Katakoeroe is geen koekoek nie PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 25 March 2014 12:23
Untitled Document

Moenie dat die katakoeroe se Engelse naam jou verwar nie. Hierdie ‘cuckoo-shrike’ is nie eers naby verwant aan ‘n koekoek of ‘n laksman nie. Hulle lyfvorm en vlugpatroon lyk nogal soos dié van ‘n koekoek, en sommige katakoeroes het grys kleure soos dié van party laksmanne, maar dit is waar die ooreenkoms eindig.


Wyfie
Foto: Wikipedia

In ons kontrei is die swartkatakoeroe, Campephaga flava, ’n redelik algemene standvoël en plaaslike trekvoël. Hulle bly in gevestigde boomveld en woudrande waar hulle gewoonlik onopmerklik is, behalwe as hulle roep: ‘n hoë, uitgerekte ‘trrrrrr’-geluid. Hulle verlaat plato-gebiede in die winter en beweeg na laerliggende gebiede.

Die voël is 18-21 cm groot en weeg 29-36 gram. Die mannetjie is swart met ‘n geel skouervlek, wat soms afwesig kan wees. Sy oranjegeel bekgaping is kenmerkend. Hy word van die swartvlieëvanger en kleinbyvanger onderskei aan sy geronde stert en ook aan sy gewoonte om stil deur ‘n boom se blaredak te kruip en nie in die lug op insekte af te pyl nie.


Mannetjie
Foto: The Flacks

Die wyfie lyk nogal soos ‘n diederikie of meitjie wyfie, maar is groter met meer dwarsstrepe aan die borskant, en helder geel buitestertvere. Jong voëls lyk soos die wyfie.

Die swartkatakoeroe vreet meestal insekte soos motte, krieke, sprinkane, miere en termiete, maar sal ook sommige vrugte, sade en ander plantmateriaal vreet.


Die Swartkatakoeroe se nessie
Foto: Warwick Tarboton

Die nessie is ‘n vlak koppievormige struktuur wat met verskillende soorte mos bedek word en met spinnerakke aanmekaar gehou word. Dit word meestal in ‘n vertikale vurk of op ‘n tak, gewoonlik hoog op in die boom, gebou.

Een tot drie eiers word tussen September en Februarie gelê. Die wyfie broei dié eiers na ongeveer 20 dae uit, terwyl die mannetjie haar in die nessie voer. Die kuikens word deur beide ouers gevoer en verlaat die nes na 20-23 dae.

 

© 2019 Die/The Bronberger