Haakneus messel haarself toe PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 27 February 2014 23:34
Untitled Document

Watter soort wyfie plaas soveel vertroue in haar mannetjie se voer-vermoë dat sy haarself in haar nes toemessel en daarna al haar vlugvere gelyk verloor? As iets met die mannetjie gebeur sal sy nie self kos kan soek nie, al breek sy by die nes uit.

Dit is die grysneushoringvoël-wyfie wat haarself in so ‘n benarde posisie plaas. Bykans alle voëls verveer jaarliks, maar hulle vere word vervang soos hulle dit verloor en hulle behou die vermoë om te vlieg. Interessant genoeg verveer die grysneushoringvoël-wyfie geleidelik, soos alle ander voëls, as sy nie broei nie.


‘n Grysneushoringvoël-mannetjie
Foto: Bronberg Bewarea

Eiers
Die wyfie lê twee tot vier eiers ná die eerste goeie somerreën, gewoonlik van Oktober tot November. Sy kies meestal ‘n natuurlike holte in ‘n boomstam of -tak om as nessie te dien, maar kan ook in rotsskeure of in gate wat deur ander voëls gemaak is, broei. Dié gat word deur die wyfie van binne af deur ‘n soort sement wat deur modder, voëlmis en vrugtemoes gemaak word, toegemessel. Daar is slegs ‘n nou gleuf na buite waardeur die mannetjie kos vir die wyfie en kleintjies aangee.

Die wyfie lê nie al die eiers gelyk nie, en dit vat so ses tot tien dae om almal te lê. Sy broei die eiers binne 24 dae uit en die kuikens bly in die nes vir 43-49 dae. Die wyfie verlaat die nes wanneer die oudste kuiken 19-34 dae oud is en die kuikens seël die opening weer van binne af. Daarná voer beide mannetjie en wyfie die kuikens.

Grys
Grysneushoringvoëls, Tockus nasutus, is teen 43-48 cm kleiner as die ander neushoringvoëls. Hulle is hoofsaaklik grys en die kop, vliegvere en lang stert is ‘n bietjie donkerder grys. Daar is ‘n wit lyn aan beide kante van die kop en een op die rug, wat net sigbaar is in vlug.

Die mannetjies en wyfies lyk eenders, maar die mannetjie word aan sy kleinerige, donker snawel uitgeken. Die wyfie het ‘n rooi snawelpunt en ‘n kleiner snawelrif wat, soos die bo-mandibel, roomkleurig is. Onvolwasse voëls het bruiner koppe en onduidelike wenkbroue.


‘n Wyfie en kuikens in die nes toegemessel. Dit lyk of dié wyfie nog nie haar vlugvere verloor het nie
Foto: safari-ecology.blogspot

Prooi
Die grysneushoringvoël is grootliks boomlewend, maar sal ook prooi op die grond soek. Hy is ‘n omnivoor en vreet insekte, knaagdiere, paddas, reptiele en vrugte.

Sy vlugpatroon is golwend, met stygende en dalende patrone.

Dié voëls kom in pare voor, behalwe in die winter, wanneer hulle in swerms van tot 30 voëls in droë gemengde bosveld, doringveld en savanne, saamdrom.

Wanneer hy sy roepgeluid maak, gooi die grysneushoringvoël sy snawel omhoog en uiter ‘n reeks yl, klaende fluite wat hoër en laer beweeg in ‘n ‘piee-o, piee-o, piee-o’ roep.

 

© 2019 Die/The Bronberger