Lekkerste vrugte groei op Bronbergrif Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 27 February 2014 23:34
Untitled Document

Die moepel se vrugte is só ‘n groot gunsteling onder ape en bobbejane dat sy botaniese naam, Mimusops zeyheri, selfs na ape verwys. Die naam is afgelei van die Griekse woord mimo wat aap beteken en ops wat lyk-soos-‘n-aap beteken.

Die moepel kom uit ‘n genus, Mimusops, wat deel is van ‘n groot familie bome waaruit melksap (beter bekend in Engels as ‘latex’) verkry word. Die boom reken daarop dat diere sy vrugte sal vreet en dit dalk ver genoeg van die boom sal wegdra vir effektiewe saadverspreiding. Die moepel se saadverspreiding is aanvanklik wetenskaplik bestudeer deur ‘n Duitse botanikus en versamelaar van plante in Suid-Afrika, genaamd CLP Zeyher wat van 1799 tot 1858 gelewe het. Dit is hoekom die zeyheri-deel van die boom se naam na dié Duitser verwys.


‘n Moepelboom

Web
Sekere soorte skoenlappers broei spesifiek op moepelbome en sekere ruspes spin ‘n web rondom die moepel se takke in die herfs. Hulle verorber dan die blare wat so toegespin is en kan selfs ‘n hele boom van sy blare beroof.

Die moepel kom natuurlik voor op rotsagtige koppies, beboste heuwels, rivierbeddings en op die randjie van woude asook in droër bosveldgebiede. Hy hou van ‘n somerreënvalgebied waar dit so min as moontlik ryp.

Dié immergroen boom het ‘n geronde kroon wat onder ideale omstandighede tot 15 meter hoog kan word. Hy kom egter meestal voor as ‘n struik of klein boompie behalwe in beskermde valleie en op die randjies van woude waar daar baie vogtigheid in die lug is.

Sy blare is glansagtig en donkergroen en die boom maak goeie skaduwee. Die punte van nuwe takkies en jong blare is bedek met roesbruin haartjies wat die boomtop ‘n bruin skynsel gee.

Die moepel dra klein wit blommetjies met ‘n heerlike soet reuk van Oktober tot Februarie. Die vrugte is ovaalvormig met ‘n punt en word geel of oranje as dit ryp is van April tot September.

Skaduboom
Die moepel is ‘n ideale skaduboom in ‘n tuin omdat hy so ‘n wye kroon het en immergroen is. Sy wortelsisteem is van so ‘n aard dat dit veilig is om hom naby ‘n swembad, huis of geplaveide stroke te plant. Die moepel is ook baie gewild as ‘n bonsai boom.

Dit is relatief maklik om ‘n moepel van saad te groei. Vir die beste resultate moet die saad uit die vrug verwyder word. Die plantjie sal binne twee weke begin ontkiem en die saailinge kan in saailingbakke gehou word tot die volgende lente.

Die saailinge groei vinnig en die boompies kan binne drie tot vier jaar ‘n meter of hoër word en uitgeplant word. In hoër-liggende dele moet die klein boompies vir die eerste drie jaar teen ryp beskerm word.

 

© 2020 Die/The Bronberger