‘Grondeisers’ vernietig Groot Vyf-grensdraad PDF Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 22 May 2014 21:41
Untitled Document

Die Groot Vyf kon na hartelus uit die Dinokeng-wildreservaat ontsnap nadat ‘n aangrensende gemeenskap die wild-heining op 9 Mei vernietig het. Die gemeenskap beweer dat 19 ha van die reservaat in 1997 aan hulle oorgedra is.

Sowat 500 mense het by een van die reservaat se hekke amok gemaak, terwyl meer as 100 ander omtrent ’n kilometer se wildheining geknip het, die veld aan die brand gesteek het en Dinokeng-werkers wat die brand probeer blus het en die heining wou herstel, aangeval het en met klippe gegooi het.

Die reservaat het op 10 Mei ‘n hofbevel verkry wat beskadiging van die heining, betreding, aanval van reservaat-werkers, en oprig van ongemagtigde strukture in die reservaat verbied. Die hofbevel is aan gemeenskapsleiers van die Hammanskraal/Refilwe-omgewing (nie Cullinan se Refilwe nie) beteken.


Al wat oor is van die heining tussen die Dinokeng-wildreservaat en plaaslike gemeenskap
Foto: Theana Breugem

Reservaatbestuurder, Piet Venter, sê die gemeenskap het geëis dat die reservaatheining verwyder moet word sodat hulle ’n skool en kliniek kan bou. Daar is aan hulle verduidelik dat die heining nodig is om die Groot Vyf binne te hou, dat die grond aan die regering behoort en dat daar ’n wetlike proses is wat vir grondeise gevolg moet word.

Die probleem word glo deur “buitestaanders” aangehits. Piet sê dat die reservaat se interdik teen Paul Mosoma, wat beweer hy is wyk 73 se voorsitter van Sanco (South African National Civic Organisation), is.

Dit blyk asof hy van die reservaatgrond “verkoop” het en dat mense nou “hulle grond” eis.

 

© 2019 Die/The Bronberger