Poortjiestraat was ’n stofpaadjie
aan die buitewyke van die
Transvaalse dorpie waar my
ouma Anne gebly het. My ouma
Anne wat kon ‘sien’. “Met die
helm gebore,” het ek die grootmense
soms hoor sê.
Die rooibaksteen-huisie was perfek
vierkantig met ’n rooi sinkdak en ’n
rooi Cobra-gepoetste stoep waar
varings in verfblikke weerskante
van die stoeptrappies waggestaan
het. Hier het my ouma sedert my
oupa Boy se oorlye alleen gebly, ’n
weduwee reeds van voor my
geboorte af.
Jy het deur die silwergeverfde tuinhekkie
geloop, met ’n reguit tuinpaadjie
af. Weerskante van die
paadjie is lang, smal blombeddings
met bakstene afgebaken. Die bakstene
is skeef, teen ’n hoek van
45 grade staangemaak – die een
dié kant toe en die volgende een
weer anderkant toe sodat hulle ’n
driehoekpatroon vorm – soos op’n draak se rug.
In die beddings het leeubekkies en
gesiggies geblom. ’n Lappie leeubekkies
en dan weer ’n entjie se
gesiggies en dan weer leeubekkies,
al die pad langs die paadjie af. Die
grond in die beddings is nog klam
van gister se leibeurt. Jy kan dit
ruik.
As jy so halfpad met die tuinpaadjie
af is, kom ouma Anne by die
oop voordeur uit en gaan staan
met haar vuiste op haar heupe op
die stoep om ons in te wag. Sy het
haar blommetjies-voorskoot aan.
Aan haar voete is ’n paar breedgetrapte,
bruin pantoffels.
“Verskoon tog die ou pantoffels,
maar die liddorings . . .” ’n Paar
grys hare het uit die stywe bolla op
haar kop ontsnap en hang langs
haar slape af. “My aaaarde,” sê sy,“ek dag julle kom nooit aan nie.”
My ouma noem ons almal “my
kind” as ons om die beurt gesoengroet
word. My pa, die oudste van
haar sewe kinders: “Hoe gaan dit,
my kind?” Dan my ma: “Welkom,
my kind.” En dan ons drie kinders:“Aarde, kyk net hoe het jy gerek,
my kind.”
Binne staan die koffie en beskuit,
vir die grootmense, en aanmaakkoeldrank
en koekies, vir die kinders,
reeds reg. Die geur van kookkos
dryf van die kombuis af die
voorkamer binne.
Nuus word uitgeruil. Ouma Anne
vertel breedvoerig van al my ooms
en tannies en niggies en nefies se
siektes, skete en kwale. As my ma
vra na my ouma se gesondheid,
antwoord sy: “Nee wat, my kind,
soos dit maar met ’n ou mens
gaan . . .”
Ons staan nader vir middagete.
Die groot greinhouttafel is netjies
gedek – vir sewe mense. Ons is
net ses. “Hoekom die ekstra plek,
ma?” vra my pa. “Verwag ma dan
iemand?”
My ouma antwoord met ’n glimlag
dat ’n mens “nooit weet nie”. Dan
dra sy en my ma die bakke van die
kombuis af nader; skaapboud en
gebakte aartappels, ’n bruingebakte
skrophoender wat ouma self
geslag het, groenboontjies, blomkool
met witsous, stampmielies en
pampoenkoekies. Vir later is daar
doekpoeding met vla. Ouma Anne
was reeds van voordag af doenig
voor die ou Aga stoof.
Die kos is heerlik. Almal eet met
genoegdoening. Dan verbreek my
ouma die stilte: “Kan julle dit
darem inkry?” wil sy weet, en sy
kry die welverdiende komplimente
waarna sy gesmag het.
’n Rukkie later hoor ons ’n motor
in Poortjiestraat stilhou. Die tuinhekkie
gaan met ’n uitgerekte“pieeep” oop en weer met ’n“peeeip” toe. Iemand kom by die
voordeur in. Dis my oom Gawie
wat deesdae in Durban bly.“Jammer dat ek sommer so hier
inval sonder om te gelaat weet
het,” sê oom Gawie met die groet
saam.
“Toemaar, my kind,” sê my ouma
Anne. “Kom sit gerus. Ek gaan haal
net gou die bord kos wat ek vir
jou uitgeskep het, uit die lou-oond
uit . . .”. |