Uiteindelik: Die perfekte '‘prawn'’ by Mo-zam-bik PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 22 April 2014 22:16
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

In Mosambiek laas, het ek ‘n bevredigende onderonsie met ‘n bord garnale (prawns) gehad: Ordentlik gedoen en genoeg. Daarom het ek my voorgeneem om so gou doenlik ‘n draai by die jongste kuierplek op Mike von Backström se hoek by Silver Lakes te loop gooi. Hulle noem die plek ‘Mo-zam-bik’. En die hoop het toe nie beskaam nie.

Dié groot uitspanplek het, sedert Mike dit ‘n aantal jare gelede ingerig het, verskillende name met eienaars van wisselende wenslikheid gehad. Met die intrapslag al is dit duidelik dat die nuwe ‘Mo-zam-bikkers’ vriendelikheid en diens voorop stel. By die ingangshekkie word ons verwelkom en begelei na ons aansitplek. Ons neem plaas by een van die talryke buitetafels en voel ons dadelik tuis. Soos wat ons meestal met ons besoeke aan ons mooi buurland met ‘n dergelike naam voel.


Gaste sit aan neffens die groot en veilige parkeerplek

Ons kelner is Ben 10: Hy skryf sy naam neer op die bruinpapier wat as weggooi-tafeldoek dien. Ben 10 is in ‘n japtrap terug met ons drankies van keuse. Soos te verwagte, is die lywige spyskaart gelaai met geregkeuses eie aan Mosambiek: Baie viskos, baie hoendergeregte en baie souskeuses, waarvan heelwat baie skop het. Anders as in Mosambiek, het jy hier ook ‘n wye en interessante keuse van ‘steaks’. Dis nou buiten die gebruiklike Espetadas en Prego’s.

Jy kan kies uit 14 voorgeregte wat in prys wissel tussen die vroeë R40’s en laat R50’s. Tjokka (calamari), mossels en garnale op verskillende manier, slakke, chourico (Portugese varkwors), rissoles (hoender- en garnaalkoekies), groen olywe, trinchado, hoederlewers en -magies en nog wat, kan as beginpunt dien, of jy kan daarvan ‘n hoofmaal maak teen effe minder as twee keer die prys. Ons het die hoedermagies anderkant die grens as ‘moelas’ leer ken en geniet. Dié spyskaart praat van ‘giblets’. Teen R185 kan jy ‘n voorgereg ‘platter’ bestel wat glo genoegsaam is vir vier mense.


Koninginskos. Die bruinpapierhorinkies is gevul met tuisgeroosterde grondbone

Soos gemeld is die spyskaart ‘n lywige een met baie en verbeeldingryke keuses. Die pryse is allermins liggewig, maar darem ook nie buitensporig nie. Maar ons is hier vir die garnale (prawns, camaräo) omdat goeie garnale skaars is en die hoop nie beskaam nie.

Metgesel besluit op ‘n kombinasie van calamari en ‘prawns’ onder ‘n knoffel-, suurlemoen- en kruiesous. Jy kry vier ‘queen prawns’ en ‘n billike porsie van tjokka buise (tubes). Daarmee saam neem sy kokosneutmelkrys, of dan, rys in kokosneutmelk gedoen. Ek kan sien hoe sy dit geniet en later bieg Metgesel dat, sou sy by die huis gewees het, sou sy sweerlik die bord skoongelek het. Hemelse sousie, sê sy. Die kombinasie kos R145.


Die ‘baraca’ en ruim buite-kuierplek van Mo-zam-bik

Ek bestel agt van die koningin-garnale ook met rys en ‘n sousie wat hulle ‘Zambeziana’ noem. Die sous is ‘n konkoksie van kokosneutmelk, lemmetjiesap en tjillie. Ben 10 belowe my dat die sous nie te wildwarm is nie en dit is ook nie, maar dit is ook nie lammetjiemak nie. Die garnale is groot koninginne wat ordentlik uit hulle prinsessieskoene gegroei het.

As Mo-zam-bik se garnale nie perfek voorberei is nie, is dit so naby as wat ‘n prawn aan ‘n gogga is.

Hulle oondrooster dié see-lekkerny. Die tekstuur is stewig, amper krakerig en die smaak onder daai brandsousie is om oor huis toe te skryf. Die kortkorrel rys sou vir my ‘n maal op sy eie kon wees. Die agt garnale kos R165.

Ons wou nog, maar ons kon nie en belowe mekaar dat ons sal terugkeer Mo-zam-biek toe om ‘n ietsie van die baie uitsonderlike nagereg-spyskaart af te beproef.

Jy kan hulle bel by: 012-817-2014.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online