Metroraad gryp in met Zwavelpoortse rioolkrisis Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 23 April 2014 00:05
Untitled Document

Alle landgoedontwikkelings in Zwavelpoort moet voortaan permitte kry vir hulle rioolstelsels.

Volgens Lucia Nagel van die Zwavelpoortse Huiseienaarsvereniging kom dié besluit ná ‘n vergadering tussen landgoedontwikkelings, die Zwavelpoortse Huiseienaarsvereniging en die Tshwane Metroraad op 1 April.

Die raad het die ontwikkelings rondom Achillesweg twee weke gegee om aansoek te doen vir ‘n permit vir hulle rioolstelsels. So ‘n permit moet elke drie maande hernu word. Die hernuwingsaansoek moet elke keer met ‘n watermonster van die behandelde riool ingedien word.

Die Bronberger het in Februarie berig dat oorskotwater vanuit die rioolstelsels van beide Olympus Heights en Luberon Landgoed in Achillesweg in openbare areas gestort word en in naburige boorgate beland, asook in die Zwavelpoortspruit.


Die rioolwater wat in Januarie met Achillesweg afgestroom het, het E.coli in boorgatwater laat beland

“Alle drinkwater in Zwavelpoort bevat onaanvaarbare vlakke van E.coli,” sê Lucia. “Ina van As van Tshwane se Departement van Gesondheid en Susan Lottering van Tshwane Riool en Water het op 1 April weer besoek aan die omgewing gebring omdat hulle E-coli in die dam by La Camarque, Bastille en plot 81 gevind het.”

“Die water-besoedeling ná Januarie se rioolstortings het ‘n geweldige uitwerking op die boorgate van Danie Benade sowel as my eie boorgat gehad,” sê Lucia. 

“My boorgat is deur Tshwane getoets en is besoedel deur die vaste riool wat sedert Desember 2013 uit komplekse gestort is.”

Zwavelpoort word nie deur ‘n munisipale rioolstelsel bedien nie. Volgens Lucia het metroraad verteenwoordigers gesê dat die nodige infrastruktuur eers oor 10 tot 15 jaar in dié gebied ontwikkel sal kan word.

 

© 2020 Die/The Bronberger