Perdesiekte breek uit in Bronberg-gebied PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 25 March 2014 12:20
Untitled Document

Perdesiekte het die eerste week in Maart in die Bronberg-gebied uitgebreek.

Kerrie Cox Evans het die eerste naweek in Maart laat weet dat ‘n merrie in die Tweedracht-omgewing, naby aan die Boschkop-pad se aansluiting met die Rayton/Kemptonpark-pad, dood is, waarskynlik aan perdesiekte.

Nadine Bennet van Tierpoort het gesê dat nog ‘n merrie in Tierpoort dood is, ook vermoedelik ‘n perdesiekte-geval omdat daar swelling bokant haar oë en skuim in haar neus was. Dié merrie was teen perdesiekte ingeënt.

Perdesiekte kan egter slegs bevestig word wanneer daar gedurende ‘n koorsreaksie ‘n bloedmonster geneem word en deur ‘n laboratorium ontleed word.

Raadpleeg dadelik jou veearts as jy die geringste vermoede het dat jou perd koors het, veral omdat moontlike gevalle van perdesiekte in die Bronberg-gebied aangemeld is.

Onder die Wet op Dieresiektes (Wet no.35 van 1984), word perde-eienaars genoop om enige verdagte gevalle van Afrika Perdesiekte (APS) dadelik aan hulle naaste Staatsveearts te rapporteer. Die wet vereis dat alle perde, donkies en muile ten minste een maal per jaar geënt moet word met ‘n goedgekeurde entstof.

Die Wet op Dieresiektes bepaal ook dat die Staat bemagtig word om maatreëls daar te stel vir die beheer van die siekte.


Die Culicoides muggie
Foto: Dr Melvyn Quan

Vervoer
Beperkings op die vervoer van perde na die Wes-Kaap geld sedert Vrydag 28 Februarie, ná Afrika-perdesiekte in ander dele van die land uitgebreek het.

Die Wes-Kaapse provinsiale departement van landbou het die naweek van 1 en 2 Maart ’n kennisgewing uitgereik in reaksie op die toenemende voorkoms van aangemelde en vermoedelike voorvalle van die siekte in ander provinsies. Teen daardie tyd was daar 34 vermoedelike voorvalle, waarvan 22 tot vrektes gelei het.

’n Perdesiekte-uitbraak kan die uitvoerstatus van plaaslike perde in gedrang bring en moontlik weer tot ’n tweejaar-verbod deur die Europese Unie lei, wat grootskaalse finansiële verliese in die perdebedryf tot gevolg kan hê.

Perdesiekte kom, weens die hoë reënvalsyfer, vanjaar vroeër voor as ander jare. Dié siekte kom gewoonlik in die laat somer of herfs voor tot die eerste ryp in April of Mei. Gevaarlike toestande heers in ‘n gebied wanneer die reënseisoen vroeër as gewoonlik begin.

Muggies
Culicoides muggies is grootliks vir die oordraging en verspreiding van die virus verantwoordelik. Die virus wat perdesiekte veroorsaak is die orbivirus van die rioviridae- familie. Daar bestaan nege stamme of serotipes in die perdesiekte-familie.

‘n Perd kry die virus as hy deur ‘n besmette wyfie-muggie gebyt word. Dié virus is dus nie aansteeklik nie, maar oordraagbaar. Een perd kan nie by ‘n ander perd aansteek nie, omdat die virus slegs deur insekte oorgedra word.

Daar is glo ‘n moontlikheid dat sekere muskiet- en bosluisfamilies ook betrokke kan wees by die oordraging, maar dit is nog nie bewys nie.

As ‘n perd deur ‘n besmette muggie gebyt word, vermeerder die virus vinnig in die bloedstroom en heg aan die rooibloedselle, wat dan aan die begin ‘n verdikking van die bloed veroorsaak.

Die liggaam skei natuurlike stowwe af om die virus teen te werk, wat tot die verdunning van die endoteel-weefsel van veral die longe en hart lei, wat verskillende vorms van die siekte veroorsaak. Die inkubasietydperk is vyf tot sewe dae, afhangend van die verskillende vorms. Perdesiekte kom in vier verskillende vorms voor.

Perdesiektekoors is die ligste vorm van perdesiekte en simptome sluit koors, effens moeilike asemhaling, soms rooi slymvliese en verhoogde polsslag, in. Die simptome verdwyn na ‘n paar dae. Dit kom gewoonlik by ingeënte perde, wat besmet raak met een van die nege stamme waarteen hulle nie volledige immuniteit ontwikkel het nie, voor.

Dikkop (hartvorm): Die perd ontwikkel ‘n baie hoë koors en die hart word aangetas. Die kop, nek en veral die holtes bokant die oog swel op en daar kan ook ‘n erge swelling van die ooglede wees. Die swelsel kan later na die borskas versprei, maar nie na die bene nie. Dié vorm veroorsaak soms dat ‘n perd moeilik of glad nie kan sluk nie, maar massering van die slukderm kan help. Die dikkop- of hartvorm is gewoonlik minder ernstig as die dunkop- of longvorm van die siekte en sowat 50% van siek diere kan oorleef.

Dunkop (longvorm): Volwasse diere wat nog nooit geënt was nie en vullens wat nie teenliggame deur die ma se kolostrum ontvang het nie, is die vatbaarste vir dié vorm van perdesiekte. Dunkop is die ernstigste vorm en die longe word aangetas. Die perd ontwikkel ‘n hoë koors. Vog op die longe vermeerder, die perd haal al hoe swaarder asem, en staan later wydsbeen met voorbene reguit, en die nek en kop omlaag.

Later begin hy hoes en vog en skuim kom by die neusgate uit. Teen die einde is die neusgate en die bek oopgesper met die tong wat uithang. Perde met hierdie vorm kan binne ‘n paar uur vrek en die kans op herstel is minder as vyf persent.

Gemengde vorm is die mees algemene vorm van perdesiekte waar diere ’n kombinasie van die dikkop en dunkop vorms het. Swelling van die kop, oogholtes en longedeem kom voor. Vrektes wissel tussen 65 en 70%.


Muggies word vir perdesiekte-navorsingsdoeleindes by Onderstepoort in dié toestel gevang

Behandel
Hoe gouer daar met ondersteunende behandeling begin word hoe beter is die perd se kans op oorlewing. Antibiotika help nie, omdat dit ‘n virussiekte is, maar die simptome kan behandel word.
Met die dunkopvorm is dadelike behandeling nodig om die vloeistof in die longe te beheer. Die ander vorms van perdesiekte kan met anti-inflammatoriese middels behandel word om die swelsel en ongemak te verminder.

Hou die perd so stil as moontlik en moenie die dier probeer vervoer nie, omdat spanning die toestand vererger. Galkoors is dikwels ‘n sekondêre siekte wat saam met perdesiekte voorkom.

Vitamien- en mineraalaanvullings wat die immuunsisteem ondersteun, kan die hersteltydperk bespoedig. Moenie perde binne ses weke nadat hulle perdesiekte opgedoen het werk nie.

Voorkom
Hoe minder muggies, hoe laer die risiko dat jou perd dié siekte sal opdoen. Laagliggende gebiede soos vleie, valleie, riviere en oral waar oop staande water is, maak ideale broeiplekke vir die muggies. Klam en nat mishope dien ook as broeiplek.

Muggies is op hulle aktiefste vanaf sononder tot sonop en perde moet vanaf 4 nm tot 9 vm op stal gehou word. Skakel alle ligte in en om die stalle af en probeer openinge met 80% skadunet bedek. Spuit jou stalle gereeld met insekbeheer-dipstowwe en installeer waaiers in die stalle. Die muggies is kleiner as 1 mm en sukkel om in bewegende lug te vlieg.

Spuit perde met geregistreerde dipmiddels vir perde, soos middels wat piretroïedes bevat.

Vee soos skape en beeste kan naby die stalle gehou word om die muggies van die perde af weg te lok.

Inenting
Perde moet jaarliks van Augustus tot Oktober geënt word, wat genoeg tyd toelaat om immuniteit te ontwikkel vir die gevaar-maande van Januarie tot April.

Perdesiekte-entstof bestaan uit twee toedienings wat nie minder as drie weke uitmekaar toegedien moet word nie. Agt van die nege stamme word in die twee toedienings ingesluit. Serotipe nr 9 is nie ingesluit nie omdat dit nie hier voorkom nie.

Serotipes nommers een, drie, vier en vyf kom in inenting nommer een voor en serotipes nommers twee, ses, sewe en agt kom in entstof nommer twee voor. Entstowwe moet altyd tussen 4°C en 8°C gehou word.

Vullens van ingeënte merries moet op ses maande geënt word, en daarna jaarliks saam met volwasse perde. Die entstof veroorsaak selde newe-effekte maar oefening moet vir ses weke in die inentingstyd gestaak word. Die groot aantal serotipes in die entstof mag daartoe bydra dat dit ‘n paar jaarlikse inentings mag neem om volle immuniteit teen elke serotipe te verkry.

Vir meer inligting oor Afrika Perdesiekte, besoek www.africanhorsesickness.co.za.

 

© 2019 Die/The Bronberger