Wenke vir inkommers PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Tuesday, 22 April 2014 22:14
Untitled Document

Die plotpaaie en dorpstrate in die landelike gebied waar die Bronnie versprei, dra nie juis veel verkeer nie. Tog is dit opsigtelik dat nuwe ‘inkommers’ en besoekers met ‘n stadsagtergrond meestal nie ‘n benul het van aanvaarbare padgedrag en pendelmaniere op die platteland nie. Daarom het ons dit goedgedink om ‘n paar riglyne en wenke hier te gee – ter wille van die vrede:

  1. As iemand in ‘n aankomende voertuig arm- en handbewegings in jou rigting maak, moenie ‘n stuipe-aanval kry en jou skuldig maak aan barbaarse padwoede met gepaardgaande viese taal en/of ongure tekens nie. Die ou in die aankomende kar groet jou bloot. Want dit is wat ordentlike mense op die stil stofpaaie van ons kontrei doen: Hulle groet mekaar.
  2. Dit is nie nodig om met jou groot, beste-vier-by-vier-by-ver op ‘n plotpad te jaag asof die duiwel en sy grootmoer agter jou aan is nie. Niemand gaan dink jy is oulik of ryk nie. Jy gooi net al wat leef en beef toe onder die stof, skop ‘n hengse geraas op en maak jou naam gat op die koop toe. Wees geduldig, alles gebeur op sy tyd en jy sal teen ‘n ordentliker spoed wel net-nou weer op die teerpad wees. Kyk gerus na die windpomp daar langs die pad: Hy jaag nie die wêreld plat om na die wind te loop soek nie.
  3. Hoekom draai jy jou windgatkarretjie se ruite oop as jy hier op ons stil paaie na jou oorverdowende harde musiek wil luister? Jy is waarskynlik die enigste ou in ‘n omtrek van tien seemyl wat dink jou musiek is ‘awesome’. Al wat jy met jou onaardse rumoer vermag, is om die koeie bes moontlik hulle melk te laat wegskrik en die Leghornhenne te laat ophou met lê.
  4. Dit gaan nie help om ‘n vloermoer te gooi as jy agter twee bakkies wat langs mekaar in die pad staan, moet stilhou nie. Die twee bakkie-eienaars is twee plattelanders van die omgewing wat mekaar ken en gou ‘n geselsie aangeknoop het oor die weer of die rugby. Bly net kalm en sit jou noodflikkers aan as jy wil. Moet allermins nie op jou toeter klim nie. Onthou die les wat die windpomp jou leer. Die twee geselsende vriende is ondentlik. Hulle het jou gesien en sal nou-nou aanbeweeg, as hulle totsiens gesê het.
  5. Ons kontrei is nie jou persoonlike stortingsterrein nie. Hou jou Red Bull-blikkie en jou wegneembakkie van McDonalds by jou in die kar tot jy iewers by ‘n asblik kom. Jou gemors is nie vir ons mooi nie en hier is nie straatveërs wat dit agter jou bas gaan optel nie. Jou sigaretstompies druk jy eerder in jou dinges op as om dit by jou motorvenster uit te gooi. Al is die Charka in jou braaiskottel die naaste aan ‘n vuur waaraan jy nog was, kan jy maar glo: ‘n Veldbrand is nie speletjies nie. Jy mag slegs jou stompie by die venster uitgooi as die ding dood is en nog tussen jou lippe sit.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online