Rehabilitasieplek besoedel die Elandsrivier PDF Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 27 February 2014 23:19
Untitled Document

Die Elandsrivier is met rou riool besoedel. Dié rivier voorsien vele wildtuine en vakansie-oorde tussen Cullinan en Rust der Winterdam van water.

Danie Erasmus, deur wie se grond dié rivier vloei, sê dat daar sedert die winter skuimbolle dryf en dat die plantegroei begin vrek het. Sy bure, Chris Botha en Johan Roux, het menslike afval in die rivier opgemerk.

Dié boere het ‘n kopie van ‘n verslag oor die rivierwater, wat op 22 Julie 2013 uitgereik is, bekom. Die verslag sê duidelik dat die “faecal coliform per 100 ml” ‘TNTC’ is (wat “Too Numerous To Count” beteken).


Ribeiro Pompstasie net ná die winter

Danie sê dat die Department van Waterwese op 8 Augustus 2013 in ‘n skrywe ontken het dat dié gevaarlike bakterieë in die watermonster teenwoordig was.

Die boere het begin soek na die oorsaak van die besoedeling en het sowat ses maande gelede agtergekom dat ‘n pyp direk langs die rivier, op die plaas Magaliesoord, gebars het. Die plaas behoort aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, en die Dr Fabian en Florence Ribeiro rehabilitasiesentrum is daar gevestig. Die sentrum bestaan uit drie afdelings, Protem, Elandia en Erika.

Op dié plaas is daar modderslote gemaak sodat water wat uit die pyp gelek het, kan wegvloei. Wat eienaardig is, is dat die pyp ‘n waterpyp is en nie ‘n rioolpyp nie. Waar kom die besoedeling dan vandaan?


Vloei-verandering

Pyplyn
Danie sê dat Rayton se rioolwerke gesuiwerde water stort, wat die Elandsrivier se vloei versterk. Hy sê die Cullinan-myn se water kom met ‘n pyplyn van die Wilgerivier. In die sestigerjare is ‘n tweede lyn gelê om die vorige lyn te vervang. In 2004 het Magalies Water ‘n pyplyn van die Baviaanspoort suiweringswerke oor Magaliesoord na Rethabiseng gelê. Daar sluit die pyplyn aan by die pyplyn wat vanaf die Bronkhorstspruitdam na Ekangala en Ekandustria vloei. Dié pyp is in aller haas gelê nadat die Bronkhorstspruitdam opgedroog het.

Zonderwater Korrektiewe Fasiliteit het sy eie riool-suiweringswerke. Die gesuiwerde water loop in damme in en van daar af met ‘n spruit verby die Ribeiro-pompstasie tot in die Elandsrivier.

Lugfoto’s van 1939 wys dat dié spruit in die aangrensende plaas oorgeloop het. Die spruit se vloei is egter verander en Danie, wie se grond aan Magaliesoord grens, sê die spruitjie wat verlê is se oorspronklike vloei is duidelik sigbaar op sy eiendom. Hy vermoed dat die departement die spruit onwettig verlê het om op hulle grond in die Elandsrivier in te loop.


Die verwaarloosde toerusting einde Januarie

Pompstasie
Die Ribeiro sentrum het ‘n klein pompstasie wat die riool na Zonderwater se rioolwerke moet pomp, wat dit dan namens Ribeiro suiwer. Danie sê dat dié stasie reeds vir maande buite werking is.

Deel van die ysterpalissade om die geboutjie is gesteel. Die gebou staan wawyd oop en is ‘n gevaar vir mense wat aan 380 V krag blootgestel word. Die bystand-kragopwekker se omheining is weggedra en die hekke staan wawyd oop.

Danie sê afgesien daarvan is daar langs sy gemeenskaplike grens met Magaliesoord ‘n onwettige stortingsterrein, 150 meter vanaf die Elandsrivier. Dié terrein word met vullis, chemikalie, dooie hoenders, ou motorolie-filters, frieskoeihuide, afval en koppe gevul.

Plastiese sakke waai Danie se beeskampe kampe vol en hy het tien beeste in die laaste agt jaar verloor.


Opdrifsels in die Elandsrivier
Foto’s: Danie Erasmus

Duur
Hy is nou verplig om sy waterpype te verleng vir wanneer sy beeste in die kampe aangrensend aan die rivier wei. Dit gaan hom ook onnodige kostes uit die sak jaag om die drade te span om die diere van die rivier af weg te hou. Dit is ‘n duur manier, want jaarliks aan die einde van Januarie veroorsaak oorstromings dat die heinings ontruk word en die pale en draad stroomaf dryf.

“Die staat maak wette oor besoedeling en skryf voor dat strome nie opgedam of verlê mag word nie, maar as dit by die Elandsrivier kom, is die staat die hoof-oortreder op sy eie grond,” sê Danie.

 

© 2019 Die/The Bronberger