Tot hier toe met riool in Zwavelpoort, sê inwoners PDF Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 27 February 2014 23:43
Untitled Document

Inwoners het dit tot hier toe met die rioolwater wat in Achillesweg, Zwavelpoort afspoel.

Zwavelpoorter, Annemarie de Villiers, sê dat dié rioolprobleem die lewe in die omgewing ondraaglik maak. “Dit stink so, ons kan skaars lewe as die wind van die westekant af waai,” sê sy.

Die rioolwater loop met Achillesweg af en beland in die Zwavelpoortspruit waarlangs dit afvloei na die Pienaarsrivier.

Annemarie sê sy het dié probleem verlede jaar in September by Luberon Landgoed se bestuur aangemeld en daar is dadelik aan aandag gegee. Sy sê dat riool-suigtrokke die volgende dag reeds die ontwikkeling se riooltenks leeg gesuig het.

Toe die probleem op 22 Januarie vanjaar weer opduik, het sy vir die hekwag by die landgoed gevra met wie sy kon praat en het ‘n nommer vir die landgoed huiseienaarsvereniging se voorsitter, Dawie Roodt, gekry.


Rioolwater sypel in Januarie deur Luberon Landgoed se muur
Foto: Annemarie de Villiers

Luberon
Op navraag van Die Bronberger het Dawie gesê dat Luberon hulle eie moderne rioolstelsel het wat riool van die begin tot die einde van die proses steriliseer. Hy sê die water wat uit hulle stelsel kom is sogenaamde bruin water wat gebruik kan word om tuine nat te maak.

Hy erken dat hulle in die verlede ‘n rioolprobleem gehad het, maar sê dat dit reggestel is. Dawie sê dat ‘n rioolpomp se krag ná ‘n storm in Januarie afgegaan het sonder dat die huiseienaarsvereniging daarvan bewus was en dat ‘n pyp gebars het. Dit was egter op 24 Januarie reeds reggemaak.

Dawie ontken dat enige rou riool wat nog met Achillesweg afstroom, van Luberon af kom. Hy sê Pierre van Deventer, ‘n ingenieur wat die riool-portefeulje van Luberon se huiseienaarsvereniging behartig, meen die rou riool beland in die stelsel van bure wat hoër geleë is.


Die rioolwater stroom bo-oor die watersloot op pad na Achillesweg
Foto: Annemarie de Villiers

Uitlaat
Lucia Nagel van die Zwavelpoortse Huiseienaarsvereniging bly self in Achillesweg, naby aan Luberon. Sy sê dat Luberon verder boontoe ook ‘n uitlaatpyp het wat volgens Pierre van Deventer behandelde water in die stormwatersloot uitstort. Sy sê dat hy erken dat daardie water nie drinkbaar is nie.

Lucia sê dat Luberon se rioolwater oor Desember en Januarie ‘n slymerige laag op Achillesweg gelaat het. Sy sê dat die water vol skuim is en dat water met ‘n swart kleur deur die landgoed se muur sypel.
“Die vraag wat deur verskeie gemeenskapslede aan my gestel is, is waarom die oorskotwater vanuit die rioolstelsels van beide Olympus Heights en Luberon in openbare areas gestort word of dit nou behandel is of nie,” sê Lucia.

“Die ‘water’ beland in almal wat boorgate het se drinkwater. Ons eie boorgat sowel as Danie Benadie se boorgat is dig by die besoedelde oorlope en Danie beweer dat sy kleinkind en ‘n werker reeds van dié water siek geword het. Ons is oortuig daarvan dat as ons die boorgatwater laat toets, dit ‘n stink storie sal vertel,” sê Lucia.

Rioolwater loop langs Achillesweg af
Foto’s: Annemarie de Villiers

Toiletpapier
Volgens Lucia was daar by Luberon se hek, ongeveer 500 meter bokant hulle eie rioolstelsel se uitlaat, toiletpapier in die stormwater. Sy sê dat dit vanaf Olympus Heights se riool-oorloop af kom en met die stormwatersloot tot laer afgevoer is.

Klaarblyklik vererger die stormwaterpyp wat Olympus Heights ingesit het die toestand omdat dit die vrot water vinniger afstoot en Achillesweg vernietig, sê Lucia.

Sy sê dat die storting ‘n geweldige waterlas in die damme op hulle plot veroorsaak, wat dan in die Zwavelpoortspruit oorloop.

“Ons eie damme het die afgelope vier maande ‘n bruin opdrifsel van ongeveer 1–2 cm diep. Dit is my beskeie mening dat die storting totaal en al onaanvaarbaar is omdat dit ons gesondheid beïnvloed.”


Die rioolwater waar dit naby die buurplotte van Lucia Nagel en Danie Benadie se boorgate, uitkom
Foto: Lucia Nagel

Storm
Ná die reënstorm van Sondagaand 9 Februarie het die probleem drasties vererger. Op Maandagoggend 10 Februarie het Lucia dringende boodskappe aan die metroraad gestuur. Sy het gesê dat sy in ‘n modderige gemors sit, dat die strukture van haar geboue beskadig word en dat die water deur mure en vloere sypel.

Lucia het Olympus Heights se bestuurder, Phillip Pretorius, gebel en hy het vir haar gesê dat die metroraad die rioolprojek afgeteken het. Blykbaar het Ferdinand Meyer, die siviele ingenieur, net gedoen wat die metroraad vir hom gesê het om te doen, wat beteken dat die gemors nie Olympus Heights se probleem is nie.

Lucia het in ‘n brief aan Gawie Jansen van Vuuren, hoofingenieur van die metroraad se geïntegreerde stormwater beplanningsafdeling, gedreig dat sy regstappe teen die metroraad en die landgoedontwikkelings sal neem as die situasie nie binne 30 dae aandag kry nie.

Gawie het dieselfde dag sy antwoord aan Die Bronberger gestuur en gesê dat die stormwaterprobleem in Achillesweg dringend ondersoek sal word. Hy het gesê dat ‘n vergadering tussen verteenwoordigers van alle betrokke afdelings in die vervoerafdeling van Streek Ses op 11 Februarie sou vergader en dat hy so gou as moontlik daarna terugvoer oor moontlike oplossings vir die probleem sal gee.


Skuimbolle op die rioolwater
Foto: Lucia Nagel

 

© 2019 Die/The Bronberger