Soms is ‘'n wen '‘n wonderwerk PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 25 March 2014 10:26
Untitled Document

Net toe hy mooi begin gewoond raak aan die aanhoudende gereën, hou dit jou werklikwaar terstond op, sê Gert Mossie. En hy hoor sy ou buurman, Daan Dammetjies, kla vanoggend dat die groot droogte al klaar weer begin het, sê Gert.

Groot Piet in die hoek sê “ja, die ou Daan darem” en hy skud sy kop meewarig. Voor die diens verlede Sondag, toe die groot reëns al sondvloedneigings begin toon, hoor hy die einste ou Daan kla dat die “liewe Heer se seën darem nou swaar begin rus op die kudde,” vertel Piet.

Sy vrou kla ook al aanhoudend sedert die eerste reëns van die seisoen begin val het, sê Groot Piet nou met ‘n swaarmoedige sug. En dit oor ‘n nietige ou lekkie in die huis se dak, wat hy mos gesê het hy sal regmaak. As ‘n man gesê het hy gaan iets doen dan gaan hy dit doen, sê Piet. Dis nie nodig vir ‘n vrou om elke twee weke daaroor te neul nie.

‘n Mens moet ook nie net altyd kla nie, sê Gert Mossie. Veral nie oor die milde reëns nie, al is dit ook hoe oordadig.

Minstens het die vloede daarvoor gesorg dat een van die vele hol verkiesingsbeloftes van die regering op ‘n manier nagekom is: Amper almal het lopende water gekry. Daar is altyd iets positiefs om uit elke situasie te neem, sê Gert.

Nou klink jy amper soos die afrigters van ‘n paar van ons sukkelspanne in die Soeper-rakbiereeks, sê Groot Piet. Hy wil nou nie name noem nie, maar ‘n paar van dié afrigters het altyd ‘n bekvol verskonings ná nog ‘n drag slae van hulle spanne op die veld. En dan wil hulle jou altyd agterna daarop wys dat iets positiefs uit die verbeeldinglose poging van die ploeterende spelers geneem kan word, terwyl die enigste regte positiewe plan sou wees om genoemde afrigters op die plek te ‘faaier’, sê Piet.


Hy hoor anderdag, sê Gert Mossie, die hulpafrigter van ‘n sekere suidelike span met ‘n windmakerige naam, sê ná ‘n onverdiende oorwinning met een enkele punt, “’n wen, is ‘n wen”. En dit is seker die waarheid, maar hy kan na dié betrokke wedstryd amper sweer dat ‘n wen soms ‘n wonderwerk is, sê Gert.


Allen Prentjies mompel iets agter sy koerant uit wat gevaarlik naby aan ‘twak’ klink en Groot Piet wil dadelik, dreigend weet wat dit is wat hy wat Allen is, nou daar gesê het.


Nee, sê Allen Prentjies, die flussiese gesprek van sy twee kuiervriende het hom sommer aan ‘n ding laat dink wat sy ander vriend, Peterjassie, op ‘n dag gesê het. Ou Peterjassie meen te wete, jy kry in dié wêreld twee soorte mense wat niks te sê het nie: Dié mense wat stil is en dié mense wat te veel praat . . .

Nie Gert Mossie, of Groot Piet is heeltemal seker of hulle beledig of gevlei moet voel ná dié wysheid van Allen Prentjies nie. Om veilig te wees, bly hulle vir ‘n ongemaklike tydjie tjoepstil . . .

 

© 2019 Die/The Bronberger