Eers die slegte nuus . . . PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Thursday, 22 May 2014 21:08
Untitled Document

Jou Bronnie is dié maand propvol nuus – goeie nuus en slegte nuus. Eers die slegte nuus:
Op bladsy sewe kan jy lees van die moord op Charles Groenewald van Boschkop. Charles en sy vrou Ralie het al 35 jaar op hulle hoewe gewoon, waar hulle ‘n winkeltjie bedryf het. In ‘n oogwink het gewetenlose skurke ‘n einde aan ‘n eerlike, sinvolle lewe gemaak.

Ralie is erg aangerand om toegang tot die huis te kry. Charles se laaste daad op aarde sal deur sommige as goeie nuus beskou word: Hy het die skurk wat hom geskiet het in eie munt terugbetaal.

Die nuus raak nog slegter as jy lees dat hierdie maar een van ‘n sewestuks soortgelyke voorvalle in ons gebied binne ‘n enkele week was. Dit is duidelik dat die laakbare moordbendes hulle plundertogte in die landelike gebied van die Bronberg opgeskerp het. Dit is duidelik wié hulle teiken is en dit is duidelik dat hulle meen dié geteikendes se lewens mag maar sondermeer in die proses geneem word.

Slegte nuus is dit veral ook dat nie ‘n enkele uitvaagsel ná die week se misdaad-orgie in die gebied, aangekeer is nie.

Ontstellende nuus van ‘n ander aard kan op bladsy 13 gelees word. Sogenaamde grondeisers het ‘n wildheining by die Dinokeng-reservaat vernietig in ‘n poging om ‘n deel van dié Groot-Vyf-wildtuin te beset. Dit blyk dat ‘n gladdejakkals van uitnemendheid ‘erwe’ in die reservaat aan die besetters ‘verkoop’ het.

Hartseer nuus op bladsy elf is die afsterwe van Rayton se geliefde Annatjie Pieterse. Die honderde mense wat die gedenkdiens vir Annatjie bygewoon het, getuig van die mate waarop dié merkwaardige vrou die gemeenskap van die dorpie se harte geraak het. Hartseer ook is die dood, in verdagte omstandighede, van oom Louis en tannie Sandra Swanepoel van Mooiplaats.

En nou die goeie nuus: Entrepreneurs van die omgewing kry die geleentheid om munt te slaan uit die grootste musiekfees wat die land nog gesien het.

Op bladsy 17 van dié uitgawe kan jy meer hieroor lees. Die organiseerders van die fees hou vanaf 9 Junie inligtingsvergaderings in Cullinan se ou ‘Rec-saal’.

Die ‘moeder van alle feeste’ sal oor drie dae in September strek en die plan is dat alle dienste en goedere vir ‘n beraamde 100 000 feesgangers deur mense uit die omgewing verskaf sal word.

Nog verblydende nuus, op bladsy 33, is dat die gorrelskurwepadda sy opsitwerk in die vleie van Mooiplaats, Zwavelpoort en Tierpoort ongehinderd kan voortsit. Lede van die bedrywige MZT gemeenskapsgroep het ‘n boodskap gekry om dié ‘gevaarlike uitheemse’ padda voor die voet vrek te maak. Gelukkig het Mike Strange van dié groep besluit om eers kers te loop opsteek by kenners. Dit blyk toe dat dit ‘n gorrelstorie was en dat dié skurwepadda eintlik inheems en omgewingsvriendelik is.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online