Aanslag op nuttige snorkpadda afgeweer PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 22 May 2014 23:47
Untitled Document

Dit was so hitte-te of alle gorrelskurwepaddas is voor die voet in Mooiplaats, Zwavelpoort en Tierpoort uitgewis.

“Honde vrek van die indringer padda, dit maak baie skuim en verdring inheemse paddas! Maak hulle dood as jy so een kry,” het die WhatsApp boodskap met foto wat op die MZT-Gemeenskap-groep verskyn het, gelees.

Mike Strange van MZT het vir Petro Lemmer, spesialis plantkundige van Pienaarspoort, gevra of dit waar is. Petro het op haar beurt vir Wulf Haacke, een van die bekendste herpetoloë in ons land gevra om die padda te identifiseer.

Wulf het as volg geantwoord: “Die foto wys ‘n onvolwasse gorrelskurwepadda of ‘guttural toad’, vroeër bekend as Bufo gutturalis, en nou as Amietophrynus gutturalis.


Die foto wat as dié van ‘n indringer-padda wat uitgewis moet word, aangestuur is

Dit is 'n inheemse soort wat geregtig is op sy plek in ons tuine. Ongelukkig maak hy staat op ‘n onsmaaklike, giftige uitskeiding van die velkliere om homself te verdedig. Dit mag kleiner honde wat onnosel genoeg is om hulle te byt, doodmaak. Moenie voor die voet doodmaak nie, want hulle is voordelig in jou tuin.” 

Die gorrelskurwepadda is ‘n groot padda, van 60-120 mm lank. Hy het twee donker vlekke op die neus en twee agter die oë wat ’n ligte kruis op die kop laat, en rooi pigment in die lieste.

Hulle drom in die aand onder ligte saam om insekte, wat deur die lig aangetrek word, te vreet. Gorrelskurwepaddas vreet omtrent enige iets wat beweeg en in hulle bekke sal pas, en hulle prooi strek van insekte tot slakke, spinnekoppe, duisendpote en selfs akkedisse en kleiner paddas.


‘n Roepende gorrelskurwepadda

Dié paddas kom algemeen in ‘n wye verskeidenheid habitatte voor en word ook in stede en dorpe en selfs binne-in huise, gevind. Hulle kan in permanente en semi-permanente staande water, soos tuindammetjies, uitbroei.

Die mannetjies roep in kore vanuit ‘n broeihabitat, soos ‘n dammetjie, en die wyfies word na die roep aangetrek. Die roep klink soos ‘n luide, uitgerekte snork wat in drie-sekonde tussenposes herhaal word.

Eiers word dwarsdeur die jaar gelê, maar daar is ‘n piek in die reënseisoen. Klein swart eiertjies word in twee parallelle stringe, wat 15 000 tot 25 000 eiertjies bevat, gelê. Klein donker paddavissies met helder vlekke verskyn na twee tot drie dae en verander ná 75 dae in paddas.
Gorrelskurwepaddas keer jaar na jaar na dieselfde broeiplek terug.

 

© 2019 Die/The Bronberger