‘n Heel aangename kuier op Rayton PDF Print E-mail
News - Vreethans
Thursday, 27 February 2014 21:42
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

In die meer onlangse verlede was my ervaring van kuierplekke op Rayton van ‘n minder aangename aard, maar toe val ons op ‘n mooi Saterdag in Februarie by die dorpie se Coffee Café in.

Wat ons ervaar het was veel meer as ‘n koek-en-koffie-kêffie: Dit is ‘n netjiese kuierplekkie met ‘n billike spyskaart, vriendelike personeel en geregte wat darem verbeelding verg en met vernuf en sorg voorberei word.


‘n Reggedoende salm onder kruiemosterd

Jy kan buite op die onderdakstoep plaasneem, of in die gerieflike binnekamer, wat ook as ‘n kunsgalery diens doen. Plaaslike kunstenaars se werke pronk teen die baksteenmure. ‘n Paar diep gemakstoele en keurige tafeltjies met aansitstoele voltooi die binnewerke se dekor.

Ons loop sit op die stewige, plastiese stoepstoele omdat hier ‘n welkome windjie stu, om die hetige somerson te versmaai. Die filtreerkoffie wat vriendelike kelnerin aanbring, geval ons.

Ek begin deur die spyskaart blaai en kan nie help om te wonder watter persentasie van dié Rayton-plek se klante het Ingels as moedertaal nie.


‘n Stewige suurlemoen-hoenderpasta

Coffee Café is duidelik groot op ontbyt. Die vlagskip noem hulle ‘n ‘farmer’s breakfast’ en dit weeg in teen R60. Ek vermoed dis eerder ‘n boere-ontbyt as ‘n plaasontbyt omdat ‘boerewors’ ondermeer op die bord belowe word. Dit, saam met ‘n frankfurter of maalvleis, ontbytspek, sampioene, tjips, braaitamatie, roosterbrood en twee eiers.

Pangebraaide sampioene op plaasbrood (‘farm style’) saam met geposjeerde eiers en ‘n hollandaise-sous op groenigheid is een van die dertienstuks verbeeldingryke ontbytkeuses wat my oog vang. Dit sluit nie die verskeidenheid omelette, wat met vier eiers aanmekaargedoen word, in nie. Die een met kaas kos R30 en jy kry daarmee saam roosterbrood, konfyt, kaas en slaai. Klink na ‘n winskoop vir my.

Ligte etes sluit die quiche ‘of the day’ (dis ‘n souttert, oom Buks) en ‘n schnitzel van hoender of bees in. Die souttert kos R35 en die schnitzel kom saam met ‘n slaai en skyfies en ‘n sousie van sampioen of kaas teen R65.


Die binnewerke van Coffee Café dien ook as ‘n kunsgalery

Ek is bly om Bobotie en rys by die ligte etes te sien. Saam met groente kos dit R70 en dis presies waarvoor ek lus het. Groot was my teleurstelling later toe vriendelike kelnerin my meedeel dat die bobotie ‘uitverkoop’ is.

Maar terug na die spyskaart: Daar is ‘n goeie verskeidenheid roosterbroodjies en ‘n hamburger wat met 100% beesmaal van 200 g gemaak word. Die burger lyk belowend met ‘mayo-mosterd’, tamatie, gekarameliseerde uie, kaas en piekels en kos R45. Die hoenderburger is R5 goedkoper. Jy kan jou burger ook met verskillende souse aanvul, sou jy wou.

Slaaie met garnaal en avo, braaihoender, beeshaas (fillet, Steve) en aarbeie en baba spinasie lyk na ‘n goeie maal vir ‘n warm dag. Dit kos tussen R45 en R60.

Metgesel kies uit die afdeling vir pasta ‘n suurlemoen-hoender met sampioene, oondgebraaide pepers, room, tiemie, knoffel, witwyn en parmesan en Metgesel meen dit is perfek voorberei en komende van ‘n pastakenner, soos wat sy is, glo ek haar, al geval die gryskleurigheid van die gereg my nie. Die pasta, gedoen met tagliatelle, kos R55.


Die kuierplek se ‘Wit Stoep’.

Onder die hofie, ‘Today’s Menu’, is drie snitte van biefstuk, fillet, kruisskyf (rump), en T-been en stokvis of ‘lynvis van die dag’. Ek vra vir vriendelike kelnerin wat die lynvis van die dag is en sy sê sy het geen idee nie, maar sy sal gou loop uitvind.

Intussen neem twee ‘locals’ naby ons plaas en die een ou wil dadelik weet of hulle dan nog nie ‘n ‘doplisensie’ het nie. Hy is welkom om sy eie saam te bring, deel eienaar/bestuurder hom mee. Die bottelstoor is net oorkant die pad, sê sy.

Kelnerin is vinnig terug en sy sê die lynvis van die dag is salm. Ek is partydig vir salm, maar dis nie almal wat hom reg kan gaardoen nie. Coffee Café se sjef kan.

‘n Pikante kruie- en saadmosterdsousie is saam met die salm en die wit rys korrelrig en reg. Ek kry ook ‘n stewige slaai daarmee saam. Dit kos R70.

Ons het dalk net ‘n bietjie te lank vir ons geregte gewag, maar dit bevestig dat die disse van meet af aan voorberei word en nie ‘n mikrogolf-ontdooide gedoente is nie. Ek verkies dit so.

Ons het lekker gekuier op Coffee Café se stoep en ons het lekker geëet. Die kuierplekkie is agter die Pik&Petaal langs Creative Art & Décor. Jy kan hulle bel by 082-694-4873 of
082-450-5918.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online