Inkopies by '‘n plaaswinkel PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 25 March 2014 10:23
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Die vriendelike pienkbont koei langs die pad na Rayton, trek lank reeds my aandag. Sy staan lewensgroot en geduldig onder ‘n strooihoed langs die Kaalfonteinhoewes, om die afdraaipaadjie na Du Plooy Melkery aan te dui.

Op ‘n sopnat Maandag vat ek dié paadjie, langs weiende swartbont koeie, miniatuur perdjies en skroppende werfhoenders verby en hou voor die kleurvolle winkel stil. Vandag wil ek plaasprodukte aankoop, en sommer met die intrapslag weet ek, ek is op die regte plek.

Die Du Plooy’s van Kaalfontein maak bykans elke ding denkbaar wat ‘n mens van koeimelk kan maak en verkoop dit teen groothandelpryse, kan jy maar sê, in hulle winkel op die plaas.


Ons het net enkele van Du Plooy se plaasprodukte aangekoop vir ‘n toetslopie

Jy kan die toerusting vir dié kuns in die vertrekke aangrensend aan die afsetplek sien. Kase van uiteenlopende aard is in die koelkaste in die winkel gepak. Ek haal twee bakkies van gegeurde fetablokkies uit – een met ‘n peppadew byvoeging en een wat met kruieknoffel opgedollie is. ‘n Billike bakkie maaskaas (ongegeurd) en een middelmatige blok van geel en een van wit Du Plooy-cheddar en ‘n pakkie met vier stafies halloumi voltooi my kaasaankope.  

Ook uit die yskaste vat ek ‘n bakkie plaasbotter, een liter drinkbare jogurt en ‘n houer met malvapoeding vir huisgebruik.

Tuisgemaakte gebak en gebottel van verskillende aard en uit verskillende oorde is oral uitgestal. Om my aankope af te rond vat ek ‘n pakkie van Bettie se outydse soetkoekies van ‘n tafel af en ‘n pak met skilpadjies uit die plat vrieskas vol verpakte vleis.


‘n Klant by die yskaste vol selfgemaakte suiwelprodukte

Soos die soetkoekies, kos die skilpadjies R40. Jy kry agt stewige skilpaaie in ‘n pakkie wat ‘n moewiese winskoop teen net R5 stuk is. Ek maak die lewerkoekies-in-netvet dieselfde aand in ‘n braaipan gaar. Die lewer is fyn gemaal en nie oordadig met kruie en bymiddels gedokter nie. Die netvet is amper oordadig en verlang eintlik kole om dit goed uit te braai. Die skilpadjies is stewig gebou en smaaklik.

Die soetkoekies is platrond en smaak soos jou ouma  op die plaas s’n. Jy kan maar sê hulle het hier aan’t huis soos soetkoekies gevlieg.

Die blokkies feta is net groot genoeg om die ideale vingerhappie te maak. Later sou Metgesel opmerk dat die Du Plooy se fetablokkies ‘n ‘grondboontjie’ uitwerking op haar het: As jy eers begin het, wil jy nie ophou met eet nie. Vir my is die tekstuur net reg en die soutgehalte ook.


Draai af by die vriendelike pienkbont koei

Ek het die vanielje gegeurde drinkbare jogurt gekies en dit sommer vorentoe gevind. Die plaasbotter lyk soos wat plaasbotter moet en smeer gemaklik teen kamertemperatuur. Na my smaak sou dit kon doen met ‘n bietjie meer sout. Die geel cheddar se tekstuur en smaak is reg vir ‘kaas, net soos dit is’ maar effe mak vir my. Die witte het ongelukkig iewers uit my oorvol koopsak verloor. Ek het die kruisement-halloumi saam met ontbyt gebraai en kan met oorgawe sê dat dit voortreflik is.

Die kroon van my inkopies by Du Plooy se plaaswinkel was hulle maaskaas en die malvapoeding wat deur Zel’s Kombuis gebou is. Jy kry so ses restaurantporsies in ‘n bakkie van Zel se poeding. Dit is sponsig en lig met ‘n wonderlike stropie en is nie verstikkend soet nie. Beter maaskaas kon ek nog nie in ‘n dorpswinkel kry nie.

Bel die Du Plooy’s by 083-399-6497 as jy meer inligting wil hê.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online