parmantig moes dié langstertsanger, soos die jangroentjie en janfrederik, beslis ‘n mansnaam kry.

Die kleinjantjie het verskeie erkende subspesies, van die geelbors-, grys- en swartkopkleinjantjie tot die Ruddse- en bandkeelkleinjantjie, wat volop in ons kontrei voorkom.

Die swart halssnoer om ‘n bandkeelkleinjantjie se keel wys duidelik waar hy sy naam vandaan kry. Tog is dit nie altyd maklik om hom met die eerste oogopslag van die ander kleinjantjies uit te ken nie.


Bandkeelkleinjantjie

Hy word van die soortgelyke Ruddse kleinjantjie, wat ook ‘n swart borsband het, en geelborskleinjantjie onderskei deur sy geel oog – nie donkerbruin soos die Ruddse of ligbruin met ‘n rooi oogring soos die geelbors- nie.

Sy rugkant se kleur wissel van grys tot grysbruin. Sy keel is altyd wit, terwyl die onderste dele wissel van liggeel tot byna wit. Hy kan tot 13 cm lank word en weeg tot 10 gram.

Die bandkeelkleinjantjie is lief vir struike en kan in dorpstuine gesien word wanneer sy roep, ‘n skerp, vinnig herhaalde ‘pillip-pillip-pillip’, hom weggee. Die mannetjie en wyfie doen ‘n duet, waar die wyfie se stem as die hoër klank uitgeken kan word.


‘n Opperste klein parmant
Foto: The Flacks Photography

Bandkeelkleinjantjies se natuurlike habitat is struikgewasse in beboste klowe en immergroen woude. Hulle pik insekte, soos vlieë, sprinkane, besies, larwes, papies en spinnekoppe, van blare, blomme en stingels af terwyl hulle al langs die stamme opbeweeg. Dié voëltjies kan hulle dieet ook met vrugte aanvul en sal geredelik by ‘n swerm van gemengde spesies voëls aansluit.

Die broeiseisoen is van Augustus tot Maart en hulle bou nessies in ‘n struik of rankplant. Die nessie is ovaalvormig en bestaan uit plantmateriaal wat met spinnerakke aanmekaar gehou word. Die buitekant word met klein stukkies groen mos bedek en die ronde ingang is aan die kant.

Die wyfie lê drie eiers wat vir 14 tot 18 dae deur altwee ouers uitgebroei word. Die kuikens word daarna vir 13-18 dae deur die ouers gevoer voor hulle begin vlieg. Hulle is vir ‘n rukkie ná hulle die nes verlaat het nog afhanklik van hulle ouers.

 

© 2019 Die/The Bronberger