Boerekryger Koos word Duitsland se eerste motiveringspreker Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 25 March 2014 12:33
Untitled Document

Angie Kleijn

Hierdie is die verhaal van ‘n eksentrieke man wat vir dekades ná die Engelse Oorlog nog as sogenaamde Boere-kommandant in Europa ‘n bestaan uit praatjies, poskaarte en blaadjies gemaak het. Hy het meer as 8 000 lesings aangebied en die Duitsers het sy woorde vir soetkoek opgevreet. ‘n Mens kan maar sê dat Koos Jooste die wêreld se eerste motiveringspreker was.

Koos Jooste was waarskynlik een van die kranigste grootpraters wat die wêreld nog gesien het. En sy grootpratery het vir hom groot sukses in Duitsland gebring. Natuurlik was die meeste van sy stories op die waarheid gegrond, maar vir sommige van die stories wat dié kampioen-fietsryer in Europa kwytgeraak het, was net sy eie weergawe bekend.


Koos in die tyd van die Engelse Oorlog

Jakobus Petrus Jooste moet nie met majoor JP Jooste, wat die hele Engelse Oorlog op generaal Botha se personeel was, verwar word nie. Op die vraag wat aan oom Piet Jooste gevra is – of hy aan Koos Jooste verwant is – het hy geantwoord dat dit nie hy is wat homself in Duitsland as ‘n baie belangrike persoon, oënskynlik van hoë rang, gaan opstel het nie.

Koos is op 18 Oktober 1868 in Worcester in die Kaap gebore. Hy het na Pretoria verhuis waar hy gou as fietsryer van formaat bekend geraak het.

In 1893 het hy sy vriend, Andries de Wet, vir ’n fietswedren van Pretoria na Kaapstad uitgedaag.


Koos motiveer die Duitse troepe in Frankryk

Klaarblyklik sou die man wat wen ‘n goue pond in sy sak kon steek. Koos het sy fiets ‘de Wolf’ genoem en dit het hom en sy yster-wolf blykbaar slegs agt dae, 22 uur en 49 minute geneem om Kaapstad te bereik.

Hy het vertel hoe hy gras in sy fiets se pap wiele mos stop, hoe hy oor riviere geswem het en snags onder die sterre geslaap het.

Net voor die Engelse Oorlog het Koos en sy groot vriend, die Krugersdorpse prokureur Danie Theron, probeer om die idee van ‘n rapportgangerskorps op fietse aan die ZAR-regering te verkoop.


Koos as vrywilliger in die Duitse vloot in die Eerste Wêreldoorlog

Hulle argument was dat fietse minder onderhoud as perde verg. Fietse word nie moeg, honger, dors of siek nie en vorm 'n kleiner teiken as 'n perd. 

Danie en Koos het generaal Piet Joubert met dié plan vir ‘n fietsryerskorps genader. Die skeptiese generaal het dit sterk betwyfel of ‘n man op ‘n fiets beter werk as een op ‘n perd sou verrig, maar hy het hulle uitgenooi om die volgende dag ‘n fiets saam te bring, sodat hy dié gedoente behoorlik kon bekyk.


Dié poskaart is deur Koos en PH Kritzinger onderteken, maar wys generaals De Wet, De la Rey en Botha wat ‘n toespraak in Duitsland lewer. Dié drie generaals is net ná die oorlog op ‘n Europese toer om fondse in te samel

‘Boere-kommandant’ Jooste, agter op die perdekar, aan die Duitse Oosfront in die Eerste Wêreldoorlog
.
.

Resies
Groot was Danie en Koos se verbasing toe president Kruger en ‘n hele paar lede van die krygsraad hulle die volgende dag inwag. Koos het hulle van sy fietstog na Kaapstad vertel en die krygsraad was so beïndruk dat hulle voorgestel het dat ‘n resies tussen fiets en perd die volgende middag vier uur gehou moes word.


Koos lewer nog een van sy motiveringspraatjies aan Duitse troepe in die Eerste Wêreldoorlog

Die volgende middag het ‘n skare op Kerkplein saamgedrom om vir Koos op sy fiets, en ‘n ene Martiens op sy skimmelperd af te sien. Dié twee moes van Pretoria na die Krokodilrivierbrug, 'n afstand van 75 km wat gewoonlik drie uur te perd geneem het, jaag en dan weer terug. Op die brug sou iemand 'n rapport vir generaal Joubert oorhandig aan die persoon wat eerste daar aanland. 


‘Aus dem Burenlande’ (Uit die Boerelande) is een van Koos se self-gepubliseerde blaadjies

Een van Koos se gewildste poskaarte in die tyd van die Engelse Oorlog was van hom en sy fiets

Met die wegspringslag was Martiens en sy skimmel voor, maar Koos het op die ou einde gewen. Hy het die resies in drie ure en 10 minute heen en weer voltooi en so is toestemming verleen om met die wielryerskorps te begin.

Danie en Koos het duur fietse, wat rowwe behandeling kon verduur, aangeskaf maar ‘n handelsreisiger het generaal Joubert oortuig om baie goedkoper fietse te koop. Weer moes Koos 'n toetsrit op 'n baie slegte stuk pad maak. Die goedkoop fiets het gebreek, die duurder een het niks oorgekom het nie, en die besluit is ten gunste van die duurder soort gemaak.


‘Boere-kommandant’ Koos Jooste lewer nog ‘n praatjie aan die Duitse troepe in Frankryk

Fietsryerskorps
Op 14 September 1899 is genoeg lede vir die Wielrijders Corps gewerf om ‘n vergadering by Langlaagte te hou. Danie is die vorige dag formeel as hoof van die korps aangestel en het die manskappe begin oplei vir hulle taak om rapporte te vervoer, en twee dae later was die korps volledig georganiseer, met offisiere en manskappe in ses seksies verdeel.


Die ‘Burenwirt’ was een van die byeenkomsplekke naby München waar pro-Boer verenigings bymekaar gekom het. Die kroeg het blykbaar aan ‘n Boer behoort

Die korps het uit 100 jong mans bestaan wat elk voorsien is met ‘n fiets, rewolwer en, waar nodig, ‘n karabyn. Slegs die betroubaarste manne is tot die korps toegelaat en hulle doel was om 'n vinnige rapportdiens tussen die verskillende seksies van die Boere se leërafdelings daar te stel. Die korps sou uiteindelik ook as 'n inligtingsdiens vir die Boere dien.

Danie is deur luitenante wat in bevel van elke seksie was, bygestaan. Hy het elkeen persoonlik uitgesoek en Koos was aanvanklik een van dié luitenante. Hy is later tot onderkaptein van die hele korps bevorder.


Dié poskaart is doelbewus opgestel en wys Koos in aksie. Dit is deur Koos, generaal PH Kritzinger en ‘n dominee genaamd Van Heerden onderteken. Generaal Kritzinger is tot die dood veroordeel ‘in absentia’. Die vonnis is later opgehef

Nog ‘n opgestelde foto van Koos in die oorlog wat onderteken is deur PH Kritzinger en Van Heerden, wat saam met Koos deur Duitsland ‘op toer’ was
.
.

Toe die korps behoorlik op dreef gekom het, was Danie elders besig en kon naderhand nie meer genoeg aandag aan die wielryerskorps bestee nie. Hy het die kapteinskap daarvan aan Koos oorgedra.
Interessant genoeg het Koos, toe hy later vir sy ‘Dekorasie vir Trouwe Dienst’ aansoek gedoen het, sy rang as majoor aangegee.


‘n Ouer Koos op sy fiets
Foto: Königsberger Historie

Oorentoesiasties
Koos was jonk en entoesiasties en het allerhande oorlogsplanne gehad. Hy het die ZAR-regering byvoorbeeld probeer oortuig om Griekwaland binne te val. Op pad soontoe het hy en omtrent ‘n dosyn makkers die Kaapkoloniese dorpie, Prieska, probeer dwing om oor te gee. Indien nie, sou hy die dorp van die koppie af bombardeer, het hy gedreig.

Die burgemeester van Prieska het dadelik gereageer en al die wapens in die dorp aan Koos oorhandig, voor hy agtergekom het dat Koos geen kanon gehad het nie.

Klaarblyklik het Koos van daar af guerrilla-operasies in die Noord-Kaap verder gevoer en 300 vrywilligers gewerf. Koos se eenheid is in Mei 1900 in Pretoria ontbind en hy het op 26 Mei, tien dae voor Lord Roberts Pretoria binnegeval het, die dorp verlaat en na Europa gevlug.

Hy het later vertel dat hy geen keuse gehad het nie, aangesien die Engelse hom as ’n Kaapse rebel gesien het en ’n losprys op sy kop geplaas het.


‘n Poskaart wat Koos met sy fiets en vêrkyker wys (die eerste padvinder) en ‘tipiese Afrika-kinders’

‘Burenkomdt’ Koos Jooste op ‘n poskaart saam met drie generasies saam in die Engelse Oorlog

Europa
In Europa het Koos eers in Holland en daarna in Duitsland getoer, aanvanklik om fondse vir die Boere in te samel, en later vir die weduwees en weeskinders wat in die oorlog agtergelaat is. Vyf-en-veertig jaar later was Koos steeds in Duitsland. Hy het dit reggekry om ’n lewe as spreker te maak en het ongeveer 8 000 lesings oor sy wedervaringe in die oorlog gelewer. By dié lesings het hy hom as
Boere-kommandant Jooste voorgestel.

Koos het ‘n konstante stroom self-gepubliseerde traktaatjies en poskaarte die lug laat sien. Die meeste van hulle wys hom in allerhande heldhaftige posisies in die oorlog en sommige van hulle het ook sy handtekening op gehad. Later het hy poskaarte van homself as grootwildjagter en as vlieënier begin druk.


‘n ‘Boere-bruidspaar’ verskyn saam met Koos op dié poskaart

Nog een van Koos se vele poskaarte
.

Die poskaarte het in Duits gesê dat dié kaart verkoop word ten bate van die Duitse-Boere Ondersteuningsparty. Sy gesig het so bekend geword dat hy tot in sy oudae nog in Duitsland op straat herken is as die ‘Boere-kommandant’.

Lank ná die Engelse Oorlog verby was, het Koos steeds lesings oor nasionale trots aan die Duitsers gegee. Hy het sy boek, ‘Aus der Zweiten Heimat’ (Van die tweede tuiste), in 1904 in Berlyn gepubliseer. Hy het glo ook praatjies oor die hantering van die swart rasse en koloniale verhoudings gelewer.


‘n Afrika-voertuig

Oorlog
Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het Koos van die Duitse Westerse front tot die Oosterse front getoer om praatjies aan troepe te lewer. Hy het as vrywilliger by die Duitse vloot aangesluit.

Koos het vir ‘n tyd in Königsberg in Franken, wat naby die middel van Duitsland geleë is, gewoon. As ‘n mens kyk na die poskaarte en traktaatjies wat hy gedruk het, lyk dit asof hy rondom 1920 daar gewoon het. Van sy ander poskaarte is in dorpe soos Friedrichsroda, Falkenberg en Oderberg gedruk.


Koos as vlieënier

Blykbaar was die sentrale deel van Duitsland ‘n veilige hawe vir slagoffers van politieke vervolging en ‘n goeie vertrekpunt vir lesingtoere. Koos het egter nooit as inwoner van ‘n dorp geregistreer nie.

In 1927 het Koos met ‘n vrou genaamd Selma, wat tien en ‘n half jaar jonger as hy was, in Oldenburg getrou. Dit lyk asof hulle vir ‘n ruk in Brandenburg gewoon het en die laaste deel van sy lewe in Angermuende naby Berlyn.

Die boek wat hy kort voor sy dood geskryf het, ‘Die geheim van Joodse wêreld-dominasie’, is nooit gepubliseer nie.

Koos is op 13 November 1945, skaars ‘n maand ná sy 77ste verjaardag, in Berlyn aan longontsteking oorlede. Hy het geen kinders agtergelaat nie en blykbaar is sy graf ook nie meer te vinde nie.


Koos wys olifanttande en ‘n leeu in sy ‘groot wit jagter’ tydperk. Dit lyk asof die Duitsers gefassineer was deur die Afrika-bos en alles wat daarmee gepaard gegaan het

 

© 2020 Die/The Bronberger