Gewapende moordenaars PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Tuesday, 25 March 2014 09:58
Untitled Document

Ons harte bloei vir die gesinne in ons gebied wat in die afgelope weke aan die onbeskryflike barbaarsheid van moorddadige uitvaagsels, wat in die hoofstroom media te dikwels as ‘rowers’ beskryf word, blootgestel is.

Soms word hierdie laagste vorm van menswees ‘gewapende rowers’ genoem. Hulle wat toenemend jagmaak op weerlose bejaardes, onskuldige kinders en eerlike landsburgers wat hulle brood in die kwesbare afsondering van plase en hoewes verdien: Gewapende rowers se voet. Die vuilgoed martel en vermoor onskuldige mense. Hulle is moordenaars; Gewetenlose, gewapende moordenaars. Hulle maak mense dood. Ons mense.

Hoekom is dit belangrik om in hierdie geval ‘n ‘graaf ‘n graaf’’ te noem en nie ‘n moordenaar as ‘n rower af te maak nie? Die antwoord lê in die persepsie van mense oor die erns van ‘n wandaad. En die tyd is lankal oorryp vir die wêreld om die ware erns van sogenaamde ‘gewapende rowe’ in die landelike gebiede van die land te begryp.

Nêrens in die sogenaamde hoofstroom media is verslag gedoen oor die onlangse aanval op ‘n Zwavelpoortse egpaar nie. In dié geval het gewapende moordenaars die man geskiet en die vrou wreed aangerand. ‘n Mens kan net sidder by die gedagte oor hoekom die geweldenaars herhaaldelik by die vrou wou weet ‘waar die baba is’. Teen ons druktyd was die manlike slagoffer van dié aanval nog in ‘n kritieke toestand in die hospitaal en die vrou se lewe sal vir altyd verander wees. Sou die media se swyging hieroor iets te make hê met die feit dat niemand op die toneel deur die ‘gewapende rowers’ doodgeskiet is nie?

Dekking is wel in dieselfde week gegee aan die moord op ‘n man van die landelike gebied naby Cullinan en oral is geskryf en gepraat van die ‘rowers’ wat die man ‘doodgeskiet’ het. So al of ‘n rower wat op ‘n plaas toeslaan nie ‘n moordenaar is wat moord pleeg nie. Moord.

Dit blyk of dieselfde groep gewapende moordenaars wat dié moord gepleeg het vir minstens ses soortgelyke aanvalle in dieselfde omgewing verantwoordelik is.

In ‘n omgewing waar bandeloosheid hoogty vier en die onbekwaamheid van staatsinstellings blyk om by die dag te gedy, het ons nie ‘n kitsoplossing om die barbaarse moorddadigheid hok te slaan nie.

Tog meen ons dat dit ‘n noodsaaklike aanvoringspunt kan wees om ‘n onding op sy naam te noem: Moordenaar.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online