Sy blare is as seep gebruik Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 22 May 2014 23:47
Untitled Document

Al ooit gehoor van ‘n boom wie se blare soos seep skuim as jy dit in water roer? Die seepblinkblaar kry sy volksnaam vanweë sy blare wat ryk aan saponiene is en vroeër as plaasvervanger vir seep gebruik is. Dan groei hy ook nog ewe gerieflik langs strome.

Die seepblinkblaar, Noltea africana, is ongewoon omdat hy enkelsoortig is. Die Noltea-geslag het slegs die seepblinkblaar en staan bekend as ’n monotipiese geslag. Hy val in die Rhamnaceae familie, waartoe die rooi-ivoor, blinkblaar, wag-’n-bietjie en veerkoppie behoort.


Die seepblinkblaar se blommetjies

Dié groot struik of klein boom word twee tot ses meter hoog en kom uit die suidelike dele van ons land. Die seepblinkblaar is egter deur landskapargitekte ‘aangeneem’ en dwarsoor die land versprei, omdat hy so ‘n veelsydige plant is. Hy groei goed in die Bronberg-gebied, teen omtrent 70 cm per jaar, en blom as hy drie jaar oud is. Hy het matige reën nodig, maar oorleef die gewone winterdroogte in ons kontrei.


Seepblinkblaar

Dié geharde boompie is immergroen en soos hy groter word, kan sy takke ondertoe begin hang, amper soos ‘n wilgeboom. Hy het lang, getande, glansige blare and pers stamme en dra klein trossies wit blommetjies, wat vlinders en voëls lok, van Augustus tot September.

Die seepblinkblaar is ideaal vir ‘n klein tuin en kan ook as windskerm of heining aangeplant word. Hy groei goed in son en semi-skadu. Om sy groei te bevorder, gee hom gereeld water en voed met kompos.

 

© 2020 Die/The Bronberger