Rayton en Cullinan se water getoets Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 25 March 2014 12:21
Untitled Document

AfriForum se Rayton/Cullinan-tak het op 26 Februarie monsters van drinkwater en rioolwater by Laerskool Rayton, die Cullinan-polisiestasie en Rayton-rioolaanleg se uitloop, geneem.

Die watermonsters is deur onafhanklike SANAS-geakkrediteerde laboratoriums getoets. Teen Die Bronberger se saktyd was die verslag van die uitslae oor die drinkwater-toetsing nog nie beskikbaar nie. Die verslag oor Rayton-rioolaanleg wys dat dié water op standaard is.


Dooie voëls in die water by die Rayton rioolaanleg se uitloop

Rayton-rioolaanleg se uitloop is gebruik vir die groendruppel (behandelde rioolwater) toetsing en die Laerskool Rayton en Cullinan-polisiestasie vir die bloudruppel (drinkwater) toetsing om seker te maak dat daar aan nasionale standaarde voldoen word.

ʼn Polisiebeampte moes saamgaan met die neem van die monsters om te verseker dat die geloofwaardigheid van die uitslae nie bevraagteken kan word nie. Die dag se koerant is ten toon gestel sodat die datum wat die monsters geneem is, op foto’s bevestig kon word.


Reline Badenhorst en AO Masondo by Rayton rioolaanleg se uitloop

Reline Badenhorst van die Rayton/Cullinan-tak het ook vir Danie Erasmus oor die besoedeling van die Elandsrivier, soos berig in Die Bronberger se Februarie-uitgawe, gekontak. Dié tak het hulp aan die boere rondom die Elandsrivier gebied as deel van hulle omgewingsaktiwiteit. Die Bronberger se artikel oor die Elandsrivier-besoedeling is na die nodige departemente gestuur en lesers sal op hoogte van verwikkelings gehou word.

AfriForum sal water- en rioolkwaliteit in Rayton en Cullinan bly monitor. “Indien daar versuim word om aan standaarde te voldoen, sal daar druk toegepas word om die kwessie op te los, en indien daar nie oplossings gebied word nie sal die nodige stappe oorweeg word om oplossings te verseker,” het Leandri Streit, AfriForum se gemeenskapskoördineerder vir Gauteng-Noord gesê.


Hanna Labuschagne en AO Masondo by die Cullinan SAPD
.

Karen Yssel en AO Masondo by Laerskool Rayton
Foto’s: AfriForum

.

AfriForum gaan voort met die groendruppel/bloudruppel inisiatief ten spyte van ʼn waarskuwing wat deur die Departement van Waterwese (DWW) uitgereik is nadat die projek van stapel gestuur is.

“Ons is teleurgesteld en verstom oor die departement se reaksie. ʼn Mens sou dink dat die departement hulp met die bestuur en bewaring van water sou verwelkom," het Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, gesê.

Hy het gesê dat die departement se reaksie kommer skep oor wat werklik in Suid-Afrika met waterbestuur aan die gang is.

 

© 2020 Die/The Bronberger