Gewapende rowers val Zwavelpoort-egpaar aan PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 25 March 2014 12:30
Untitled Document

Herman Von Wielligh en sy vrou Marguerite is op 10 Maart op plot 167, Zwavelpoort deur gewapende rowers aangeval. Herman is geskiet en is in ‘n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem.

Die egpaar is die Maandagaand net ná agt uur oorval toe hulle by die huis gekom het. Die rowers het toegang tot die huis verkry deur ‘n skuifdeur se glas te breek.

Herman het hulle geskouer om hulle uit die huis te kry en een het hom in die linkerskouer geskiet. Blykbaar is die koeël deur altwee sy longe.

Teen Die Bronberger se saktyd was Herman se toestand kritiek, maar stabiel. Hy is in die Pretoria Oos-hospitaal se waakeenheid. Hulle kon hom nog nie opereer om die koeël te verwyder nie, omdat hy te swak was. Hy was op die hart-long masjien en sy longe het nie gefunksioneer nie.

Volgens Marguerite was daar drie rowers. Hulle het aanhoudend gevra waar die baba is. Herman en Marguerite se kinders is reeds uit die huis.

Marguerite het twee van die rowers gesien en die derde een was buite. Dit is die ‘kort’ rower binne-in die huis wat vir Herman geskiet het.

Ná hy geskiet is, het die rowers Marguerite na die slaapkamer geneem en haar vasgebind. Een van die rowers het haar broek van haar lyf afgeskeur en herhaaldelik gesê het dat hy haar gaan verkrag.

Die rowers het die kluis oopgebreek en gevlug met ou medalje-muntstukke, wat amper niks werd is nie, Herman en Marguerite se selfone en ‘n silwer Volkswagen Polo, registrasienommer CF78DT GP.

Herman was teen dié tyd al baie swak weens bloedverlies, maar het kamer toe gekruip en ‘n mes in die hande gekry om sy vrou los te sny. Marguerite het dadelik na hulle buurman, Frikkie Schoeman, gehardloop om hulp te kry. Frikkie het met sy Pajero na die Von Wiellighs se plot gery, Herman opgelaai en hospitaal toe geneem.

Marguerite het by haar bure oorgebly. Die huis was vir dae ‘n misdaadtoneel en volgens Frikkie Schoeman het die huis oopgestaan en mag hulle nie eers die gebreekte glas vervang het nie.

Plot 167 is naby Zwavelpoort se grens met Tierpoort, nie ver van Leribisi Lodge nie. Toegang kan verkry word van beide Garstfonteinweg-verlenging en Lynnwoodweg-verlenging.

Die Boschkopse Polisie ondersoek die saak.

 

© 2019 Die/The Bronberger