Inwoners van die Cullinan- en Rayton-gebied kry die kans om munt te slaan uit die Tribe One Dinokeng-fees, ‘n wêreldklas musiekfees wat oor drie dae strek.
Dié fees, wat op 26, 27 en 28 September gehou gaan word, gaan na raming deur 100 000 mense bygewoon word en word gesien as Afrika se debuut in die globale musiekfees-program. Daar gaan 350 optredes, 62 verhoë en drie reuse hoof-verhoë wees.
Die fees bied geleenthede aan individue, sake-ondernemings en gemeenskappe om blyplek aan gaste te verskaf, etes of skoonmaakdienste te bied, kuns en handwerk te verkoop, promosies te doen, sekuriteit of vervoer te verskaf en om te help reëlings tref.
Inligtingsessies word in Junie in Cullinan se Rec-klub gereël om inwoners te vertel hoe om as diensverskaffer aan die fees te registreer. Daar word twee sessies per dag gehou, van 10 vm tot 1 nm en weer van 2 nm tot 5 nm.

Die afskopgeleentheid vir die Tribe One Dinokeng-fees is verlede jaar November net buite Cullinan gehou
Maandag 9 Junie is die tema verblyf; Dinsdag 10 Junie word kos en drank bespreek; Woensdag 11 Junie is dit tyd vir onderwerpe soos kleinhandel en kuns; Donderdag 12 Junie word logistieke voorsieners, wat ook vervoer insluit, aangespreek; en op Vrydag 13 Junie hou die Rockstar Akademie ‘n inligtingsessie oor registrasie-moontlikhede.
Mense wat wil registreer moet die volgende dokumente saamneem: Bewys van waar jy woon; ‘n gesertifiseerde afskrif van jou ID-boek of dié van die onderneming se eienaar en aandeelhouers; ‘n profiel van jou onderneming; ‘n BEE-status sertifikaat; die beslote korporasie of maatskappy se registrasie sertifikaat; bewys van besigheidsadres; bewys (met bankstempel) van bankrekening of ‘n gekanselleerde tjek; ‘n oorspronklike belasting klaringsbewys; en ‘n BTW registrasie-sertifikaat.
Die Tribe One Dinokeng-fees word deur die Tshwane-metroraad en vennote, Sony Music Entertainment en Rockstar4000, aangebied.
Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos aan
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
. Om ‘n digitale aansoekvorm af te laai, besoek www.tribeonefestival.com. Volg die feesreëlings op www.facebook.com/tribeonefest; twitter.com/tribeonefest of Twitter Hashtag: #TribeOneFest of Instagram: @TribeOneFest. |